Mirror Trading International (MTI) was die grootste vermeende bedrog met kriptogeld wat in die wêreld gepleeg is, blyk uit Chainalysis, 'n ontledingsfirma oor blokketting-tegnologie, se jongste misdaadverslag in 2020.

MTI het na bewering $589 miljoen se bitcoin-beleggings uit meer as 471 000 deposito's gewerf, in wat nou as 'n vermeende ponzi-skema bestempel word.
Volgens die verslag het MTI se skema aansienlik meer as Forsage en J-enco gemaak, die naasgrootste beweerde swendelarye. Albei het elk minder as $350 miljoen gemaak.
MTI, wat in Augustus 2019 ontstaan het, is in Desember 2020 voorlopig gelikwideer. Reguleerders vra nou meer mag om oortreders van finansiële wette te vervolg en toesig oor die handel in kripto-geldeenhede te hou. Dit is reeds in Suid-Afrika verpligtend om verkope van bitcoin aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te verklaar.
Intussen onthul Chainalysis in die verslag dat meer as die helfte van MTI se webverkeer uit Suid-Afrika afkomstig was. Byna 'n kwart het van Kanada, Mexiko, Brittanje en die VSA gekom. Met behulp van internetverkeersdata kom die ontledingsfirma tot die gevolgtrekking dat die meeste MTI-slagoffers ook uit dié lande kom.
Soos berig deur news.bitcoin.com, het MTI daarin geslaag om niksvermoedende slagoffers te lok deur konsekwente daaglikse opbrengste van 0,5% te belowe. Die opbrengskoers sou op 'n jaaropbrengs van 500% neerkom.
Op sy webwerf beweer MTI dat die hoë opbrengste gewaarborg word deur sy sagteware wat kunsmatige intelligensie (KI) inspan om met buitelandse valuta handel te dryf.
MTI se onrealistiese beloftes het egter spoedig die wenkbroue laat lig en die owerhede het dit begin ondersoek.
Suid-Afrika se Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het in Januarie gesê hulle het bewys van sowat R8 miljard se beleggings deur 117 000 beleggers, terwyl MTI self beweer het dat daar 280 000 beleggers was.
Johann Steynberg, uitvoerende hoof van MTI, het na bewering na Brasilië gevlug.
As geheel is Suid-Afrika onder die vyf lande waar die meeste digitale swendelary plaasvind.


















