Beleggings

Dié dinge raak die rand se waarde

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het so 'n paar jaar gelede 'n baie gedetailleerde en sterk statisties gedrewe ontleding gedoen oor wat presies die faktore is wat die wisselvalligheid in die waarde van die rand bepaal.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.
Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Hul gevolgtrekking was dat die wisselvalligheid primêr bepaal word deur die beweging in die pryse van kommoditeite, wêreldkapitaalvloei en plaaslike politieke veranderlikes. Wat interessant was, is dat Amerikaanse ekonomiese verrassings 'n groter impak het as byvoorbeeld verrassings in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

As ek kyk na die drie groot faktore, lyk die prentjie as volg:

• Internasionale kommoditeitspryse - Die meegaande grafiek wys die beweging in kommoditeitspryse (rooi lyn) en die beweging van die rand (blou lyn) oor die afgelope 10 jaar.

Die noue korrelasie is baie duidelik en verklaar deels die verstewiging van die rand sedert April 2020 toe dit teen swakker as R19 (of byna 5 Amerikaanse sent) verhandel het.

Gevolgtrekking: Terwyl kommoditeitspryse sterk bly, gaan dit die rand se waarde steun.

• Wêreldkapitaalvloei - In 2020 het kapitaalvloei na opkomende markte afgeneem namate die wêreld se ekonomieë onder druk gekom het. Histories het vloei na opkomende markte sterk opgetel wanneer die wêreld uit negatiewe ekonomiese groei beweeg. Ons het die eerste sterk tekens hiervan in die laaste maande van 2020 begin sien en die verwagting is dat hierdie tendens gaan voortduur namate die wêreldekonomie begin normaliseer. 'n Groot faktor hier gaan die sukses en tempo van inentings teen die koronavirus wees en tot watter mate Suid-Afrika die pandemie die stryd kan aansê.

Gevolgtrekking: As die huidige vertroue in die herstel van die wêreldekonomie gaan voortduur, gaan ons steeds kapitaalvloei na opkomende markte sien en Suid-Afrika behoort voordeel hieruit te trek. Terwyl die Suid-Afrikaanse regering se fokus op groei en die skepping van 'n vriendeliker beleggersomgewing voortduur, behoort hierdie vloei die rand te steun.

• Politieke onsekerheid - die vraag hier is hoe seker pres. Cyril Ramaphosa van sy posisie is en of daar 'n werklike bedreiging vir sy leierskap gaan wees namate die ANC se leierskapskonferensie van Desember 2022 nader kom.

Tans is daar beduidende politieke lawaai en dit maak dit moeilik om 'n werklike akkurate temperatuurmeting van die leierskap te neem. As ek na die kalender kyk, gaan die volgende paar maande vir ons 'n duideliker prentjie gee van hoe dinge kan uitspeel.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo se langverwagte kommissie van ondersoek na staatskaping is in die pylvak en mik om iewers in die derde kwartaal 'n verslag met sy bevindinge te publiseer. Hierdie verslag gaan nie ver van die munisipale verkiesings bekend gemaak word wat iewers tussen Augustus en November moet plaasvind nie. Voeg hierby die onsekerheid van 'n derde Covid-19-vlaag en die gesukkel van die owerhede om inentings op groot skaal aan die publiek beskikbaar te stel.

Teen hierdie agtergrond begin die eerste tekens van die slagordes vir die volgende leierskapverkiesing vorm aanneem - die Ramaphosa-groepering in die een hoek, teenoor die sameflansing van almal wat rondtrippel om uit oranje oorpakke te bly, in die ander hoek.

Gevolgtrekking: As jy reken die span van Radikale Ekonomiese Transformasie gaan die ANC-appelkar omgooi, gaan die rand verseker in die hek duik. As jy egter reken dat daar 'n baie meer voorspelbare en stabiele politieke omgewing in plek gaan kom namate ons nader aan 2022 beweeg, behoort dit vertroue in die rand en kapitaalvloei na Suid-Afrika te ondersteun.

In die langer termyn gaan die verskil tussen Suid-Afrika se rand-inflasiekoers en die Amerikaanse dollar se inflasiekoers egter 'n belangriker rol speel in die tempo waarteen die rand teenoor die dollar verswak - terwyl Suid-Afrika se inflasie hoër is as die VSA se inflasie, gaan die koopkrag van die rand daardie verswakking weerspieël.

'n Mens moet altyd onthou dat hierdie nie 'n vooruitskatting is nie, maar eerder 'n voorstel van die langertermyntendens en tweedens dat die rand by tye drasties van hierdie langtermyn-inflasieverskil kan wegbeweeg. Hierdie wegbeweging van die band gaan gewoonlik met 'n politieke of ekonomiese skok gepaard wat dan 'n skielike beweging veroorsaak wat dan oor tyd terugbeweeg na 'n meer rasionele en ekonomies regverdigbare vlak.

Onthou dat die bewegings in die waarde van die rand maar net een van die redes is om internasionaal te diversifiseer en voorts dat jy hierdie besluit uit die hoek van 'n internasionale burger moet maak. As dit kom by sport ondersteun ons almal die Bokke of die Proteas, maar as dit kom by jou beleggings moet lojaliteit of patriotisme nie 'n rol speel nie - jy moet gaan kyk waar jy die beste risiko- of opbrengsverhouding vir jou eie finansiële doelwitte kan behaal. Uiteindelik gaan die vraag oor die vlak van jou buitelandse blootstelling en in watter buitelandse bateklasse jy moet belê.

Waar jy bly en hoe jou internasionale blootstelling daarna uitsien, is 'n komplekse vraag en hang van elke individu se eie finansiële omstandighede en doelwitte af, solank dit 'n rasionele besluit is wat gebaseer is op 'n deurdagte langtermynstrategie.

  • Theo Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.
Theo Vorster, Galileo Capital

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM