Bou welvaart: Beplan minder – maar begin vroeër

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Om welvaart te bou, moet jy weet wat jy wil bereik, wat jou gelukkig maak, skryf Geo en PJ Botha. Foto: Unsplash
Om welvaart te bou, moet jy weet wat jy wil bereik, wat jou gelukkig maak, skryf Geo en PJ Botha. Foto: Unsplash

Geo en PJ Botha, medeaanbieders van die kykNET-program Welvaartskeppers, het pas 'n boek uitgereik, Word ryk, bly ryk. Hier is 'n uittreksel.

Perfeksionisme is die vyand van produktiwiteit.

Om welvaart te skep en geld te maak, is dit allerbelangriks om tot aksie oor te gaan. Ons spandeer dikwels te veel tyd aan idees uitdink en planne beraam, en gevolglik begin ons nooit nie. Die Engelse uitdrukking sê dit so goed: "analysis paralysis".

Analysis paralysis is wanneer 'n individu- of groepproses oorgeanaliseer of oorbedink word en gevolglik voorwaartse beweging of besluitneming verlam. Binne 'n redelike tydsbestek word op geen oplossing of optrede besluit nie.

'n Goeie voorbeeld van analysis paralysis is wanneer jy besluit om 'n fliek op Netflix te kyk. Die opsies is eindeloos en jy kan kies en keur na hartelus. Jy gaan heen en weer om al die opsies te oorweeg, net om seker te maak jy slaan niks oor nie. Ironies genoeg maak die aantal opsies dit moeiliker om te kies. Ons is op soek na daardie perfekte fliek wat by ons bui pas en helaas, ná 40 minute se gesoek, word ons moeg en kyk eerder 'n mini-reeks. Vroeër was die besluit soveel makliker.

As jy eendag 'n Ferrari wil ry want jy is 'n petrolkop, great! As jy daarmee wil ry want iemand het jou op skool sleggesê en jy wil hom verkeerd bewys, moet jy dalk mooi daaroor dink.

M-Net het een fliek op 'n Sondagaand gewys en jy moes besluit of jy dit wil kyk of nie. Die opsies was 'n ja of nee. Die moderne wêreld bied ons ongelooflik baie opsies en moontlikhede, maar kan ons baie vinnig oorweldig laat voel. Ons is bang om 'n keuse te maak, want ons glo dat daar dalk iets beters kan wees en ons FOMO - fear of missing out - neem toe.

Ons is ook baie bang vir foute maak: netnou begin ons en dinge loop skeef of ons het van iets vergeet. Daarom besluit ons om eerder aan die plan te werk en elke stap haarfyn te beplan. Ons ken ons visie, missie en vyfjaarplan uit die kop en ons weet presies watter probleem ons wil oplos, net om in die praktyk te besef dat ons teikenmark eintlik op soek is na iets anders.

In The Lean Startup raak Eric Ries juis hierdie punt aan. Die soeke na perfeksie is die hoofrede waarom die meeste entrepreneurs se besighede nooit aan die gang kom nie. Sy raad is dat wanneer jy 'n besigheid, produk of diens wil begin, jy 'n minimaal lewensvatbare produk moet skep.

Met ander woorde, die produk of diens in sy basiese vorm gerugsteun deur 'n goeie idee van die probleem wat jy probeer oplos. Stuur hierdie produk dan aan 'n paar mense om te toets. Dit kan vriende, familie of 'n groep studente wees en jy kan hulle selfs hiervoor betaal. Dan is dit baie belangrik om terugvoer by hulle te kry: Waarvan hou hulle en waarvan nie? Wat kan jy verbeter en wat moet verander?

Gaan dan voort, kyk aandagtig na hul voorstelle, leer daaruit en implementeer dit. Hierdie proses staan as die terugvoersiklus bekend. Herhaal die siklus soveel keer as wat nodig is tot jy uiteindelik by 'n produk of diens uitkom wat gereed is om aan die mark voorgelê te word.

Die hindernisse van perfeksionisme en uitstel geld ook vir 'n persoon se finansies. Ons sien dit so dikwels in ons praktyk dat kliënte weet dat hulle aandag aan hulle begroting moet gee en begin investeer. Pleks van tot aksie oor te gaan, vors hulle na, win talle opinies om die braaivleisvuur of in die Woolies-ry in, koop die nuutste uitgawe van FinWeek (en laat dit stof vergader) of hou Twitter dop vir die nuutste tendense, hetsy groen energie of kriptogeld. As mens weer sien, is ses maande verby en nog niks gedoen nie en so hou die siklus aan.

Om te begin en op te tree is ook hier jou beste strategie. Hiermee sê ons nie dat jy jou geld in enige skema of prentjie van 'n aap moet belê nie - ons praat meer oor hierdie aspek in Deel 2, Welvaartbestuur.

Welvaart gaan ook oor meer as net finansiële rykdom en vir elkeen lyk die prentjie van welvaart en 'n suksesvolle lewe anders.

Ander redes waarmee ons onsself oortuig dat ons nie 'n begin kan maak nie, is:

• "Ons skoolsisteem leer ons nie hoe om met geld te werk nie." Dit is honderd persent waar. Dit is ook die hoofrede waarom ons ons eie podcast-reeks, "The F-Word - Finance", begin het. Die skoolsisteem het die industriële sisteem as basis met die bou van 'n groot en winsgewende masjien as uitgangspunt. Jy hoef nie deel van dié sisteem te wees nie, maar dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om sy of haar kennis te verbreed. Die feit dat jy tyd afknyp om hierdie boek te lees, plaas jou reeds in goeie geselskap.

• "Ek is bang om my idee oor hoe om geld te maak met iemand te deel. Netnou steel hulle dit!" Om 'n idee te hê is die maklike deel en baie mense het al goeie idees gehad. Om dit uit te voer is moeilik. Talle suksesvolle maatskappye het nie 'n splinternuwe idee na die mark gebring nie, maar sukses bereik met prosesse en die uitvoering van die idee. Discovery was nie die eerste mediese fonds nie en Facebook ook nie die eerste sosialemedia-toepassing nie.

• "Ek het nie geld om 'n besigheid te begin nie." Ons leef in 'n wonderlike era waar dit nie meer so kapitaalintensief is om 'n besigheid te begin nie. Jy hoef nie te wag vir miljoene rande nie. Neem die idee wat jy het, los 'n probleem op en kry 'n betalende kliënt, dit maak nie saak hoe klein nie. Jy kan deesdae vanuit enige plek in die wêreld 'n besigheid bedryf en jy benodig feitlik geen kapitaal nie, solank jy 'n goeie idee en toegang tot die internet het.

In ons onderhoud met Michael Jordaan, voormalige hoof van FNB en nou 'n waagkapitalis wat in nuwe maatskappye belê, noem hy dat hy nie in idees belê nie maar in die persoon wat die besigheid bedryf. Wees daardie persoon in wie ander sal wil belê.

Dit is belangrik om jou nie blind te staar teen verskonings nie, maar om jou ingesteldheid reg te kry en dus geleenthede raak te sien om welvaart te skep. Die meeste van jou beperkinge en finansiële probleme word deur een persoon veroorsaak: jouself. Baie kundiges kan help en adviseer, maar op die ou einde is dit slegs jy wat jou eie welvaart kan skep. As jy dié boek lees, neem ons aan jy het reeds die besluit geneem: "Ek wil ryk word!" Dit is net die begin en voor ons die praktiese sake aanroer, vra jouself eers die vraag: "Hoekom wil ek ryk word?"

Dit kan dalk simpel klink, maar dikwels is ons soos 'n hond wat 'n kar jaag. Wanneer die hond die kar inhardloop, weet hy nie wat om daarmee te maak nie en gee dit hom geen vreugde nie. Welvaart gaan ook oor meer as net finansiële rykdom en vir elkeen lyk die prentjie van welvaart en 'n suksesvolle lewe anders.

Jou welvaartreis

• Waarom wil jy meer geld hê?

• Wat beteken rykdom vir jou?

• Hoe lyk 'n suksesvolle lewe vol betekenis vir jou?

Maak 'n lys van die doelwitte wat jy nastreef. Noem materiële dinge, maar ook aspekte wat waarde sal toevoeg tot jou ideale van sukses. Maak 'n lys van doelwitte in elk van die volgende kategorieë:

• loopbaan en besigheid;

• verhoudings met ander;

• spiritualiteit;

• fisieke gesondheid; en

• finansiële rykdom en materiële besittings

Die goeie nuus is dat daar nie verkeerde antwoorde is nie. Hierdie is nie 'n vraestel waar jy kan afkyk nie. Dit is alleen eie aan jou en gaan die dryfveer wees vir die res van jou welvaartreis. Besluit wat vir jou belangrik is.

Jy moet die rede, die hoekom ontdek wat jou gaan dryf om sukses te behaal.

As jy eendag 'n Ferrari wil ry want jy is 'n petrolkop, great! As jy daarmee wil ry want iemand het jou op skool sleggesê en jy wil hom verkeerd bewys, moet jy dalk mooi daaroor dink.

Almal weet dat materiële goed jou gelukkig kan maak, maar net tot op 'n punt. 'n Goeie glas rooiwyn is lekker, maar jy kan net soveel drink. (Dalk is dit nie die beste voorbeeld nie!)

Jy moet die rede, die hoekom ontdek wat jou gaan dryf om sukses te behaal. Is dit om die wêreld vol te reis en die mees interessante plekke te sien? Is dit om die vryheid te hê om jou passie jou werk te maak en van enige plek af te werk? Dalk wil jy jou ouers help en vir hulle sorg ná aftrede? Of wil jy 'n warm, liefdevolle huis skep waar jou gesin 'n veilige vesting het? Wanneer jy weet wat vir jou belangrik is, kan jy dienooreenkomstig spandeer en sny.

As jy die rede waarom jy welvaart skep vind, die "WHY" waarvoor Simon Sinek so bekend is, sal dit die nodige motivering gee vir die reis vorentoe. Jy kort twee goed: motivering om te begin en gewoontes om jou deur die tye te dra wanneer motivering ontbreek. So, vind jou motivering, skryf dit neer, sny prente uit en plak hulle op jou spieël.

Sodra jy dit gedoen het, kan ons wegspring.

Onthou, dit gaan nooit perfek wees nie; die belangrikste is om te begin.

• Word ryk, bly ryk word deur Lapa uitgegee en sal van 18 Julie af in boekwinkels en aanlyn te koop wees.

Geo En Pj Botha

SPELETJIES VANDAG

CTA