In tye van ekstreme onsekerheid raak die meeste van ons aansienlik meer vatbaar vir beïnvloeding en is ons geneig om kundiges se menings of advies te volg sonder bevraagtekening.

Wanneer ek dus 'n promosie-artikel sien met 'n opskrif soos JSE een van swakstes ter wêreld, bekommer dit my 'n bietjie, want as dit op sigwaarde geneem en nie in konteks geplaas word nie, kan dit jou daartoe lei om besluite te neem wat moontlik tot jou nadeel kan wees.
Die volgende stelling word dan ook in die promosie-artikel gemaak: "Tien jaar later is die sprokiesverhaal verby, met die JSE wat die afgelope dekade een van die swakste beurse ter wêreld was met negatiewe opbrengste oor daardie termyn en oor die afgelope vyf jaar negatiewe opbrengste - ook in randwaarde."
Gun my die geleentheid om die prentjie volledig in te vul:
Stelling 1: "JSE was die afgelope dekade een van die swakste beurse ter wêreld"
Sien hiernaas die vertoning van die beurse van 17 lande (tien ontwikkelend en sewe ontwikkeld) in hul eie geldeenheid oor die afgelope dekade. Ek het bloot die tien grootste ontwikkelende markte geneem en sewe van die gewildste emigrasie-bestemmings vir Suid-Afrikaners (waarskynlik nie toevallig nie, almal ontwikkelde lande).

Op dié lys het Suid-Afrika die derde beste (uit al 17) gevaar ten opsigte van nominale groei, die vyfde beste ná inflasie en die tweede beste van al die ontwikkelende markte.
Stelling 2: "Negatiewe opbrengste oor daardie termyn en oor die afgelope vyf jaar negatiewe opbrengste - ook in randwaarde."
Volgens my data het Suid-Afrika wel oor die afgelope tien jaar 'n skamele 0,43% per jaar in dollarterme opgelewer. Dit is egter steeds vyfde uit tien ontwikkelende lande. Thailand het die beste gevaar met 6,38% per jaar en Brasilië die swakste met -6,61% per jaar.
Oor die afgelope vyf jaar het 65% van die betrokke lande (onder meer ook Brittanje, Australië, Duitsland en Kanada) negatiewe opbrengste in dollarterme opgelewer.
Ek dink die volgende is belangrik om uit te lig: Die afgelope dekade was 'n bietjie van 'n nagmerrie vir álle ontwikkelende markte, met miskien die uitsondering van Thailand. Sien die grafieke hiernaas.

Wanneer die kommentator in die promosie-artikel verwys na die swak vertoning van die JSE, is dit hoofsaaklik hierdie prentjie wat hy in gedagte het.
Benewens die inligting wat ek reeds uitgelig het, is dit belangrik om ook die volgende te noem: Die JSE (en die rand) het veral in die afgelope jaar heelwat veld verloor teen die wêreldindeks vir ontluikende markte, maar op lang termyn is dit duidelik dat dit 'n ontluikende-mark-storie was en nie 'n Suid-Afrikaanse storie nie.
Die MSCI-wêreldindeks word oorheers deur die VSA se mark wat (buiten Nieu-Seeland se aandelebeurs) baie beter as alle ander beurse vaar. Om nou dollars te koop teen 'n premie van tussen 20% en 30% en te belê in 'n mark wat volgens sommige ontleders teen 'n 40%-premie teenoor ander markte verhandel, moet jy baie dapper wees.
Markte, en dikwels ook die rotasie tussen ontwikkelde en ontwikkelende markte, is siklies en om onder- of oorprestasie te ekstrapoleer in die verre toekoms in, is eenvoudig nie wys nie.
Vir konteks, sien hiernaas ook presies dieselfde indekse se vertoning in die vorige dekade. Die rolle was presies omgeruil.

Na my mening is 'n herhaling hiervan baie moontlik. Om opbrengste van ontwikkelende markte in dollarterme uit te druk in 'n stadium dat dit teen ekstreme waardes verhandel (soos tans die geval is), is waarskynlik nie in die gees van goeie openbaarmaking nie.
'n Meer betroubare aanduider van welvaartskepping of -vernietiging is wat jou opbrengs ná plaaslike inflasie (met ander woorde die reële opbrengs) was. As jou geldeenheid permanent devalueer, sal jou inflasiekoers ook die hoogte inskiet.
Ek stem wel met die kommentator saam dat Suid-Afrika op 'n baie glibberige afdraand is en dit lyk asof die politieke wil of vermoëns om besluite te neem wat goed is vir die land, eenvoudig ontbreek of gekniehalter word deur uitgediende ideologieë.
Veral die uitsluiting van minderheidsgroepe vir noodhulp van die staat te midde van die staat van inperking is 'n wesenlike wekroep. Dit het bepaalde implikasies vir hoe jy jou kapitaal (werkskapitaal sowel as opgehoopte welvaart) toewys en veral hoe jy dink oor die likiditeit al dan nie daarvan.
Ek wil my egter verstout om te sê dat ons beter planne sal moet maak as om eenvoudig agter die VSA se geldeenheid en beurs aan te hardloop terwyl dit teen huidige vlakke verhandel. Jy beskerm nie jou welvaart deur oorgewaardeerde bates teen 'n wisselkoers-premie te koop nie.
- Andró Griessel is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.














