Tot en met ongeveer 2010 het 'n aandelebelegging in die JSE oor 'n tydperk van feitlik 100 jaar een van die beste opbrengste ter wêreld gelewer - hetsy internasionaal of plaaslik.
Aldus 'n studie van die Switserse bank Credit Suisse was die JSE, saam met die Australiese en Amerikaanse beurs, die markte wat konsekwent die beste opbrengste oor dié tyd gelewer het met 'n gemiddelde opbrengs van om en by 7% in dollarwaarde per jaar.
Vanweë die stelselmatige daling in die rand teenoor die dollar, was die rand-opbrengste vir plaaslike beleggers hier ongeveer 14% per jaar, wat die inflasiekoers maklik uitgestof het. Daarom het plaaslike beleggers en hul adviseurs nie veel aandag gegee aan buitelandse markte nie. Hoekom gaan moeilikheid soek op ander plekke terwyl plaaslike fondse jaar ná jaar 'n 15%-opbrengs bied (soms met 'n mate van wisselvalligheid)?
Die storie is ook die wêreld ingestuur dat die JSE soveel internasionale maatskappye het wat óf 100% sake doen in die buiteland (Richemont) óf grootliks (Mondi, Sappi, Barlows) dat dit genoeg beskerming sou bied vir ? daling in die rand.

Maar soos ek in verlede week se artikel uitgewys het, het iets hier teen 2011 begin gebeur. Tien jaar later is die sprokiesverhaal verby, met die JSE wat die afgelope dekade een van die swakste beurse ter wêreld was met negatiewe opbrengste in dollarwaarde oor daardie termyn en oor die afgelope vyf jaar negatiewe opbrengste - ook in randwaarde.
Selfs 'n eenvoudige kontantbelegging in dollar sou oor die afgelope tien jaar 'n beter opbrengs as die JSE gelewer het.
Talle wat die afgelope tyd hul beleggingstate vir allerlei aandeel-gekoppelde beleggings oopmaak, moet neerslagtig aanskou hoe dit kwyn.
Sekere sektore op ons beurs - soos eiendom asook klein- en mediumgrootte maatskappye - het die afgelope vyf jaar verliese gely wat wissel tussen 15 en 25% per jaar. Dit was nog voor die ineenstorting van die markte in Maart en April.
Dieselfde geld pensioenfondse/voorsorgfondse. Opbrengste die afgelope drie jaar is negatief en selfs oor vyf jaar was daar geen groei in randwaarde nie. Selfs beleggers in gebalanseerde fondse - wat toegelaat word om 30% van portefeuljes in die buiteland te plaas - het gesukkel om die afgelope vyf tot sewe jaar die inflasiekoers te klop.
Kortliks: Die meeste beleggers in die JSE, via aandele, effektetrusts of aftreefondse, het die afgelope vyf jaar beduidend armer geword en oor tien jaar bitter min groei gehad.
Was dit nie vir die spogvertoning van enkele aandele - soos Naspers, Capitec en dalk BAT - nie, het dit nog veel erger gelyk.
Wanneer die opbrengste in dollarwaarde uitgedruk word, is die prentjie nog erger. Volgens statistieke van die bekende ekonoom Mike Schussler is die JSE in dollarwaarde vandag 60% laer sedert die begin van 2018. Dit was die laaste keer wat die JSE 'n mate van 'n opflikkering gehad het in die nadraai van pres. Cyril Ramaphosa se oorwinning by die ANC-verkiesingskonferensie in Desember 2017. Daardie faktor het ook intussen gekwyn.
Die afgelope dekade is ook gekenmerk deur 'n ongelooflike bulmark in veral tegnologie- en biotegnologie-aandele op die Amerikaanse markte. Hierdie bedrywe bestaan nie in Suid-Afrika nie en plaaslike beleggers kon slegs toegang kry tot snelgroeiende maatskappye soos Amazon, Facebook, Google, Netflix, Alphabet (Google) deur geld oorsee te stuur of via bateruilfondse in Suid-Afrika.
Soos verlede week uitgewys, het 'n belegging tien jaar gelede in 'n biotegnologiefonds (wat hier beskikbaar is) 'n opbrengs van 'n verstommende 1000% gehad. Beleggers is egter nog sku vir sulke beleggings, synde hulle "riskant" te wees.
In die afgelope dekade het beleggers geleer (hopelik) dat 'n belegging op die JSE riskant en onvoorspelbaar is, veral weens die regering se voortdurende inmenging in die ekonomie. En die geluide wat die afgelope paar weke vanuit die ANC-kamp gehoor word, dui op nog groter inmenging in die ekonomie.
Die plaaslike beleggingsbedryf in sy vele fasette (JSE, batebestuurders, pensioenfondse, ens.) word nog grootliks oorheers deur 'n voorkeur vir plaaslike bateklasse.
Wat valutabeheer betref, mag batebestuurders net 30% van totale bates in die buiteland belê via bateruiltransaksies.
Meeste groot rolspelers het nie meer buitelandse kapasiteit in hul fondse nie en is dus aangewese op die plaaslike mark om hul ondernemings te groei. Geen handelaar sal produkte bemark wat nie op sy rakke is nie.
Dit verklaar die oorweldigende positiewe ingesteldheid teenoor die JSE deur al wat 'n batebestuurder is. Jaar ná jaar lees ons hoe goedkoop die JSE is en watter waarde dit bied, maar tot dusver het hierdie positiwiteit nog nie deurgevloei na verbeterde opbrengste vir plaaslike beleggers nie.
Trouens, as 'n mens kyk na die vertoning van alle beurse tot dusver vanjaar, kan 'n mens sien dat die JSE weer eens die swakste van alle groot beurse ter wêreld gevaar het, met 'n daling van byna 46% in dollarwaarde vanaf die begin van die jaar.

As 'n mens die daling in die prys van residensiële eiendomme, die daling in die rand en ook die daling in die JSE saam oorweeg, is die gevolgtrekking dat meeste middelklas Suid-Afrikaners sonder noemenswaardige buitelandse blootstelling, opmerklik armer geword het.
Die enigste manier om die gety van armoede te verander, is om te kyk hoe buitelandse blootstelling vinnig en maklik verkry kan word. Meer hieroor volgende week.
- Hierdie artikel is die tweede in 'n reeks van vier wat deur Brenthurst Wealth geborg word. Brenthurst is een van die grootste onafhanklike finansiële adviseurs- en batebestuursgroepe in die land met sewe kantore, insluitende een in Mauritius. Vir meer inligting, gaan na bwm.co.za of kontak Heystek by magnus@heystek.co.za.




















