Buitelanders het van begin vanjaar meer as R100 miljard se aandele en effekte verkoop - 'n duidelike teken dat negatiewe beleggersentiment nóg verder versuur het, sê JC Louw, uitvoerende hoof van DFM Global.
Die maatskappy spesialiseer in onafhanklike diskresionêre fondsbestuur en grond sy data op transaksies van Suid-Afrikaanse effekte en aandele wat die JSE aanteken.
"Die netto verkope van ons bates is baie onrusbarend," sê Louw.
Dit was reeds in 2022 'n slegte jaar met netto verkope en die eerste paar weke van 2023 lyk nóg slegter.
"In vorige jare was daar minstens aan die begin van die jaar nog netto aankope (sien grafieke).
"Maar 2023 is anders. Dit lyk of die pas versnel waarteen buitelandse beleggers van ons aandele en effekte ontslae raak.
"Die netto verkope is basies 'n teken dat buitelandse beleggers met hul voete stem. Die kragonderbrekings, die gebrek aan hervormings, die infrastruktuurprobleme - al hierdie dinge druk baie swaar op die land," sê Louw.
Dit is ook die redes wat die kredietgraderingsagentskap S&P Global aanvoer oor waarom hy Suid-Afrika se vooruitsig die afgelope week van positief na stabiel verander het.

Die voortgesette aftakeling van Eskom en sy onvermoë om elektrisiteit te kan lewer, asook bewerings van grootskaalse korrupsie en skade aan infrastruktuur het 'n uiters negatiewe uitwerking op plaaslike én buitelandse beleggers, sê Annabel Bishop, hoofekonoom by Investec in 'n maatskappynota.
Die netto verkope van Suid-Afrikaanse bates is dus deels te wyte aan Suid-Afrika se strukturele probleme, maar ook omdat die land sedert einde Februarie op die gevreesde gryslys van lande is wat nie genoeg doen om geldwassery te keer nie.
Die verkoop van Suid-Afrikaanse aandele wys dat oorsese beleggers wat 'n batetoewysing moet doen, dalk eerder in maatskappye oorsee sal belê, sê Louw.
"Ons plaaslike maatskappye betaal hul winste weg aan diesel (weens kragonderbrekings). Apple en Amazon word nie geraak deur beurtkrag nie. En as BBP boonop nie groei nie, gaan maatskappye in Suid-Afrika ook nie groei nie. Jy kan nie groei as jy heeltyd moet besnoei nie," sê Louw.
Statistieke Suid-Afrika het die afgelope week bekend gemaak dat Suid-Afrika se BBP vir die vierde kwartaal van 2022 met 1,3% ingekrimp het.

Madalet Sessions, portefeuljebestuurder en hoof van multi-batebeleggings by Denker Capital, sê hoe vinniger Suid-Afrika begin bekommerd raak oor die netto verkope van Suid-Afrikaanse bates, hoe beter.
"Ons kan nie buitelandse kapitaal as vanselfsprekend aanvaar nie. Vryelik beskikbare buitelandse kapitaal verlaag die langtermyn-rentekoerse op staatskuld. As daar laer rente is op staatskuld, is daar meer geld om aan ander goed te bestee."
Die nasionale tesourie het onlangs aangekondig dat die land R254 miljard van Eskom se skuld sal oorneem. Dié stap het Suid-Afrika nog verder in die skuld gedompel en totale skuld sal teen volgende jaar net onder die R6 000 miljard beloop, sê Thabi Leoka, 'n onafhanklike ekonoom.
Om die skuld te finansier, reik die regering maandeliks staatseffekte van tussen R60 miljard en R80 miljard uit - en dit word tot sover ten volle opgeneem, wat positief is, aldus Leoka.
"Die volhoubaarheid van Suid-Afrika se skuld hang af van of mense staatseffekte bly koop. Die dag as beleggers ophou (om dit te koop), gaan die prentjie verander," sê Leoka.
Wat wel in Suid-Afrika se guns tel, is dat beleggers wat groter aptyt het vir risiko steeds in ons staatskuld belê. Hulle word ryklik beloon daarvoor, sê Louw.




















