Net een uit elke drie volwassenes in die land het 'n vorm van pensioen, het die vakbondfederasie Fedusa onlangs aan 'n parlementêre komitee gesê.
Volgens Theoniel McDonald, visepresident van die Vereniging vir Finansiële Tussengangers (FIA) en besturende direkteur van Wealth Associates Central, dui dié syfers op 'n gebrekkige begrip oor wat finansiële beplanning en spaar vir aftrede behels.

Baie mense glo verkeerdelik dit gaan net daaroor om seker te maak jy het 'n pot geld vir wanneer jy aftree.
"Beplanning, spaar en belegging vir jou finansiële welstand moet deel wees van 'n holistiese, lewenslange reis in finansiële beplanning en spaar.
"Die reis bestaan uit drie belangrike fases, wat met mekaar verbind is. As jy nie die drie fases behoorlik verstaan nie, kan dit jou duur te staan kom," waarsku McDonald.
Baie kliënte kry die idee 'n finansiële tussenganger wil bloot 'n polis of produk aan hom/haar verkoop.
Dit skaad vertroue tussen die twee partye en lei tot swak risikobestuur, onvoldoende spaar, slegte beleggings en uiteindelik kan die kliënt nie gemaklik aftree nie, verduidelik McDonald.
Die drie lewensfases wat jou finansiële beplanning rig, is:
Risikobestuur: Die fase word dikwels beskou as die taamlik morbiede noodsaaklikheid om sekere produkte te koop wat verskeie risiko's dek.
Dit begin wanneer jy begin geld verdien: jy stel 'n begroting op, sluit aan by 'n mediese fonds, koop lewens- en korttermynversekering, stel 'n testament op, spaar vir noodgevalle en oorweeg trust- of maatskappystrukture.
Tussengangers wat jou met elk van dié komponente help, sluit gewoonlik in 'n spesialis oor mediese fondse, 'n finansiële beplanner, 'n korttermynversekeringsmakelaar, 'n boekhouer en 'n prokureur.
"Hoewel tussengangers dikwels in meer as een van dié kategorieë werk, sal spesialisasie in 'n bepaalde veld verseker jy kry toegang tot die gespesialiseerde inligting wat jy nodig het. Tog kan 'n multidissiplinêre adviseur kliënte met basiese behoeftes goed bystaan."
Welvaartskepping: Sodra jy verskeie risiko's gedek het, kan jy begin spaar vir spesifieke behoeftes en kapitaal opbou vir wanneer jy aftree, verduidelik McDonald. Dié fase gaan oor medium- en langtermynspaarplanne, wat die begin is van 'n beleggingsreis.
Spaargeld vir die mediumtermyn is tipies vir 'n deposito vir 'n eiendom of voertuig, of 'n oorsese vakansie. Produkte hiervoor sluit in 'n geldmarkfonds, uitkeerpolis, of effektetrustfonds. As jy reeds 'n verbandlening het, kan dit as spaarrekening gebruik word omdat enige bykomende betalings beteken jy betaal minder rente.
Op lang termyn is beleggingsopsies soos 'n aandeleportefeulje, belastingvrye spaarrekeninge, eiendom, 'n aftreefonds en aftree-annuïteite geskik, sê McDonald.
Hou in gedagte dat sommige langtermyn-beleggingsopsies wisselvallig is en vir die lang duur bedoel is.
'n Gediversifiseerde portefeulje met blootstelling aan verskeie bateklasse is belangrik. Vergewis jou ook van die belastingimplikasies van elke belegging.
Aftrede: In die finale fase van jou finansiële reis dra jy waarskynlik nie meer by tot aftrede nie, maar kry jy die beloning van goeie finansiële planne in die vorige twee fases.
McDonald benadruk dié fase hoef nie op 60 of 65 te begin nie.
"Dit kan begin die oomblik as jy genoeg bates opgebou het wat vir jou 'n inkomste kan lewer genoeg om jou lewenskoste te dek en jaarlikse groei verseker vir verwagte groei in inkomste."
Volgens McDonald speel tussengangers 'n belangrike rol om jou verwagtinge te bestuur oor die inkomste wat jy uit jou beleggings kan kry én om te verseker die batetoewysing en mengsel van produkte is die beste vir jou omstandighede en die heersende klimaat.
Verskeie studies het al getoon kliënte met adviseurs neem minder emosionele besluite tydens onstuimigheid en verloor dus nie onnodig kapitaal nie.

















