Transnet se pensioenarisse gaan op 20 Desember hul pensioenbetaling vir Desember ontvang, het die Transnet Pensioenarisaksiegroep (TPAG) aan hul lede gesê.

Nog 'n stukkie goeie nuus vir die pensioenarisse is dat die eerste enkelbedragbetaling van R10 000 ingevolge die skikking wat tussen Transnet, sy pensioenfondse en die pensioenarisse bereik is, waarskynlik ook in Desember betaal sal word.
Dit is egter nog nie bekend of die hooggeregshof al amptelik die skikking bekragtig het nie.
Geyser & Coetzee, die prokureurs wat namens die pensioenarisse in hul groepseis teen Transnet en sy pensioenfondse optree, het wel vroeër die verwagting uitgespreek dat die mikpunt steeds is dat die skikking voor die einde van die jaar bekragtig sal word, sodat die eerste beter voordele reeds vanjaar betaal kan word.
Dit spruit uit die groepseis wat die pensioenarisse teen Transnet en sy pensioenfondse ingestel het weens hul verarming oor die afgelope byna twee dekades weens verhogings van net 2% per jaar.
Ingevolge die skikking sal pensioenarisse vir die volgende drie jaar elke jaar 'n ekstra enkelbedrag van R10 000 ontvang. Verder sal pensioenbetalings jaarliks met minstens 70% van inflasie verhoog word pleks van met net 2%.




















