Geldsake

Armes het al hoe minder geld vir ’n blyplek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op ’n plakkerskamp in Soweto, Johannesburg. Meer as 13 miljoen mense het in Januarie vir die regering se armoedetoelae aansoek gedoen, hoewel net 7,4 miljoen aansoeke goedgekeur is. Foto: Argief
’n Uitsig op ’n plakkerskamp in Soweto, Johannesburg. Meer as 13 miljoen mense het in Januarie vir die regering se armoedetoelae aansoek gedoen, hoewel net 7,4 miljoen aansoeke goedgekeur is. Foto: Argief

Skuld en stygende kragtariewe noop arm Suid-Afrikaners om al hoe minder aan die dak oor hul kop te bestee.

Waar mense wat R5 000 of minder per maand verdien in 2022 nog 20% van hul besteebare inkomste ná skuldterugbetalings op behuising bestee het, het dit teen einde 2024 tot 9% gekrimp.

Dit beloop dus nou net gemiddeld R108 per maand, teenoor R240 per maand begin 2022. Dié klein bedrag is waarskynlik net huur vir 'n bed in 'n plakkershut vir 'n enkellopende of 'n bydrae tot 'n huishouding se huur.

Daar is nog geen aanduiding uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se algemene huishoudelike peiling dat die getal huishoudings in die land aan die krimp is nie - dus dat meer mense saam met familielede gaan woon nie. In 2022 het huishoudings met net een lid 25,1% van alle huishoudings beloop en in 2023 het dit tot 26,5% toegeneem, maar die persentasie huishoudings met ses of meer lede het net van 12,8% tot 13% toegeneem. Die 2024-syfers is nog nie bekend nie.

Mense in die inkomstegroep van minder as R5 000 per maand wat om skuldberading aansoek doen, bestee in daardie stadium 72% van hul inkomste om skuld terug te betaal. Die 9% wat aan behuising bestee word, verteenwoordig dus 9% van die gemiddelde R1 200 wat oorbly nadat R3 600 aan skuld betaal is.

Daarteenoor moet dié inkomstegroep 55% van hul inkomste ná skuld, oftewel gemiddeld R660, aan kos bestee, tenoor 50% in 2022.

Besteding aan vervoer het konstant gebly op 11%, maar besteding aan krag en water het van 7% tot 12% van besteebare inkomste opgeskiet.

Meer geld, minder daarvan aan kos

Die besteding van mense wat meer as R35 000 per maand verdien, het in persentasies baie konstant gebly. Effektiewelik beteken dit hulle kon met salarisverhogings die inflasie- en rentekoersstygings van die laaste jare absorbeer sonder groot aanpassings aan hul lewenstyl.

Dit moet egter beklemtoon word dat dit nie 'n gesonde groep verbruikers is wat ontleed is nie, maar dié wat met al hoe meer skuld hul lewenstyl finansier. Dis mense wat om skuldberading aansoek gedoen het en teen die tyd dat hulle hier gekom het, het hul skuldterugbetalings gemiddeld 74% van hul nabelaste salaris beloop. Dis sowat R25 900 vir iemand wat R35 000 per maand verdien.

Dié mense moet ná hul skuldterugbetalings sowat 23% aan kos bestee. Kos beloop dus sowat R2 093 per maand. Die persentasie wat dié inkomstegroep aan kos bestee, het ook relatief konstant gebly op 21% tot 23%.

Behuising beloop 16% oftewel sowat R1 456 per maand, maar dit sluit die huispaaiement uit omdat dit deel vorm van die skuld. Die bydrae van behuising het relatief konstant op 15% tot 17% gebly oor die drie jaar.

Meer welvarende mense se besteding aan krag en water het van 7% tot 9% gewissel en was einde 2024 op 8%.

Hul besteding aan brandstof of vervoer het ook betreklik konstant van 11% tot 13% gewissel. Dis nou 11%.

Ooreenkomste tussen inkomstegroepe

Vir Benay Sager, uitvoerende hoof van DebtBusters, is dit interessant dat verskeie kategorieë besteding dieselfde persentasie van mense se inkomste insluk, ongeag hul inkomste.

Só bestee mense van alle inkomstegroepe tussen 3% en 5% aan hul selfoon en 2% tot 3% aan internet.

Besteding aan vervoer (motorpaaiemente uitgesluit, wat deel van skuld vorm) beloop tussen 11% en 14%, en aan krag en water tussen 8% en 12%.

Besteding aan klere is deur die bank 1% van besteebare inkomste.

Weinig aftreevoorsiening

Die groot verskil is by kos, wat 23% vir die mees gegoede groep beloop en 55% vir die armste groep.

Die mees gegoede groep sit ook 3% van hul inkomste vir aftrede weg, terwyl armer mense niks hiervoor het nie.

Versekering - insluitend mediesefondspremies - slurp 13% van die besteebare inkomste van die gegoede groep op, maar dis minder as 1% vir die armste verbruikers.

Wat ander statistieke sê

Die DebtBusters-syfers verskil persentasiegewys van die syfers wat SSA onlangs bekend gemaak het oor hoe Suid-Afrikaanse huishoudings hul geld bestee.

Dis moeilik vergelykbaar omdat SSA nie aandui watter besteding op skuld gedoen word nie. SSA verdeel huishoudings ook in 10 groepe, nie net vyf nie.

SSA het wel soortgelyke tendense bevind, soos dat die armste huishoudings 40,7% aan kos bestee teenoor 11,3% vir die welvarendste huishoudings.

LEES OOK | Meer vir die bank as vir bier! Só bestee Suid-Afrikaners nou hul geld

- hanlie.stadler@24.com

Benay Sager, hoof van DebtBusters.
Benay Sager, hoof van DebtBusters.
Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM