Goue reëls vir goeie aftrede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Baie afgetredenes onttrek ’n onvolhoubare pensioen. Foto: iStock
Baie afgetredenes onttrek ’n onvolhoubare pensioen. Foto: iStock

Beleggers moet leer om met die korttermyn-onvoorspelbaarheid en wisselvalligheid van aandelemarkte saam te leef.

Dit gebeur dan dikwels dat beleggers dink aandelemarkte is op lang termyn ook onvoorspelbaar. Dit is egter foutief. Studies dui daarop dat aandele se prestasie op die lang termyn meer voorspelbaar is en dat die wisselvalligheid van prestasie oor tyd afneem.

Aan die ander kant onderskat die meeste beleggers die vernietigende uitwerking van die inflasiemonster op koopkrag, en gevolglik die noodsaaklikheid van kapitaalgroei op lang termyn.

Die illustrasie hierby toon dat inflasierisiko met tyd eksponensieel toeneem en dat beleggingsrisiko ten opsigte van aandele afneem, wat weer die historiese waarheid beklemtoon dat aandele 'n langtermynbelegging is.

As ons na die deurlopende opbrengste (2012 tot 2023) van 'n bekende fondsbestuurder se fondse kyk, wat hoofsaaklik op grond van batesamestelling onderskei word, kan ons die volgende afleidings maak:

• 'n Hoër aandeleblootstelling lei tot 'n hoër opbrengsverspreiding.

• Die aandelefonds het die hoogste opbrengs getoon, die wydste opbrengsverspreiding gehad en het met tye op die kort termyn wesenlike verliese gely. In die beste jaar het dit 'n opbrengs van byna 63% behaal en in die slegste jaar van -23%, afgerond.

• Die konserwatiewe fonds (25% in aandele, 55% in effekte en 20% kontant) het 'n nouer opbrengsverspreiding gehad en het op kort termyn matige verliese gely. Die beste jaar het 'n sowat 21% opbrengs gehad en die slegste jaar -6%.

• Die geldmarkfonds het korttermynverliese vermy, die mees voorspelbare opbrengsverspreiding gehad, maar het ook gemiddeld die laagste opbrengs verdien, van tussen 8% en 4%.

Indien ons die een-jaarsyfers met die sewe-jaarsyfers vergelyk, wys dit dat die opbrengsverspreiding oor tyd verminder, veral wat aandele betref.

'n Uiters belangrike aspek, wat nie in die grafiek duidelik is nie, is dat die swakste jaarverlies (-23,13%) en sewejaaropbrengs (3,17%) van die aandelefonds gevolg is deur die beste jaaropbrengs (62,69%).

'n Strategie wat verhoed dat verliese tydens absolute laagtepunte gerealiseer word, kan dus ontsettend waardevol wees.

Dit is van die uiterste belang om 'n middeweg te vind tussen volatiliteit van bateklasse en kapitaalgroei, en dít geld veral vir afgetredenes wat deurlopend inkomste uit hul portefeulje onttrek.

Gulsige pensioenbeleggers kan natuurlik met 'n lewende annuïteit besluit om ten volle in aandele te belê omdat hulle redeneer hulle kan onbestendigheid in hul portefeulje hanteer.

Sulke beleggers loop dan die bekende volgorde-risiko, wat voortspruit uit gemiddelde langtermynopbrengste wat nie in 'n voorafbepaalde volgorde verdien word nie.

Onttrekkings tydens verliesperiodes kan dan beteken dat die hoër gemiddelde opbrengs nie bereik word nie, aangesien daar minder kapitaal is wat deelneem aan 'n moontlike herstel in markte.

Soos alles in die lewe, gaan dit oor balans. Om 'n balans tussen inflasie, markrisiko, verlangde toekomstige onttrekkings en die bestaan van volgorde-risiko te kry, gebruik PSG Wealth 'n beproefde "mandjie"-strategie. Dié strategie neem die volgende in ag:

• die belegger se inkomste- en likiditeitsbehoeftes, beleggingshorison en risikoprofiel;

• die risiko van verskillende bateklasse;

• diversifikasie oor verskillende bateklasse;

• die koste van produkte en fondse; en

• die belastingaspekte van verskillende produkte of strukture.

Dié aspekte word dan in 'n oplossing voorgestel met blootstelling aan verskillende sogenaamde mandjies, wat ek by 'n volgende geleentheid verder sal toelig.

• Dawid Botha is 'n portefeuljebestuurder by PSG Wealth Winelands (dawid.botha@psg.co.za). Die inligting in hierdie dokument is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig.

Dawid Botha
Dawid Botha
Dawid Botha

SPELETJIES VANDAG

CTA