
Die skikking tussen Transnet, sy pensioenfondse en sy verarmende pensioenarisse kan steeds teen Desember vanjaar in werking gestel word, meen die prokureursfirma Geyser & Coetzee.
Maar die hofdatum van 7 Oktober wat voorheen genoem is wanneer die hooggeregshof na verwagting die skikking amptelik sou bekragtig, is nou eers van die baan en 'n nuwe hofdatum word ingewag.
Geyser & Coetzee het Donderdag in 'n verklaring gesê die formele skikkingsooreenkoms word nog afgehandel, maar dit is grootliks tegniese aspekte en raak nie die kommersiële aspekte van die skikking wat reeds deur alle partye aanvaar is nie.
Die formele aansoek om die skikking te laat bekragtig is afgehandel, maar nou word daar vir Transnet en die pensioenfondse se kommentaar daarop gewag, het die prokureursfirma gesê.
Die skikking behels drie bonusse van R10 000 per jaar oor die volgende drie jaar, asook verhogings van onderskeidelik 13%, 9% en 6%. Daarna word gemik vir jaarlikse verhogings van minstens 70% van inflasie.
Transnet se voorwaarde vir die skikking is dat sy Transnet Tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds moet saamsmelt.
Geyser & Coetzee het intussen ook gewaarsku teen sekere pensioenarisse wat lasterlike bewerings op sosiale media teen die regspan en die trustees van die pensioenfondse gemaak het. Die prokureursfirma het ook versoek dat pensioenarisse nie hul kantoor moet skakel met navrae nie omdat waardevolle tyd só verspil word.




















