Beleggers wat Covid-19-koors opgedoen en uit paniek aandele verkoop het, kan hulself reeds skop nadat markte in die laaste weke begin herstel het. Maar onsekerheid is vir eers hier om te bly. Herman Scholtz het vir kenners gevra wat voorlê en hoe om koelkop te bly.

Vir beleggers is die nuwe normaal 'n wipwaentjie waar meer as 'n kwart van aandelemarkte se waarde in Maart uitgewis is, net om weer stil-stil kop op te tel.
Die afgelope week was die JSE-indeks vir alle aandele 25% hoër as 'n maand gelede, maar steeds 15% laer as in Januarie. Die S&P500 het in die afgelope maand met 13% gestyg, maar is nog 15% laer as in Januarie.
Jeanette Marais, uitvoerende hoof van Momentum Investments, sê dit is al keer op keer bewys dat paniekverkope vernietigend is vir beleggers se welvaart. "Om tydens terugsakkings in die mark te verkoop, beklink nie net jou papierverliese nie, maar beleggers loop die risiko dat hulle die herstel in die markte kan mis."
Die herstel kan baie vinnig gebeur en beleggers onkant betrap.
Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, sê ekonomieë het die afgelope eeu gewoonlik 'n V-vorm aangeneem op 'n grafiek. Die opswaai is so skerp soos die afswaai.
So 'n herstel is een van vier moontlike scenario's, sê Packirisamy. Dit kan net gebeur as inperkings betreklik vinnig opgehef word sodat ekonomieë al in die huidige kwartaal weer aan die gang kom. 'n Medisinale deurbraak teen Covid-19 sou baie help.
Aangesien die Imperial College London se vooruitskattings nou is dat sterftes in Amerika eers in Junie 'n hoogtepunt gaan bereik, raak die vooruitsigte van 'n ekonomiese herstel in dié kwartaal al hoe skraler, sê sy.
7 tot 23 maande
Peter Urbani, hoof van portefeuljesamestelling van Sanlam Investments, het in die afgelope week in 'n nota aan beleggers 'n tydperk van tussen sewe en 23 maande vir 'n herstel in die plaaslike aandelemark voorspel.
"As ons van herstel praat, is dit belangrik om te onderskei tussen die aandelemark en die ekonomie. In tye van resessies lei die markte dikwels die herstel en die ekonomie volg stadiger."
Urbani sê die JSE sal met 27,8% moet groei om van die jongste afswaai te herstel en op grond van historiese data kan dit normaalweg 17 tot 23 maande neem om van die verliese te herstel. Maar as die V-opswaai so vinnig gebeur soos in meeste van die 40 gevalle sedert 1925, kan dit al binne sewe maande herstel.
"Hoe groter die terugsakking, hoe meer waarskynlik was 'n V-vormige herstel."
In tye van resessies lei die markte dikwels die herstel en die ekonomie volg stadiger.
— Peter Urbani van Sanlam
In al die gevalle behalwe twee het dit net nege maande geduur om die verliese uit te wis.
Packirisamy sê die V-vorm kan heel moontlik eerder 'n U-vorm word, waar die swaar ekonomiese tye 'n bietjie langer duur voor die opswaai.
Sy sê dís waarskynlik indien die ekonomieë wêreldwyd eers in die derde kwartaal weer vaart kry. "Ons verwag dat China vinniger as Amerika en Europa uit 'n resessie sal kom omdat die infeksiekoerse daar vroeër 'n hoogtepunt bereik het."
Te midde van die onsekerheid moet beleggers fokus op dít wat binne hul beheer is.

Daar is juis nóú geleenthede
Wouter Fourie, direkteur van Ascor Independent Wealth Managers, sê langtermynbeleggers trek groot voordeel uit tydperke van markonsekerheid.
"Beleggers verdien steeds rente en dividende so lank as wat hulle in die mark bly en dié inkomste koop eenhede in 'n effektetrust teen 'n laer prys. As jy vasbyt, gaan jy beloon word."
Dis ook nou die geleentheid vir aktiewe fondsbestuurders om hul waarde te wys, sê Fourie. Hulle kan nou die regte aankope maak teen goeie pryse om in die toekoms bogemiddelde opbrengste te verseker.
Buite die aandelemark is daar ook geleenthede: Ná die afgradering van Suid-Afrika se skuld het opbrengste vir staatseffekte die hoogte ingeskiet. Dis goeie nuus vir mense wat nou met gewaarborgde annuïteite wil aftree of dié annuïteite met hul bestaande lewende annuïteite wil koop. Hoe hoër die effekteopbrengste is, hoe groter is die pensioenbedrag wat 'n versekeraar jou sal aanbied.
Die effekteopbrengste het ook die opbrengste van die RSA Retail Savings Bonds die hoogte laat inskiet. Beleggers kan nou 11,5% per jaar kry vir 'n vyfjaar-effek en 9% vir 'n driejaar-effek, dít terwyl die rentekoers die laaste maand met twee persentasiepunte gedaal het.
Verstaan hoe diversifikasie werk
Marc du Plooy, besturende direkteur van Wealth Associates SA, sê beleggers moet probeer om minder op nuushooftrekke oor die aandelemark te fokus.
"Vir die sowat 2 miljoen Suid-Afrikaanse beleggers is die daaglikse beweging van die JSE nie baie betekenisvol of bruikbaar nie."
Wanneer iemand oor die nuus hoor die JSE het met byvoorbeeld 6% of 8% gedaal op die dag, kry hulle waarskynlik 'n klein hartaanval. Maar dit is hoegenaamd nie 'n aanduiding van hoe hul beleggings vaar nie.
— Marc du Plooy van Wealth Associates
Dis omdat byna alle beleggers se neseier in 'n mindere of meerdere mate in diverse bateklasse belê is.
Sowat die helfte van die R2 500 miljard wat in Suid-Afrikaanse effektetrusts belê is, is belê in multibatefondse. In baie gevalle besluit die fondsbestuurder hoeveel van die geld in aandele, kontant, effekte of eiendom belê moet word en hoe die geld tussen oorsese en plaaslike markte verdeel moet word.
"Wanneer iemand oor die nuus hoor die JSE het met byvoorbeeld 6% of 8% gedaal op die dag, kry hulle waarskynlik 'n klein hartaanval. Maar dit is hoegenaamd nie 'n aanduiding van hoe hul beleggings vaar nie."
As voorbeeld sê hy die JSE het vir die jaar tot 31 Maart 20,36% in die rooi gesluit. Vir dieselfde tydperk was multibatefondse met min aandeleblootstelling net 3,4% in die rooi.
Oor die driejaartydperk tot 31 Maart was die JSE 7,28% in die rooi, maar die multibatefondse 8,12% in die groen.
Vra dié vrae oor jou beleggings
Andrew Davison, adjunkvoorsitter van die beleggingskomitee van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika, sê baie beleggers kry nou state vir die eerste kwartaal en gaan nie hou van wat hulle sien nie.
In baie gevalle sou die verliese dubbelsyfers wees en die tydperk - tot 31 Maart - sluit boonop nie die mees onlangse herstel in die aandelemarkte in nie.
Beleggers moet daarom nie te veel uit hul state probeer aflei nie, waarsku Davison.
Maar dit is wel 'n goeie tyd om jou portefeulje vanuit ander perspektiewe te bekyk. Davison sê jy moet die volgende vrae vra:
- Indien jou fonds se mandaat min wisselvalligheid insluit, het dié belofte gerealiseer?
- Het jou fonds swakker of beter gevaar as soortgelyke fondse, en waarom?
- As jy in 'n passiewe fonds belê wat 'n indeks naboots, het jou fonds in pas met die indeks gevaar?
Dis 'n geleentheid om met jou finansiële adviseur oor jou beleggingstrategie en fondskeuses te praat om te bevestig of dit gepas is.



















