Transnet-pensioentrekkers moet liefs nie te opgewonde raak oor tekens dat gesprekke oor 'n moontlike skikking dalk hervat gaan word nie.
Dit is dalk maar net "weer speel vir tyd", waarsku Naas Rossouw, komiteelid van die Transnet-pensioentrekkeraksiegroep (TPAG).
Dit volg nadat adv. Anton Alberts, LP van die Vryheidsfront Plus, op Facebook gesê het hy het "goeie nuus": "Die voorsitter van die Transnet-raad van direkteure het my ingelig dat Transnet en jul regspan weer met gesprekke begin het om 'n moontlike skikking daar te stel."

Alberts sê egter ook: "Die hofsaak se proses gaan steeds voort ten spyte van die gesprekke sodat daar nie tyd gemors word indien daar nie 'n skikking sou wees nie."
Begin Maart is 7 Oktober as hofdatum vasgestel vir die groepsgeding wat hulle teen Transnet en sy pensioenfondse aanhangig gemaak het.
Die regsfirma Geyser & Coetzee tree namens die Transnet-pensioentrekkers in die groepsgeding op waarin hulle meer as R80 miljard van Transnet, die Transnet-tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds eis.
Dit is vir wat hulle beskou as beloftes oor inflasieverwante pensioenverhogings in die 1990's wat nie nagekom is nie.
Die geding gaan ook daaroor om te vergoed vir slegte beleggingsbesluite wat die pensioenfondse en Transnet in die vroeë 2000's geneem het.
Transnet het in die vroeë 2000's besluit hy kan pensioenfondsuitbetalings net met die statutêre 2% per jaar verhoog om die finansies van die pensioenfondse op die spoor te hou. Dit het egter veroorsaak dat die pensioentrekkers van Transnet toenemend verarm het namate inflasie (wat gemiddeld 5,5% per jaar beloop het) hul inkomste opgevreet het, tesame met mediesefonds-aftrekkings van veel meer as inflasie.
Die regstappe teen Transnet en sy pensioenfondse het al in 2013 begin.
Transnet sê nog jaarliks in sy jaarverslag dat sy regsadvies is dat die pensioentrekkers nie 'n saak het nie en dat Transnet die groepsgeding suksesvol sal kan teenstaan.
Teen verlede jaar, ná toenemende politieke druk, het Transnet ingestem om oor 'n skikkingsbedrag buite die hof te begin onderhandel, maar dié onderhandelinge het teen einde verlede jaar ineengestort omdat Transnet se aanbod nie vir die pensioentrekkers se regspan aanvaarbaar was nie.
Met die gesloer van ses jaar het meer as 20 000 pensioenarisse of begunstigdes al gesterf. Toe die saak begin het, was daar meer as 80 000 lede van die twee pensioenfondse, teenoor die minder as 60 000 wat nog oor is.




















