Aftrede

Transnet-oues: Hofsaak se datum eindelik bepaal

Transnet-pensioenarisse gaan uiteindelik hul dag in die hof kry.

'n Lid van Transnet se pensioenfonds. Foto: Deon Raath
'n Lid van Transnet se pensioenfonds. Foto: Deon Raath

Die datum van 7 Oktober is vasgestel vir die groepsgeding wat hulle teen Transnet en sy pensioenfondse aanhangig gemaak het om in die hooggeregshof voort te gaan.

Naas Rossouw, komiteelid van die Transnet-pensioenarisaksiegroep (TPAG), het Vrydag dié nuus via die TPAG se Facebook-blad bekend gemaak nadat die regsfirma Geyser & Coetzee daaroor terugvoering gegee het.

Geyser & Coetzee tree namens die Transnet-pensioenarisse in die groepsgeding op waarin hulle meer as R80 miljard van Transnet, die Transnet-tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds eis.

Dit is vir wat hulle beskou as beloftes oor inflasieverwante pensioenverhogings in die 1990's wat nie nagekom is nie.

Die geding gaan ook daaroor om te vergoed vir slegte beleggingsbesluite wat die pensioenfondse en Transnet in die vroeë 2000's geneem het.

Transnet het in die vroeë 2000's besluit hy kan pensioenfondsuitbetalings net met die statutêre 2% per jaar verhoog om die finansies van die pensioenfondse op die spoor te hou. Dit het egter veroorsaak dat die pensioenarisse van Transnet toenemend verarm het namate inflasie (wat gemiddeld 5,5% per jaar beloop het) hul inkomste opvreet, tesame met mediesefonds-aftrekkings van veel meer as inflasie.

Die regstappe teen Transnet en sy pensioenfondse het al in 2013 begin, maar Transnet het die saak so lank as moontlik probeer uitrek deur telkens besware teen die pensioenarisse se eise in te dien wat dan die hofprosesse vertraag het.

Transnet sê nog jaarliks in sy jaarverslag dat sy regsadvies is dat die pensioenarisse nie 'n saak het nie en dat Transnet die groepsgeding suksesvol sal kan teenstaan.

Teen verlede jaar, ná toenemende politieke druk, het Transnet ingestem om oor 'n skikkingsbedrag buite die hof te begin onderhandel, maar dié onderhandelinge het teen einde verlede jaar ineengestort omdat Transnet se aanbod nie vir die pensioenarisse se regspan aanvaarbaar was nie. Die besluit is toe geneem om met die groepsgeding via die regskanale voort te gaan.

Die pensioenarisse se regstappe het al in April 2013 amptelik begin toe die groepsgeding formeel by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Met die gesloer van ses jaar het meer as 20 000 pensioenarisse of begunstigdes egter al gesterf. Toe die saak begin het, was daar meer as 80 000 lede van die twee pensioenfondse, teenoor die minder as 60 000 wat nog oor is.

Skeptici onder pensioenarisse het al die mening geopper dat dit lyk asof Transnet letterlik wag dat nog meer pensioenarisse afsterf sodat sy aanspreeklikheid in die saak kan verminder.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM