Energie

Sputla se plan met kragpryse is propvol gate

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, se planne om die beplande reuse-verhoging in kragpryse te beveg, kan gou die wind van voor kry.

So waarsku kenners nadat Ramokgopa die afgelope week belowe het die regering sal 'n verhoging van enigiets bo 20% teenstaan. Dít terwyl Eskom vra vir 36% meer van 1 April volgende jaar.

Ramokgopa het min ruimte om die styging te beperk. Die omgewingsheffing en koolstofbelasting is al waaroor die regering werklik beheer het en om dit te verminder, sal hy eers vir Enoch Godongwana, minister van finansies, moet oortuig.

Selfs al kry hy dít reg voordat Nersa op 20 Desember sy besluit aankondig, sal dit slegs drie persentasiepunte verskil maak.

Verder moet Ramokgopa sy woorde tel, want enige indruk dat hy as politikus inmeng by die energiereguleerder Nersa se taak om kragtariewe vas te stel, kan die wettigheid van die besluit in die gedrang bring.

Eskom se aansoek is tans voor Nersa, wat dit kragtens 'n streng voorgeskrewe proses moet beoordeel. Nersa het reeds die aansoek vir kommentaar gepubliseer en is van plan om ook in elke provinsie 'n openbare sitting daaroor te hou alvorens hy sy besluit finaliseer.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit. Foto: Gallo Images
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit. Foto: Gallo Images

Daar is reeds wyd teenstand teen Eskom se aansoek en dit is selfs in die parlement gedebatteer waar partye dit oor die hele spektrum heen gekritiseer het.

Daar is kommer dat 'n groot verhoging in kragtariewe die vordering wat gemaak is om inflasie in bedwang te kry, kan teenwerk.

In Augustus was die inflasiekoers maar 4,4% en dít het die Reserwebank die ruimte gegee om te begin om rentekoerse te verlaag.

Die verhogings wat Eskom vir die 2027- en 2028-boekjaar voorstel, is ook ver bo inflasie, naamlik 11,8% meer vir 2026-'27 en 9,1% meer vir die volgende geldjaar.

Die onlangse rentekoersverlaging van 0,25% word algemeen beskou as die eerste van minstens vier dalings, maar 'n skerp styging in kragtariewe kan 'n stok in die wiel steek en veroorsaak dat rentekoerse langer hoog bly.

Deon Conradie, deeltydse dosent in tariewe by Wits se sakeskool, wys daarop dat die hof dit in uitsprake oor vroeëre Nersa-besluite baie duidelik gemaak het dat die reguleerder die enigste is wat 'n sê het oor Eskom se tariewe.

Kragtens wet moet Nersa Eskom toelaat om die koste wat hy aangaan om krag te lewer, mits dit doeltreffend aangegaan is, plus 'n redelike marge deur kragtariewe van verbruikers te verhaal. Dié marge behoort in pas te wees met die koste wat Eskom aangaan om geld te leen, tans sowat 10,8%. Conradie sê die enigste items waaroor die regering 'n sê het, is die omgewingsheffing en koolstofbelasting wat op kragtariewe geld. Eskom vra R6,5 miljard vir die omgewingsheffing en R5,5 miljard vir koolstofbelasting in 2025-'26 wat tans ingefaseer word.

Die omgewingsheffing is 'n belasting wat al verskeie jare gehef word op die verkoop van elektrisiteit wat deur niehernubare bronne soos steenkool opgewek word.

Die koolstofbelasting word ingefaseer om van Suid-Afrika se omgewingsverpligtinge na te kom en is nog ver onder wat die Wêreldbank vereis, berig Bloomberg.

Saam is die twee 'n skrale R12 miljard uit die R445,5 miljard se totale inkomste waarvoor die kragreus vir die volgende boekjaar vra.

As Ramokgopa wel daarin slaag om die twee items van Eskom se faktuur aan die verbruiker te verwyder, sal dit maar drie persentasiepunte van die 36%-verhoging verwyder.

Onder die res van die items waaroor Nersa moet besluit, is die grootste die marge, ook genoem Eskom se opbrengs op kapitaal, primêre energie, wat steenkool en diesel insluit, kragaankope van onafhanklike kragverskaffers, wat meestal groenkrag is, bedryfskoste wat salarisse insluit en depresiasie.

Nersa sal drie maatstawwe gebruik: Of die koste doeltreffend aangegaan is; dat die bates op grond waarvan die opbrengs bereken word, gebruik word en bruikbaar is; en dat dit wat Eskom ook eis goed gespesifiseer en meetbaar is.

Die reguleerder behoort dus nie vir Eskom toe te laat om kostes in te sluit wat verband hou met korrupsie nie, en kragstasies wat in onbruik is se uitgawes word uitgesluit. Verder moet die kragreus baie spesifiek wees oor waarvoor hy eis en Nersa moet kan meet of dié aansprake korrek is.

Conradie waarsku teen politieke inmenging in dié proses. Hy sê as die indruk gewek word dat Nersa van die voorgeskrewe proses afgewyk het of nie onafhanklik opgetree het in sy besluitneming nie, kan die besluit op hersiening geneem word in die hof.

Altesame R15 miljard van die R445 miljard wat Eskom vra, is juis van 'n vorige hofuitspraak dat Nersa van die voorgeskrewe metodologie afgewyk en Eskom te snoep behandel het.

Volgens Conradie het politieke inmenging tydens die Jacob Zuma-presidentskap daartoe gelei dat Eskom se tariefverhoging vir 2012-'13 van die aanvanklike 25% wat Nersa toegestaan het, beperk is tot 16%.

Daarna het Nersa ook onder politieke druk geswig en vir die volgende vyf jaar verhogings van 8% per jaar aan Eskom toegestaan pleks van die 16% waarvoor Eskom gevra het.

Die groep vir energie-intensiewe verbruikers (EIUG) en die nasionale tesourie was dit eens dat dit te min was om Eskom se volhoubaarheid te verseker. Dit het Eskom gelaat met 'n tekort van R225 miljard en hy moes dié geld gaan leen.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM