Groot geskarrel om in Indië te belê

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In 'n jaar van treurmares op wêreldmarkte is daar een ligpunt: Indië.

Voetgangers en druk verkeer in Varanasi in Indië. Foto: Getty Images
Voetgangers en druk verkeer in Varanasi in Indië. Foto: Getty Images (Ritesh Shukla)

Die MSCI-Indië-indeksfonds het van Januarie tot einde Oktober vanjaar 'n opbrengs van 6,59% in randwaarde gelewer vergeleke met die MSCI-wêreldfonds se -7,96% en die MSCI-ontluikendemarkfonds se -18,73%.

Kingsley Williams, beleggingshoof by Satrix, sê Indië se ekonomie - veral die IT-sektor - is meer dienste-georiënteerd as byvoorbeeld dié van China, wat 'n sterker vervaardigingsfokus het. Die dienstesektor is beter gepantser gedurende ekonomiese afswaaifases as die vervaardigingsektor. "Maatskappye wat dienste lewer, is die lewensaar vir hul kliënte - ook in swak ekonomiese tye. Jy kan nie soos met vervaardigers aankope van produkte besnoei of uitstel totdat sake weer kop optel nie," sê Williams.

Williams het by 'n beleggingseminaar van Satrix terugvoering gegee oor die vertoning van die grootste indeksfondse die afgelope tyd. Satrix is Suid-Afrika se grootste indeksbeleggingsmaatskappy en bied toegang tot indeksfondse en effektetrusts vir individuele en institusionele beleggers, soos pensioenfondse. Maatskappye oor die wêreld heen het sedert die vroeë dae van die internet begin om dienste soos sagteware-ontwikkeling, kliëntediens deur middel van inbel­sentrums en agterkantoor-funksies aan Indiese firmas uit te kontrakteer. Die sterk fokus op dienslewering eerder as vervaardiging het Indië goed te pas gekom en die land se maatskappye is veerkragtiger en minder blootgestel aan markskommelinge, sê Wil­liams.

Indië is dekades lank oor die hoof gesien as 'n beleggingsbestemming ten gunste van China, maar die land word nou ál gewilder onder beleggers wat hul vingers verbrand het in China.

Indië se aandelemark het dié van China uitpresteer oor die afgelope 20 jaar, al was sy ekonomiese groei heelwat laer as China s'n.

Izak Odendaal, belegging­strateeg by Old Mutual Wealth, het vroeër in 'n maatskappynota gesê mense moenie die fout maak om te dink daar is noodwendig 'n positiewe verwantskap tussen ekonomiese groei en beleggingsopbrengste nie. China se ekonomiese groei oor die afgelope drie dekades het byvoorbeeld nie gelei tot dieselfde opbrengste op die aandele- of effektemarkte nie.

Trouens, Indië se aandelemark het dié van China uitpresteer oor die afgelope 20 jaar, al was sy ekonomiese groei heelwat laer as China s'n. Die MSCI-China-indeksfonds se opbrengste was van Januarie tot einde Oktober vanjaar 'n treurige -34,12%. Selfs oor 'n langer beleggingstermyn van vyf jaar was die opbrengs negatief (-4,82%) - in 'n tyd toe die MSCI-ontluikendemarkfonds 'n opbrengs van 2,13% en die MSCI-wêreldfonds 12,12% gelewer het.

Ekonome en markontleders voorspel dat die beleggings­partytjie in Indië nog 'n ruk sal voortduur, want die mark daar word ondersteun deur gesonde makro-ekonomiese beginsels en goeie verdienstevooruitsigte vir Indiese maatskappye.

'n Belangrike faktor wat in Indië se guns tel en ekonomiese groei kan rugsteun, is die land se relatief jong bevolking, met 'n mediaan-ouderdom van 28. Dit is nie net positief vanuit 'n verbruikersbestedingsoogpunt nie, maar ook besonder gunstig vir Indië se arbeidsmark. "Dit beteken die land het 'n bevolking wat oud - en jonk - genoeg is om te werk," sê Williams. Indië maak ook goeie opgang met tegnologie-maatskappye en het in 2021 44 "unicorns" (beginondernemings in private besit wat meer as $1 miljard werd is) gehad, die derde meeste naas die VSA en China.

  • Bykomende bronne: MSCI India Factsheet; forbesindia.com
Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA