Die aktuarisse van twee van Transnet se pensioenfondse stoei nog met die tegniese en regsvereistes om die twee fondse te laat saamsmelt.

Dit vertraag die skikking met pensioenarisse om hulle 'n beter, inflasieverwante pensioenverhoging te gee.
Die regsfirma Geyser & Coetzee sê hulle het verwag om teen 29 Augustus in die hof te wees vir 'n bevel nisi wat vir die amptelike publikasie van die skikking tussen Transnet, die pensioenfondse en die pensioenarisse sou voorsiening maak. Dit sou dan die weg baan dat die skikkingsooreenkoms op die reeds voorheen vasgestelde hofdatum van 7 Oktober bekragtig kon word sodat die eerste betalings ingevolge die skikking in Desember vanjaar gedoen kan word.
Geyser & Coetzee het egter die naweek aan die Transnet Pensioenarisaksiegroep (TPAG) laat weet dat die tegniese en regsvereistes vir die samesmelting van die fondse nog deur die aktuarisse oorweeg word. Die regsfirma het Transnet gevra om die proses te versnel.
Die twee fondse wat moet saamsmelt, is die Transnet-tweedevastevoordeelfonds en die Transnet-subfonds van die Vervoerpensioenfonds. Die lede van dié twee fondse kry sedert die vroeë 2000's verhogings van slegs 2% per jaar, wat impliseer dat hulle oor die afgelope byna twee dekades in effek verarm het weens inflasie en die styging van hul mediesefondsbydraes teen veel meer as inflasie. Benewens die koopkrag van hul geld wat weens inflasie afneem, word die nominale bedrag wat hulle ontvang ook stelselmatig opgevreet deur die aftrekking van mediesefondsbydraes wat teen meer as inflasie groei.
Hulle voer die afgelope meer as vyf jaar 'n regstryd teen Transnet en die pensioenfondse om hul aftreevoordele te verbeter.
As voorwaarde vir 'n skikking het Transnet daarop aangedring dat die twee pensioenfondse saamsmelt sodat dit finansieel meer volhoubaar kan wees en die beter voordele waarop die pensioenarisse aandring, bekostig kan word.
Volgens Geyser & Coetzee het hulle 'n konsep-verklaring aan Transnet voorsien wat hulle by die hof gaan indien ter steun van hul bevel nisi-aansoek. Dit is "om enige moontlike vertraging in die proses te omseil".




















