Die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) het homself onder sy nuwe leierskap reggeruk sedert 'n nuwe direksie in 2020 aangestel is.
Dave Nicholls, voorsitter van Necsa, het Woensdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie gesê die entiteit verwag groei in die komende jare, selfs met die besnoeiings aan sy begroting wat verwag word.
Necsa is 'n staatsinstelling wat kerntegnologie gebruik om radio-isotope vir mediese gebruik te vervaardig by sy filiaal NTP. Sy ander filiaal is Pelchem.
Necsa bedryf ook die Safari-navorsingsreaktor by Pelindaba in Noordwes.
Necsa wil betrokke raak by die regering se planne om nuwe kernkrag te bou, veral wat klein modulêre reaktors betref, in samewerking met Eskom, het Loyiso Tyabashe, uitvoerende hoof van Necsa, aan die komitee gesê.
Necsa het daarin geslaag om sy verlies van R318 miljoen in die 2020-'21-boekjaar te verklein tot 'n verlies van R30,6 miljoen in die 2021-'22-boekjaar.
'n Wins van R148 miljoen is in die 2022-'23-boekjaar behaal, wat in die afgelope boekjaar tot einde Maart tot R149 miljoen gegroei het.
Tot dusver in die lopende boekjaar is 'n wins van R13,83 miljoen in die tydperk tot einde Julie behaal, blyk uit die Necsa-voorlegging aan die komitee.
Te midde van besnoeiings word gemik na 'n wins van R42,5 miljoen in die lopende boekjaar, wat styg tot R65 miljoen, R93 miljoen en R110 miljoen in die daaropvolgende boekjare.
Sy chemiese afdeling, Pelchem, wat fluoor-chemikalieë vervaardig en uitvoer, ly nog 'n verlies. Pelchem lewer 14 verskillende produkte wat hy na meer as 25 lande uitvoer.
Necsa het sedert 2020 ook hard gewerk om sy oudits te verbeter, sê Tyabashe. In die 2020-'21-boekjaar het net NTP Radioisotopes en Gammatec skoon oudits gehad van al die filiale van Necsa. Daar was afwysende menings oor sowel Necsa oorhoofs as Pelchem, met 'n gekwalifiseerde mening oor AEC Amersham, en 'n ongekwalifiseerde mening met bevindings vir NTP Logistics.
Oor die volgende paar boekjare het die entiteit sy ouditresultate sodanig verbeter dat twee afdelings, NTP Radioisotopes en NTP Logistics, nou skoon oudits het, met al die ander wat 'n ongekwalifiseerde ouditmening het met 'n paar bevindings.
Volgens Tyabashe mik Necsa om die risiko van dalende staatstoekennings oor die komende jare weens begrotingsbesnoeiings deur die nasionale tesourie teen te werk deur diversifisering om sy inkomstebronne en winsgewendheid te verbeter.
Kernreguleerder
Die Nasionale Kernreguleerder (NKR) het die komitee ingelig dat die regering se toekenning aan hom met R14 miljoen verlaag is oor die komende drie boekjare weens die algemene besnoeiings aan begrotings deur die nasionale tesourie. Die staatstoekennings verteenwoordig egter net 14% van die NKR se totale inkomste en bedra tans sowat R44 miljoen.
Die NKR se hoofinkomste is goedkeuringstariewe vir kernbedrywighede. Die goedkeuringstariewe sorg vir 86% van sy vooruitgeskatte inkomste vir die boekjaar.
Die NKR se kapitaalbesteding het toegeneem omdat hy 'n Kaapse kantoor bou, het die reguleerder aan die komitee gesê.
Die NKR het 'n begroting van R376 miljoen vir die lopende boekjaar, en hy verwag sy inkomste sal met 1,5% daal.

Kernafvalbestuur
Dorah Modise, voorsitter van die Nasionale Instituut vir Radioaktiewe-afvalbestuur (NRWDI), het aan die komitee verduidelik haar entiteit is die jongste van die drie kern-entiteite van die staat. Daar was leierskapsonstabiliteit by die NRWDI en die topbestuur is verander, het Modise gesê.
Die NRWDI is nog nie gereed om die lisensie oor te neem van Necsa om die Vaalputs-kernafvalbergingsterrein in die Noord-Kaap te bedryf nie, het Modise erken.
Die entiteit is egter op koers om die nodige vaardighede en korporatiewe bestuur in plek te kry om wel die lisensie oor te neem soos beplan.
Alan Carolissen, waarnemende uitvoerende hoof van die NRWDI, sê die entiteit wil al in die lopende boekjaar die lisensie oorneem, en mik ook om teen 2030 'n gesentraliseerde tussentydse bogrondse bergingsfasiliteit vir gebruikte kernbrandstof te bou.
Dit is om die gebruikte kernbrandstof veilig te berg wat deur die Koeberg-kernkragstasie en enige nuwe kernkragstasies gegenereer sal word.
Die NRWDI gaan Eskom ook help om die verouderde toerusting wat verwyder is in die projek om Koeberg se leeftyd met nog 20 jaar te verleng, behoorlik en veilig te berg, het Carolissen gesê. Dit sluit in die groot komponente soos die ou stoomgenerators wat vervang is.
Justin Daniel, die NRWDI se finansiële hoof, sê die instituut ontvang tans al sy inkomste as 'n toekenning van die staat, maar sal sy eie inkomste kan genereer as hy eers die Vaalputs-lisensie het.
Daniel verwag sy inkomste sal oor die komende drie jaar van R52 miljoen in 2025-'26 tot R57 miljoen in 2027-'28 groei.
As die NRWDI die Vaalputs-lisensie kry, sal hy inkomste kan genereer in afvalbestuursgelde van veral Eskom en Necsa.




















