Ná 'n duur regstryd van nege jaar is pensioenarisse van Transnet uiteindelik verseker van beter pensioenvoordele.

Regter Sue Potterill het Maandagmiddag besware van die hand gewys teen die skikking tussen Transnet, sy pensioenfondse en sowat 52 000 pensioenarisse.
Sy het terselfdertyd die skikking bekragtig.
Dit beteken Transnet-pensioenarisse sal einde Desember vanjaar en in Desember 2021 die tweede en derde bonusbetalings van R10 000 elk ontvang wat in die skikking beloof word. Daar kom ook verhogings van onderskeidelik 11% vanjaar, 7% in 2021 en 4% in 2022, nadat die pensioenarisse sedert die vroeë 2000's en in baie gevalle selfs nog voor dit slegs verhogings van 2% per jaar gekry het.
Daarna mik die Transnet-pensioenfondse vir jaarlikse verhogings van 70% van inflasie, maar die trustees kan hul diskresie gebruik om beter verhogings toe te ken as die fondse dit kan bekostig.
Die pensioenaris Jan Herselman (74) van Bellville sê hulle is tevrede met die skikking, en dis beter as om nog 'n jaar of vyf te wag, want die meeste pensioenarisse is al oud en sterf af teen 'n tempo van sowat 400 per maand. Hy meen baie mense is wel ontevrede oor die nuwe voordele, maar "ons moet vat wat hulle gee anders kry ons niks"
Adv. Anton Alberts van die VF Plus het die Transnet-pensioenarisse en hul regspan - die prokureur Wynanda Coetzee en die advokate Jaap Cilliers, Wim Trengove en Leon Kellerman - gelukgewens en hulde gebring aan baie pensioenarisse wat afgesterf het sedert die begin van die regstryd in 2011.
Die groepeis is in 2014 geregistreer. Die pensioenarisse het aangevoer dat dr. Anton Moolman, destydse hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste (voorloper van Transnet), Eli Louw, destydse minister van vervoer, en die destydse trusteevoorsitter van die spoorwegpensioenfondse, in 1989 aan hulle belowe het dat hul pensioen jaarliks met minstens 70% van inflasie sou styg. Boonop is aangevoer Transnet het sowat R17,18 miljard aan die pensioenfondse geskuld.
Weens swak beleggingsbesluite het die pensioenfondse egter finansieel begin swaarkry en sedert 2003 is net 'n statutêre verhoging van 2% per jaar gegee, wat pensioenarisse erg laat verarm het te midde van skerp stygende lewenskoste en mediesefonds-bydraes.
Volgens Jeremy Andrew. 'n aktuaris, sal die skikking die pensioenarisse se pensioen teen Maart 2022 op 90% bring van wat dit sou gewees het as hulle wel sedert die vroeë 2000's verhogings van 70% van inflasie ontvang het.
Potterill het in haar uitspraak gemeen hoewel die skikking dus nie pensioenarisse heeltemal van 'n gemaklike aftrede voorsien nie, is dit voldoende vir hulle om hul reg op verdere regstappe op te gee. Dit is nie 'n perfekte skikking nie, maar in die lig van die enorme koste vir verdere litigasie en om onmiddellike verligting aan die bejaardes te gee, is dit wel redelik, billik en in die belang van geregtigheid.
Die skik van groepeise is relatief nuut in Suid-Afrika, het Potterill in haar uitspraak gesê, en gesê die howe het 'n plig om gemenereg rondom dié kwessie te ontwikkel om te sorg dat geregtigheid geskied. Sy het aangehaal uit Australiese, Amerikaanse en Kanadese wetgewing oor die bekragtiging van 'n skikking deur 'n hof, waarin aanbeveel word die partye moet die hof oortuig dat die skikking billik is en in die belang is van die lede van die groepeis sowel as die respondent.
Sy het gewys op die feit dat die gemiddelde ouderdom van die sowat 52 000 oorblywende pensioenarisse sowat 79 is, en dat 'n nog lang uitgerekte hofproses nie in hul beste belang is nie.




















