Aftrede

Is 45 te laat om vir aftrede te begin spaar?

Ontleders pleit dat Tito Mboweni in die toekoms 'n "kultuur van spaar saai". Foto: istock
Ontleders pleit dat Tito Mboweni in die toekoms 'n "kultuur van spaar saai". Foto: istock

In sy eenvoudigste vorm hang spaar vir aftrede van drie faktore af: tyd, bydraes en opbrengs.

As jy op een gebied agter raak, moet jy die verskil op 'n ander gebied inhaal. Hoewel jy jou fokus tussen die drie faktore kan verskuif, kan jy nie een van hulle vir te lank afskeep nie.

Finansiële raadgewers word dikwels oor die tydsaspek uitgevra, want baie mense wil weet of dit steeds moontlik is om vir aftrede te begin spaar as jy 45 jaar oud is. En indien wel, hoe?

Hoewel dit glad nie die ideale situasie is nie, is daar nog tyd om iets te doen, solank jy verstaan hoe die drie faktore inmekaar steek.

As jy eers in jou 40's begin spaar, is daar minder tyd waarin jou geld vir jou kan werk, wat beteken jy sal die ander faktore - bydraes en opbrengs - in jou guns moet laat werk. As 'n voorbeeld, kom ons vergelyk twee beleggers wat albei in 'n uittreeannuïteit begin spaar. Albei mik daarna om op 65 jaar af te tree.

Belegger A begin op 20 jaar spaar met 'n maandelikse bydrae van R500. Sy beleggingstermyn is dus 45 jaar. Belegger B, wat eers op 35 jaar begin spaar, het 'n beleggingstermyn van 30 jaar.

Om dieselfde eindbedrag teen dieselfde opbrengs te behaal, sal B R2 500 per maand moet spaar - vyf keer meer as A.

As jy die meeste van jou "opgaarfase"-jare verloor het, sal jy baie aggressiewer moet wees oor hoeveel jy maandeliks bydra. Die ou riglyn van "spaar 10% van jou inkomste" is nié genoeg nie. Hoe meer jy spaar, hoe groter is die kans dat jy jou ideale aftreedoelwit sal haal.

'n 45-jarige wat 'n matige R2 500 per maand bydra en dit met inflasie van 6% per jaar verhoog, en hipoteties 'n opbrengs van 9% behaal, sal teen 65 jaar R2,512 miljoen gespaar hê.

As jy eers in jou 40's begin spaar, is daar minder tyd waarin jou geld vir jou kan werk, wat beteken jy sal die ander faktore - bydraes en opbrengs - in jou guns moet laat werk.

As dieselfde belegger sy/haar bydrae tot R5 000 per maand verhoog, styg die bedrag tot R5,025 miljoen.

Die totale opbrengs op jou aanvanklike kapitaalbelegging is een van die belangrikste faktore in enige aftreeplan. Hoe hoër jou opbrengs ná koste, hoe groter die bedrag waarmee jy aftree.

Meer aggressiewe bateklasse bied in die algemeen hoër opbrengskoerse op lang termyn, maar dit stel jou aan groter risiko bloot.

Op 45 jaar het jy steeds 'n horison van 15 tot 20 jaar voor aftrede en aangesien jy daarna kan verwag om nog sowat 20 jaar te leef, kan dit in jou guns tel as jy bereid is om risiko te aanvaar.

Met "risiko" bedoel ek nié spekulatiewe beleggings soos bit­coin of "warm" aandeelwenke wat jy by die braaivleisvuur gehoor het nie. Ek bedoel eerder beleggings in groeibates soos aandele, waar korttermyn-prysbewegings dalk onvoorspelbaar is, maar die opbrengs oor tyd inflasie klop.

Kom ons vergelyk weer twee beleggers, albei 45 jaar oud.

As belegger A R5 000 per maand bydra met 'n opbrengs van 9% per jaar, kan hy teen 65 jaar R5,025 miljoen hê.

As belegger B ook R5 000 per maand bydra, maar met 'n opbrengskoers van 13%, kan hy/sy R7,620 miljoen teen aftrede hê.

Die verskil van R2,595 miljoen kan bereik word deur 'n fonds te kies wat hoër opbrengs op lang termyn nastreef.

Dis nooit 'n slegte plan om geld vir die toekoms opsy te sit en te begin spaar vir aftrede nie.

As jy veld verloor het met een van die belangrike faktore, kyk na die ander. Hoewel dit 'n eenvoudig reël is, sukkel baie mense daarmee. 'n Goeie aftreeplan kyk na al drie en verstaan hoe hulle van mekaar afhanklik is.

'n Gekwalifiseerde finansiële raadgewer kan jou help om 'n spaarplan op te stel wat jou nader aan jou aftreedoelwitte sal bring.

'n Plan is egter net "goed" as jy dit in werking stel - jou goeie voornemens moet vir jou tyd koop, vandag nog.

  • Adriaan Pask is PSG Wealth se beleggingshoof.
Adriaan Pask

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM