Meer as die helfte van die deelnemers aan 'n jaarlikse peiling van Sanlam het te kenne gegee dat kommer oor hul geldsake 'n uitwerking op hul fisieke en geestesgesondheid het.
Sanlam se 42ste jaarlikse Benchmark-peiling wys byna twee uit drie deelnemers voel angstig oor hul geldsake.
Boonop blyk dit uit die bevindings Suid-Afrikaners vergeet om vir hul mediese koste in aftrede voorsiening te maak of dit deel van hul aftreebeplanning te maak.
Kanyisa Mkhize, uitvoerende hoof van Sanlam Corporate, het met die aanbieding van die bevindings gesê dit is onrusbarend dat een uit vyf deelnemers glo hulle sal nooit kan aftree nie.
Nog 42% het te kenne gegee hulle voel onseker, of het 'n gebrek aan beheer oor hul finansiële toekoms.
Min beplan vir medies
Volgens Mkhize is die grootste finansiële vrees by verbruikers of hulle genoeg geld vir aftrede gaan hê en onverwagte finansiële probleme gaan ervaar, soos beduidende mediese uitgawes.
Die bevindings toon een uit elke vyf volwassenes in Suid-Afrika het nie enige vorm van mediese dekking nie.
Boonop was 'n kwart van die deelnemers nie lid van 'n voorsorgfonds of pensioenfonds wat deur werkgewers gebied word nie.
"Die statistieke is nie heeltemal verbasend nie, aangesien 46% van die respondente erken dat hulle gesukkel het om hul basiese maandelikse uitgawes, soos vir kos en huur, te betaal," sê Mkhize.
Die peiling is onder 500 voltydse werkendes uitgevoer om meer insig te kry oor die stand van verbruikers se geldsake ná die pandemie.
"Ons het bevind dat mense se onmiddellike finansiële prioriteite hulle met min laat om vir die toekoms te spaar."
Van die ander bevindings is:
• 48% sluit nie enige toekomstige bydraes tot mediese fondse by hul finansiële beplanning vir aftrede in nie; en
• Sowat 62% het nog nie enigiets gespaar vir gesondheidsorg ná aftrede nie.
Mkhize sê inaggenome hoeveel mense bekommerd is oor die koste van mediese behandeling ná aftrede is dit 'n groot leemte in aftreebeplanning wat hanteer moet word.
Skepties oor tweepotstelsel
Sowat 40% het gesê as hulle nou geld uit hul aftreefonds kon onttrek, sou dit wees omdat hul bestaande finansiële behoeftes te groot is.
Die komende wetgewing oor die tweepot-stelsel vir aftreefondsgeld wat deur die regering beplan word, is veronderstel om dié probleem aan te raak. Die peiling het ook vrae gestel oor hoe deelnemers daaroor voel.
Sowat 57% was skepties en versigtig oor die langtermynuitwerking op hul aftreespaargeld. Een uit vyf sal dit egter oorweeg om geld te onttrek in 'n noodgeval en 13% sou toegang tot 'n gedeelte van hul voordele wou hê.




















