Beleggings

‘Belê eerder in beginselvaste maatskappye’

Beleggers en fondsbestuurders fokus al hoe meer op maatskappye wat voldoen aan omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuursvereistes. Foto: iStock
Beleggers en fondsbestuurders fokus al hoe meer op maatskappye wat voldoen aan omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuursvereistes. Foto: iStock

Filantropiese organisasies moet hul stemme begin dik maak en nie langer geldelike steun bied aan of in maatskappye belê wat geassosieer word met sakepraktyke wat skadelik is vir die omgewing nie.

Dié pleidooi word gerig in die jongste filantropiese oorsigverslag wat die afgelope week bekend gemaak is.

Beleggers en fondsbestuurders fokus al hoe meer op maatskappye wat voldoen aan omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuursvereistes, oftewel ESG-verantwoordelikhede.

Tracey Davies, uitvoerende direkteur van Just Share, 'n aandeelhouersaktivisme-organisasie, het die afgelope week op 'n simpo­sium van die Onafhanklike Filantropievereniging van Suid-Afrika gewaarsku teen "greenwashing" - wanneer maatskappye voorgee hulle kom hul ESG-verantwoordelikhede na, terwyl dit nie die geval is nie.

Morgan Stanley se mees onlangse navorsing toon ESG-fondse het gemiddeld 2,8% beter as ander gevaar.

"Sulke fondse vaar selfs beter in onseker tye. 2020 dien as voorbeeld waar dit 4,1% beter presteer het as ander fondse," sê Steve Nicholls, hoof van omgewingsvolhoubaarheid by die Nasionale Sake-inisiatief.

Old Mutual Investment Group skryf in sy jongste verslag oor verantwoordelike beleggings hoe sy fondsbestuurders "landmyne" kon vermy deur die maatskappye waarin belê word volgens ESG-beginsels te sif.

In 2015 al het Old Mutual-fondsbestuurders se gevaarligte geflikker oor Steinhoff se bestuurspraktyke en daar is aktief van Steinhoff-aandele ontslae geraak.

Steinhoff se aandeelprys het in Desember 2017 met 85% gedaal namate verdagte bestuurs- en rekenkundige praktyke aan die lig gekom het.

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM