Aftrede

Só oorleef jy op ’n Transnet-pensioen

Vir duisende Transnet-pensioentrekkers kan Kersfees jaarliks 'n droewige tyd wees. Francois Williams gesels met twee wat die blink kant bo probeer hou.

Jan Herselman het in 1988 afgetree met 'n pensioen van R1 787, en ná 30 jaar het die pensioen tot R3 787 gegroei.
Jan Herselman het in 1988 afgetree met 'n pensioen van R1 787, en ná 30 jaar het die pensioen tot R3 787 gegroei. (Netwerk24)

Vir die oorlewende sowat 40 000 mense wat afhanklik is van 'n Transnet-pensioen - wat met net 2% per jaar verhoog word - is dit nie 'n maklike tyd wanneer dit lyk asof die res van die wêreld geld bestee asof daar geen einde is nie.

Jan Herselman (72) van Bellville, wat al 30 jaar op pensioen is nadat hy 25 jaar diens by Transnet gehad het as 'n topklas-treindrywer, sê hy sou nie kon oorleef met net sy Transnet-pensioen nie.

Hy het in 1988 afgetree met 'n pensioen van R1 787, en ná 30 jaar het die pensioen tot R3 787 gegroei. Hy het al twee jaar nadat hy op pensioen gegaan het van sy mediese skema ontslae geraak - die bydraes het in dié twee jaar bykans verdubbel, wat dit vir hom onbekostigbaar gemaak het.

Hy het nou 'n hospitaalplan en betaal ander mediese uitgawes kontant.

Gelukkig het Herselman ná sy aftrede die kleinhandel betree en sy basiese salaris as 'n winkelbestuurder by 'n Pick n Pay-franchise is vandag meer as dubbel sy Transnet-pensioen.

Hy weet van 'n vriendin wie se man by Transnet gewerk het wat 'n pensioen van net R1 500 ontvang.

Bonus op pad

Pensioentrekkers het wel pas gehoor hulle kry 'n bonus van 15% van hul jaarlikse pensioen.

Lees hier meer: Transnet-oues kry bonus vóór Kersfees

Herselman is een van verskeie Transnet-pensioentrekkers wat ook ontken dat Transnet - soos die staatsvervoergroep beweer - eers in die vroeë 2000's begin het om pensioenverhogings op 2% vas te pen.

Volgens Herselman was daar al van 1985 net 2%-verhogings. "Transnet het dit nooit met inflasie aangepas nie."

Oor moontlike wenke aan ander pensioentrekkers sê Herselman hy besef met die immer stygende lewenskoste is dit moeilik om te spaar, maar hy meen mense moet elke dag die spesiale aanbiedings in winkels soek, want winkelpryse verander elke dag. Hy meen mense wat wil oorleef, moet maar hul vleistande trek, want vleispryse hou net aan styg.

"Dis omtrent net 'n ryk ou wat vleis kan eet."

Herselman, wat betrokke is by 'n welsynsorganisasie Adopt a Mission waardeur verskeie maatskappye skenkings gee om arm mense te help, sê daar is baie Transnet-pensioentrekkers en weduwees van oud-Transnetwerknemers wat hulp kry van die organisasie.

"Ek weet nie hoe leef hulle nie."

Hy waarsku baie van die mense word slagoffers van mikroleners, wat dikwels die pensioentrekker se hele pensioen vat as terugbetaling vir 'n lening.

Oor die groepseis wat pensioentrekkers teen Transnet en sy pensioenfondse aanhangig gemaak het, meen Herselman Transnet behoort basiese pensioene minstens te verdubbel om te vergoed vir die jare waarin dit nie met inflasie aangepas is nie.

"As Transnet so maklik die Gupta-maatskappy kan dagvaar vir geld, hoekom kan ons hulle nie ook dagvaar nie?" meen hy met verwysing na Transnet se besluit om die Gupta-verwante maatskappy Regiments Capital vir R189 miljoen te dagvaar.

Dit hou verband met die omstrede lokomotiefkontrak van R54,5 miljard van 2014 waarvoor Regiments glo raadgewende dienste moes lewer.

Koos Viljoen, Transnet-pensioentrekker van Parow, in sy werkswinkel, waar hy herstelwerk aan ouer modelle Harley-Davidsons doen. Foto: Francois Williams
Koos Viljoen, Transnet-pensioentrekker van Parow, in sy werkswinkel, waar hy herstelwerk aan ouer modelle Harley-Davidsons doen. Foto: Francois Williams (Francois Williams/Netwerk24)

Net R1 823 in sy sak

Koos Viljoen (82) van Parow het in 1996 op 60 by Transnet ná 23 jaar diens afgetree. Hy het al van 1954 tot 1963 ook by die spoorweë gewerk voordat hy vir nege jaar die NG Kerk se sending in Malawi met algemene herstelwerk en instandhouding gehelp het.

Ná sy terugkeer uit Malawi het hy gou weer werk gekry as elektriese passer wat elektriese lokomotiewe herstel het.

Viljoen sê hy kry sedert 1996 net 'n 2%-verhoging elke November, hoewel daar in Julie 2002 'n eenmalige verhoging van 3% toegestaan is.

Vandag kry Viljoen 'n maandelikse pensioen van R3 271,94. As die bydrae vir sy mediese fonds van R1 253 afgetrek word, kry hy R2 018,94 uit, maar die mediesefondsbydrae styg in Januarie tot R1 448, waarna hy net R1 823 in sy sak sal kry.

Dit is R1 minder as wat hy 21 jaar gelede op November 1997 as netto pensioen ontvang het, en skaars R300 meer as wat hy 20 jaar gelede in Desember 1998 ontvang het, wys die pensioenstrokies wat hy oor die jare gehou het.

Sy strokie van November 2003 - 15 jaar gelede - wys hy het daardie maand R2 302,14 uitgekry - R283 meer as tans.

Sy mediesefondsbydrae per maand het van R101 in 1997 tot die huidige R1 253 gestyg.

Die Here het my die gesondheid gegee om te kan werk.

—  Koos Viljoen

Met inflasie en stygende mediese bydraes het Viljoen soos die meeste ander Transnet-pensioentrekkers dus al hoe armer geword.

Maar Viljoen is dankbaar vir die vryskutwerk as tegnikus vir 'n kontrakteur van Metrorail wat hy die afgelope jare kon verrig wat sy inkomste kon aanvul. Hy doen ook spesialisherstelwerk aan klassieke Harley-Davidson-motorfietse.

"Die Here het my die gesondheid gegee om te kan werk."

Hy lei iemand op wat die werk teen Maart by hom kan oorneem, want op 82 voel 'n mens ná al die jare die fisieke harde werk aan jou lyf.

Viljoen is nie bekommerd oor die verlore inkomste nie. "Ons lewe eenvoudig, en ons sal dan kan lewe van die rente op geld wat ek belê het. Tot vandag toe sorg die Here vir my. Ons het geen finansiële probleme nie."

Sy advies aan ander Transnet-pensioentrekkers? "Wees gehoorsaam aan die Here en Sy Woord dan sal Hy die pad vir jou gelyk maak."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM