Aftrede

GEPF-groep kry nuwe naam

Die minister van finansies vervul dié rol en moet jaarliks die AIPF se verhoging goedkeur. Foto: Pixabay
Die minister van finansies vervul dié rol en moet jaarliks die AIPF se verhoging goedkeur. Foto: Pixabay (pixabay)

Die groep pensioentrekkers wat hulle aktief beywer vir die verantwoordelike bestuur van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) is nou amptelik by die departement van maatskaplike sekerheid geregistreer as 'n organisasie sonder winsbejag.

Die groep, wat tot dusver as die GEPF Moniteringsgroep bekend gestaan het, is nou bekend as die Vereniging vir Monitering en Voorspraak van Regeringspensioene. Die organisasie verkies dat die Engelse afkorting vir Association for Monitoring and Advocacy of Government Pensions (AMAGP) gebruik word.

Volgens Errol Massey-Hicks, hoof van die organisasie, is die registrasie vertraag omdat die departement oor die vorige naam gekibbel het.

AMAGP was veral die afgelope jaar baie uitgesproke oor waarin die GEPF belê, asook oor die bestuur van staatsgeld in die algemeen. Die vrees bestaan steeds dat die GEPF ingespan word om sukkelende staatsondernemings te red.

Hoewel die GEPF 'n vastevoordelefonds is, wat beteken pensioentrekkers kry dieselfde pensioen ongeag wat die fonds se opbrengs is, kan die wanbestuur van die fonds dit onvolhoubaar maak, wat toekomstige pensioentrekkers veral swaar kan tref.

Die voorbeeld van die Transnet-vastevoordelefondse, waar baie pensioentrekkers vasbrand weens minimale jaarlikse verhogings in hul pensioen, vererger dié vrees.

Tot dusver het die GEPF staatsamptenare verseker dat hy nie sal toelaat dat hul pensioengeld as reddingsboeie gebruik sal word nie. Die GEPF se geld word deur die Openbare Beleggingskorporasie belê.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM