Aftrede

Só kan ANC-plan jou aftreegeld raak

Die ANC se plan met private pensioenfondse gaan jou aftreegeld stadiger laat groei en is niks anders as 'n verskuilde belasting op pensioenfondslede om nog 'n inkomste vir die staat te kry nie, sê kenners.

Die ANC het die naweek in sy verkiesingsmanifes gesê hy gaan die moontlikheid ondersoek om voorgeskrewe beleggings vir pensioenfondsgeld op te dwing.

Watter vorm sal dit aanneem?

Die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) sê met "voorgeskrewe bates" word verwys na staatseffekte en die skuldbriewe wat deur staatsondernemings uitgereik word.

Prof. Jannie Rossouw
Prof. Jannie Rossouw

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskap, sê dit kan behels dat die staat 'n nuwe staatseffek uitreik met 'n laer rentekoers en vereis dat pensioenfondse 'n sekere persentasie van hul geld daarin belê.

Andrew Canter, beleggingshoof van Futuregrowth, meen dit kan deur regulasie 28 van die Pensioenfondswet gedoen word. Die regulasie skryf reeds voor hoeveel van 'n pensioenfonds in sekere bateklasse belê mag word om diversifikasie aan te moedig. Hy meen regulasie 28 kan gewysig word om pensioenfondse te dwing om 'n sekere persentasie van hul geld in voorgeskrewe bates te belê.

Daarmee saam kan 'n lys van dié bates gepubliseer word. Wat presies dit gaan wees, is onseker.

Hoewel Rossouw 'n vorm van staatseffekte verwag, is Canter nie seker dat dit nét staatseffekte sal wees nie. Hy dink baie van dié "voorgeskrewe bates" gaan beleggings wees wat onaanvaarbaar is vir pensioenfondse, soos die effekte of skuldbriewe van sekere staatsondernemings. "Want hoekom anders sal hulle die moeite doen om dit op te dwing?"

Staatseffekte word deur regerings uitgereik om hul besteding te finansier. Dit is skuld wat regerings aangaan as hulle nie voldoende belasting invorder om hul uitgawes te dek nie.

Pensioenfondse belê reeds groot in staatseffekte, maar dit gebeur teen markverwante rentekoerse.

Hoekom sou die regering dit wou doen?

Die doel hiervan is dat die regering laer rentekoerse op sy skuld betaal as wat hy onder gewone omstandighede in die mark sou kry, sê Rossouw.

"Of as jy glo jou staatseffekte gaan nie meer verkoop nie omdat jy 'n swak fiskale beleid het."

Hy glo voorgeskrewe bates is dus niks anders as 'n verskuilde vorm van belasting om nog geld vir die staat se besteding te kry nie.

Rossouw sê pensioenfondslede betaal nou die gelag vir korrupsie.

"Ons betaal nou vir die Zuma-chaos. As dit nie daarvoor was nie, was dié stappe nie nodig nie. Maar Suid-Afrika stuur op 'n fiskale afgrond af waar belastinggeld opgedroog het en die ekonomie nie groei nie terwyl staatsdienssalarisse buite beheer is. Nou moet hulle meer inkomste vir die staat vind."

Hy glo die idee van 'n herverdeling van welvaart, soos met grondonteiening, is ook 'n motivering.

"Ons sien nou 'n sterk fokus op die aktiewe herverdeling van welvaart."

Dr. Mike Lamont, dosent in beleggingsbestuur aan die fakulteit van ekonomiese en bestuurswetenskap van die Universiteit Stellenbosch, beskou dit ook as 'n vorm van belasting.

Nie die eerste probeerslag . . .

Dié soort pensioenplan is al deur die apartheidsregering probeer en dit het nie gewerk nie, sê Leon Campher, uitvoerende hoof Asisa. Asisa en sy lede is oortuig daarvan dat dit 'n negatiewe uitwerking op die land sal hê as dit teruggebring word.

Lamont het by die Reserwebank gewerk toe die sentrale bank in die laat 1980's 'n verslag vir die regering opgestel het oor hoekom voorgeskrewe beleggings afgeskaf moet word.

Hy sê die apartheidsregering het aan pensioenfondse en versekeraars voorgeskryf waarin hulle moet belê omdat dit moeilik was om teen aanvaarbare koerse in die mark geld by beleggers te leen. Pensioenfondse en versekeraars was verplig om 'n sekere persentasie van hul geld in staatseffekte te belê.

Alwyn van der Merwe, direkteur van beleggings van Sanlam Private Welvaart, sê voorgeskrewe bates is in Oktober 1989 in Suid-Afrika afgeskaf.

"In daardie era was aftreefondse verplig om, ek dink dit was 47%, van hul boekwaarde in staatseffekte te belê. Die staat het daardie geld gebruik om staatsprojekte te finansier. Die finansiering is dikwels gekanaliseer na ‘strategiese' projekte wat nie altyd sou sin maak vanuit 'n beleggings- of kommersiële oogpunt nie."

Vastevoordeel- vs. vastebydraefondse

Rossouw sê die groot verskil tussen die apartheidsera en nou is dat alle werknemers toe nog lid van vastevoordeelfondse was. Dit het beteken die voordele, of aftreegeld, wat belowe is aan 'n aftreefondslid is met aftrede gewaarborg, al het die geld nie so goed gegroei nie.

Nou is die meeste pensioenfondse vastebydraefondse, wat beteken die aftreegeld wat iemand eendag kry, hou met sy bydraes verband en hoe dit gegroei het. Pensioenfondse se groei hang af van die opbrengste uit die bates waarin dit belê is en hoe die markte vaar.

Rossouw sê voorgeskrewe beleggings gaan nie 'n markverwante opbrengs lewer nie. Die opbrengskoerse op die voorgeskrewe bates gaan waarskynlik ver onder die inflasiekoers wees en dit beteken swakker groei in jou pensioenfonds.

"Dit sou net logies wees dat die verwagte opbrengste laer sal wees. Suid-Afrika het ongelukkig 'n geskiedenis waar die aanwending van staatsgeld klaaglik misluk om aanvaarbare opbrengste lewer," sê Van der Merwe.

Hy sê die geskiedenis van die laaste dekade tot 15 jaar bevestig dit ten opsigte van Eskom, die Passasierspooragentskap (Prasa), die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) die SAUK en Denel.

Dié nadele moet gebalanseer word deur die voordele wat die "strategiese" projekte vir die land sou bring.

"Maar as die onlangse verlede enigsins 'n aanduiding is van wat ons in die toekoms van die bestuur van die geld kan verwag, is ons skepties oor die voordele van die besteding vir beleggers en of dit voldoende sal vergoed vir die risiko wat hulle onder verpligting sou aangaan om geld in voorgeskrewe bates te belê."

Rossouw meen ook die risiko van wanbetalings gaan groter wees omdat pensioenfondse moontlik in projekte sal moet belê wat nooit van die grond af kom nie of bankrot speel en nie die skuldbriewe kan terugbetaal nie.

Nie goed vir pensioentrekkers nie

Die argument bly dieselfde as in die apartheidsera - as jy dit aan mense opdwing beteken dit laer opbrengste en dit het nadelige gevolge vir pensioentrekkers, sê Lamont.

Swakker opbrengste van pensioenfondse gaan die poel van mense wat afhanklik is van die staatspensioen vergroot.

Rossouw glo dit gaan spaar vir aftrede ontmoedig en waar mense die keuse het, sal hulle eerder ander beleggingsopsies oorweeg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM