Belastingseisoen begin op 7 Julie!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kry solank jou papiere en kwitansies reg. Belastingseisoen begin vanjaar op 7 Julie en duur tot 20 Oktober, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangekondig.

Belastingbetalers wat in aanmerking kom vir outomatiese assessering sal van 7 tot 20 Julie kennisgewings hieroor ontvang. Dit is mense wie se belastingsake eenvoudig is, deurdat hulle byvoorbeeld slegs salaristrekkers is met geen ander bykomende inkomste of ingewikkelde belastingsake nie.

Die res wat nie enigiets hoor van die SAID oor outomatiese assessering nie, moet van 21 Julie af hul opgawes indien, en kry tyd tot 20 Oktober om dit te doen.

Voorlopige belastingbetalers - mense wat ander inkomstebronne benewens 'n salaris het en wie se belastingsake effe meer ingewikkeld is - asook trusts het tyd tot 19 Januarie 2026 om hul opgawes in te dien.

Die SAID het Maandagmiddag gevra belastingbetalers moet seker maak hul bankbesonderhede op hul eFiling-profiel is op datum en korrek. Om bankbesonderhede te verander, moet jou veiligheidskontakbesonderhede (e-pos en selfoonnommer) op die SAID se eFiling-stelsel wel ook korrek en op datum wees.

Outo-assessering

Die SAID sê hy gaan vanjaar voortbou op sy veldtog van outo-assessering van nie-voorlopige en voorlopige belastingbetalers wie se belastingsake nie ingewikkeld is nie.

Outo-assessering is moontlik danksy inligting wat die SAID deesdae regstreeks van werkgewers, banke, pensioenfondsadministrateurs, mediese skemas en ander ontvang. Dit beteken die SAID vul klaar jou belastingopgawe vir jou in en reik 'n outomatiese aanslag uit.

Belastingbetalers wat in die kategorie vir outo-assessering val, hoef niks te doen as hulle saamstem met die SAID se berekeninge op hul opgawe nie. As jy wel dink die SAID het nie al die nodige inligting nie, het jy tyd tot 20 Oktober om veranderings aan te bring en dit via eFiling in te stuur.

Belastingbetalers aan wie 'n terugbetaling verskuldig is, sal dit volgens die SAID binne 72 uur van die uitreiking van die outo-assessering ontvang.

Volgens die SAID sal hy per SMS of e-pos met belastingbetalers skakel oor hul outo-assessering.

As iemand iets aan die SAID skuld, moet dit via eFiling, die SAID MobiApp of in die SAID se bankrekening inbetaal word teen die datum wat aangedui sal word.

‘Moenie kantoor toe kom nie!'

Die SAID moedig belastingbetalers aan om liewer nie sy takke te besoek nie, maar eerder sy digitale kanale te gebruik, soos eFiling en die MobiApp. As 'n besoek aan 'n tak onvermybaar is, moet mense 'n afspraak maak via die digitale kanale.

Die SAID is in 2022 geraak deur 'n staking deur werkers, wat besoeke aan sy takke bemoeilik het. In 2023 is die SAID in die Wes-Kaap geraak deur die uitgebreide taxistaking.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA