Beleggings

Adv. John Simpson nou nuwe Fais-ombud

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Adv. John Simpson toe hy nog ’n lid van die Nasionale Verbruikerstribunaal was. Foto: Skermgreep
Adv. John Simpson toe hy nog ’n lid van die Nasionale Verbruikerstribunaal was. Foto: Skermgreep

Enoch Godongwana, minister van finansies, het 'n nuwe ombud vir finansiëlediensteverskaffers - die sogenaamde Fais-ombud - aangestel.

Adv. John Simpson was voorheen 'n landdros, 'n hoofbestuurder by die Ombud vir Bankdienste, 'n regskonsultant en onlangs 'n voltydse tribunaallid van die Nasionale Verbruikerstribunaal.

Hy vervang Thobile Masina, wat sedert 13 September vanjaar as Fais-ombud waargeneem het.

Simpson is met ingang van 1 November vir 'n tydperk van twee jaar aangestel.

Die kantoor van die Fais-ombud speel 'n belangrike rol om verbruikersklagtes te bereg in gevalle waar die voorkomende bepalings van wette vir die finansiële sektor - soos die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor (FSR) en die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) - nie daarin geslaag het om verbruikers te beskerm nie.

Godongwana het Leanne Jackson ook onlangs as hoofombud van die Ombudsraad aangestel. Haar aanstelling geld vir vyf jaar met ingang van 1 November.

Leanne Jackson, wat as hoofombud van die nuwe Ombudsraad aangestel is. Foto: Linkedin
Leanne Jackson, wat as hoofombud van die nuwe Ombudsraad aangestel is. Foto: Linkedin

Die Ombudsraad is verlede jaar ingevolge die FSR-wet gestig. Dit is 'n nuwe finansiële ombudstelsel wat ingevolge die FSR-wet tot stand gebring is.

Die doel van die raad is om te help verseker dat finansiële kliënte toegang het tot bekostigbare, doeltreffende, onafhanklike en billike alternatiewe dispuutoplossingsprosesse vir hul klagtes oor finansiële instellings.

Dié raad het toesighoudende magte oor sowel ombuds wat ingevolge wetgewing as vrywillige bedryfsombuds daargestel is.

Dit sluit in die pensioenfondsberegter; die Fais-ombud, die kredietombud; die ombud vir langtermynversekering; die ombud vir korttermynversekering; die ombud vir bankdienste; en die JSE-ombud.

Die Ombudsraad sal onder meer 'n eenvormige raamwerk vir dispuutoplossings oor die hele finansiëledienstesektor skep.

Godongwana sê in 'n verklaring Eileen Meyer, die vorige hoofombud, was net vir die oorgangstyd aangestel sodat die raad met sy werksaamhede kon begin; ook met die proses om 'n voltydse hoofombud aan te stel.

Tito Mboweni, voormalige minister van finansies, het Meyer in Mei verlede jaar aangestel en haar kontrak het op 31 Oktober geëindig.

As hoofombud is Jackson se mandaat om die kantoor van die Ombudsraad te vestig en in bedryf te kry. Sy moet in die belang van die publiek optree en enige konflik tussen haar belange en dié van die raad vermy, lui die verklaring.

Sy is 'n onafhanklike konsultant oor finansiële regulering met uitgebreide ondervinding in finansiëlesektorbeleid en regulering van sowel die openbare as die private sektor.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM