
"Ons moet bid dat daar nie 'n kredietafgradering is nie," sê Abel Sithole, hoof van die staatspensioenfonds (GEPF).
Hy het gereageer op vrae van lede van die parlement se staande komitee oor finansies oor nog 'n kredietafgradering vir Suid-Afrika en staatsondernemings wat in November verwag word, en hoe die pensioenfonds en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) daarop voorberei.
Dit blyk private batebestuurders het reeds hul portefeuljes begin herskik in afwagting van 'n afgradering.
Dr. Dan Matjila, hoof van die OBK, kon nie duidelik uitspel wat die OBK doen oor die dreigende kredietafgradering en die uitwerking daarvan op sy belegging in staatseffekte en staatsondernemings soos Eskom nie.
Dreigende afgradering
David Maynier, DA-woordvoerder oor finansies en lid van die staande komitee oor finansies, wou weet hoe die fonds dit sal hanteer as Suid-Afrika verder afgegradeer word, gegewe die fonds se blootstelling aan R324,6 miljard se staatseffekte. Maynier het gevra oor die fonds se siening oor Eskom waarin hy R84 miljard se effekte besit, maar wat tans 'n dreigende kontanttekort het en teen einde November net R1,2 miljard se kontant oor sal hê.
Matjila het gesê die staat se versoek vir lenings aan die SAL is afgekeur omdat die OBK bekommerd was oor die SAL se balansstaat en oor sy korporatiewe beheerkwessies. Hoewel die SAL se omdraaiplan gereed is, sal hy eers moet presteer voordat die OBK weer kan oorweeg om in hom te belê.
Matjila sê die dreigende kredietafgraderings verskerp die OBK se aandag op sy beleggings in staatsondernemings, maar hy het nie duidelik uitgespel wat die OBK daaroor gaan doen nie buiten om te sê dat hy dit op sy volgende beleggingsvergadering sal bespreek.
Net 3% van die staatspensioenfonds se bates is in ongenoteerde beleggings, sê Sithole.
Hy het gereageer op die bohaai oor die prestasie van die fonds se ongenoteerde beleggings.
Regering kan nie voorskryf nie
Sithole sê die regering kan nie vir die OBK sê wat hy moet doen met die bates wat hy namens die staatspensioenfonds bestuur nie. Die OBK behoort wel as korporatiewe entiteit aan die staat, maar die staat besit nie die bates van die OBK wat hy namens die staatspensioenfonds bestuur nie.
Sithole verdedig die swak prestasie van sekere van die OBK se ongenoteerde beleggings en pak die skuld op die verswakkende ekonomie.
Hy sê die staatspensioenfonds het teen einde Maart vanjaar bates van R1 670 miljard gehad, wat behoort aan 1 273 784 aktiewe lede en 423 130 pensioenarisse en begunstigdes.
Sithole het 'n lys verskaf van die effekte en skatkiswissels waarin die pensioenfonds belê is en gesê dis nie 'n geheim nie. Tot 36% van die fonds se geld is in effekte.
Die lys sluit in skatkiswissels in Eskom, staatseffekte van Suid-Afrika, Angola en Namibië, asook effekte in Eskom, Transnet, die Kaapstad-metro en die Randwaterraad.
Die fonds is ook belê in private effekte in die vier groot banke, asook Investec en African Bank en Mercedes-Benz Suid-Afrika.
Sithole sê die fonds se ongenoteerde beleggings bedra net sowat R86 miljard van sy totale bates van R1 670 miljard. Die fonds mik om net sowat 5% van sy totale bates in ontwikkelingsbeleggings te plaas.



















