Aftrede

Transnet-pensioene: Besware vertraag saak verder

Minstens nege mense het tot dusver amptelik beswaar aangeteken teen die skikking wat beter pensioenvoordele vir Transnet-pensioentrekkers sal gee.

Duisende oorlewende Transnet-pensioentrekkers sal nou nóg langer moet wag voordat hulle die beter pensioenvoordele kan ontvang. Foto: Bloomberg
Duisende oorlewende Transnet-pensioentrekkers sal nou nóg langer moet wag voordat hulle die beter pensioenvoordele kan ontvang. Foto: Bloomberg

Dit impliseer die duisende oorlewende Transnet-pensioentrekkers sal nou nóg langer moet wag voordat hulle die beter pensioenvoordele kan ontvang.

Omdat die hofaansoek om die beter pensioenvoordele in werking te stel, nou teengestaan word, sal die aansoek eers op 17 Junie - en dalk selfs later weens die nasionale inperking - aangehoor kan word, sê die regsfirma Geyser & Coetzee in 'n verklaring.

Aanvanklik was 14 April die datum waarop die skikking 'n finale hofbevel gemaak sou word, en die beter pensioenvoordele sou dan twee maande later in werking kon tree.

Die besware is op 8 April by die hooggeregshof in Pretoria ingedien, blyk uit dokumente van Geyser & Coetsee, wat die jare lange groepseis van duisende Transnet-pensioentrekkers teen Transnet en sy pensioenfondse behartig.

Die regsproses van die groepseis het uiteindelik verlede jaar op 'n skikking uitgeloop wat behels dat pensioentrekkers vir drie jaar elke jaar 'n kontantbonus van R10 000 sou kry, en dat hul pensioen jaarliks met minstens 70% van die inflasiekoers verhoog word pleks van die huidige 2%-verhoging per jaar.

Die netto effek van die skikking is dat pensioentrekkers gemiddeld 'n verbetering van 31% in hul pensioenvoordele sal kry, volgens berekeninge.

Maar dit blyk die beswaardes meen daar kon beter voordele vir hulle beding gewees het.

Die 2%-verhoging sedert die vroeë 2000's het lede van die Transnet Tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds oor die jare stelselmatig laat verarm weens inflasie en veral die premies op hul mediese skema, wat teen veel skerper as inflasie styg.

Die getal pensioentrekkers wat hierdeur geraak is, het ook oor die jare van 'n aanvanklike sowat 80 000 tot onder 50 000 gekrimp namate lede afgesterf het.

Tom Dunn, een van die lidtrustees van die Tweedevastevoordeelfonds, het op Facebook gesê die resessie, Suid-Afrika se afgradering en die feit dat die regering nie meer geld het vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens nie, sal nie 'n invloed op die skikking hê nie. Die geld vir die skikking is reeds geoormerk. Indien daar nie besware was nie, sou die saak gouer op die hofrol kon kom nadat die inperking opgehef is, en elke maand se vertraging rek die swaarkry onnodig uit, sê Dunn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM