Beleggings

Die spook van 2008 loop

Net ingeval jy die laaste tyd in 'n koma was of sonder sein diep in die Kalahari, deel ek graag die volgende: Sedert 19 Februarie gryp die verspreiding van die koronavirus wat die siekte Covid-19 veroorsaak, die media en finansiële markte se verbeelding aan.

Andró Griessel
Andró Griessel

Sien die tabel hieronder oor die dalings op van die wêreld se hoofbeurse (almal in dollar) van 19 Februarie tot en met die skryf van dié artikel op 11 Maart.

Al die markte (met die uitsondering van China en Hongkong) het omgeswaai van relatief goeie syfers oor 12 maande syfers tot tegnies in 'n beermark (met ander woorde 'n daling van meer as 20%) in minder as 'n maand.

Dit slaan nogal jou asem weg en baie vrae word tans gevra oor waar dit kan/gaan eindig en wat jy as belegger moet doen in die lig hiervan.

Ek is nie 'n viroloog nie en wil my nie uitlaat oor die sterfte- of infeksiekoers en die moontlikheid van en tydsduur totdat 'n entstof gevind word nie.

Ek wil wel 'n vooruitsig oor die drastiese prysbewegings gee en waarom ek glo dit sal soos by vorige geleenthede waar markte internasionaal afverkoop is, in 'n stadium weer vinnig terugspring.

Data soos op 11 Maart:

  • Bevestigde gevalle = 124 663 (0,002% van die totale wêreldbevolking)
  • Totale sterftes = 4 595 (3,69% van die getal geïnfekteerdes; 0,00006% van die totale wêreldbevolking)
  • Gemiddelde getal Covid-19-sterftes = 55 per dag

Vir konteks:

  • Gemiddelde getal tuberkulose-sterftes = 3 014 per dag
  • Gemiddelde getal sterftes aan tuberkulose, hepatitis B, longontsteking, MIV en malaria = 9 772 per dag

Gun my die geleentheid om 'n paar gewaarwordinge te deel:

Dit ly geen twyfel nie dat die nuwe koronavirus reeds 'n wesenlike negatiewe invloed op sekere bedrywe het. Veral die gasvryheid- en reisbedryf word tans erg geraak.

Dit is egter belangrik om te verstaan dat dit die gevolg is van (a) ons reaksie op die nuusvloei en (b) ons stappe om infeksie te probeer vermy (soos die afstel van kongresse, sportbyeenkomste, reisplanne ens.) en nie van die huidige infeksie- of sterftekoers self nie.

Vir 'n handige opsomming oor die koronavirus klik gerus op dié skakel.

Wanneer jy na 'n maatskappy kyk, is daar 'n paar maniere om die realistiese waarde daarvan te bepaal. Een van die algemeenste metodes is die sogenaamde verdiskonteerde-kontantvloei-model.

Hardebaard-beleggers gebruik die huidige situasie om hul posisie in goeie maatskappye wat op uitverkoping is, te vergroot. Foto: iStock
Hardebaard-beleggers gebruik die huidige situasie om hul posisie in goeie maatskappye wat op uitverkoping is, te vergroot. Foto: iStock (iStock/iStock)

Dit behels eenvoudig dat jy in die lig van wat jy van 'n maatskappy weet, die toekomstige kontantvloei/wins onder normale omstandighede projekteer en dan weer teen 'n gekose diskontokoers verdiskonteer.

Die som van al die verdiskonteerde kontantvloei gee dan vir jou 'n geraamde teenswoordige waarde.

As jy dié oefening doen en jy haal een hele jaar se wins uit jou berekening, verander dit die berekende "waarde" van die maatskappy nie wesenlik nie.

As ons die logika dus deurvoer en aanneem dat die koronavirus andersins winsgewende maatskappye se winste vir 'n volle jaar (of dalk langer) heeltemal kan uitwis, kan dit steeds nie 'n permanente waardedaling van 20% of meer verduidelik nie.

Daar sál maatskappye ondergaan weens die koronavirus en spesifiek die maatreëls wat ingestel gaan/moet word om infeksies te beperk.

Dit sal tipies maatskappye wees wat baie skuld op die balansstaat het en/of min of geen kontantreserwes het nie. Net so sal daar maatskappye wees wat munt slaan uit die situasie en 'n groter wins as ooit tevore gaan maak.

Uit bogenoemde dalings is dit egter duidelik dat (met die uitsondering van die Chinese aandelebeurs) maatskappye tans bykans voor die voet verkoop word, ongeag hul sakemodel of geografie, en dat die aanname gemaak word dat hul toekomstige winste permanent beperk gaan word.

Dit is eenvoudig nie logies nie.

Ek meen die huidige dalings is oordrewe, maar dit is baie moontlik (veral met die huidige atmosfeer van paniek in ag geneem) dat aandele se pryse nog verder kan daal.

Voordat 'n wêreldwye permanente daling in die waarde van maatskappye 'n werklikheid word, is 'n grootskaalse bevolkingsuitwissing nodig.

Ek is nie seker enige persoon het 'n idee waar die infeksiekoers uiteindelik kan gaan draai nie, maar ek dink voordat 'n wêreldwye permanente daling in die waarde van maatskappye 'n werklikheid word, 'n grootskaalse bevolkingsuitwissing nodig is.

Selfs al sou die getal infeksies toeneem tot 10 miljoen mense (van die huidige 125 000) sou die totale sterftes beperk wees tot ongeveer 0,005% van die wêreldbevolking (mits die huidige sterftekoers konstant bly).

As ek verder in ag neem dat verreweg die meeste van die 0,005% ekonomies onaktiewe mense is, sukkel ek om die dalings te regverdig.

Hardebaard-beleggers gebruik trouens die huidige situasie om hul posisie in goeie maatskappye wat op uitverkoping is, te vergroot.

As jy 'n beleggingshorison van tien jaar of langer het, behoort jy na my mening níks te doen nie. Die feit dat die mark vir jou 'n aanbod maak van 20% minder as 'n maand gelede, beteken nie jy is onder 'n verpligting om dit te aanvaar nie.Andró Griessel is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM