Beleggings

SA staatseffekte vaar beste ter wêreld

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hoewel daar nog vir die jaar tot dusver geld invloei na staatseffekte, kan dit binnekort anders lyk.
Hoewel daar nog vir die jaar tot dusver geld invloei na staatseffekte, kan dit binnekort anders lyk.

Suid-Afrikaanse staatseffekte het vanjaar die beste opbrengs van 46 lande opgelewer, teen 8,7%.

Dis ondanks die feit dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes die eerstes was wat die Omikron-variant van Sars-CoV-2 ontdek het, 'n aankondiging wat die rand binne twee dae met 2,8% laat tuimel het.

Die tweede beste opbrengs is opgelewer deur Chinese staatseffekte (5,6%), gevolg deur Indonesië (5,2%), Indië (2,7%) en Kroasië (1%).

Staatseffekte van Suid-Afrika, Indonesië en China sal na verwagting ook in 2022 'n goeie opbrengs oplewer.

Volgens André de Silva van HSBC in Hongkong is 'n "matig aggressiewe ingesteldheid" teenoor Suid-Afrika geregverdig danksy een van die hoogste opbrengskoerse.

Lande met fiskale uitdagings, insluitend Suid-Afrika, het vanjaar baie verbeter, volgens Damien Buchet van Finisterre in Londen. "Ons is daarom steeds lief vir sy effektemark."

Die teorie was dat die staatseffekte van ontluikende lande vanjaar 'n swakker opbrengs sou oplewer soos sentrale banke begin het om monetêre beleid strammer te maak.

Die werklikheid was dat dié lande se staatseffekte beleggers in 2021 die beste beloon het.

Net Suid-Afrika, China, Indonesië, Indië en Kroasië kon die grootste sprong in die opbrengskoers op Amerikaanse staatseffekte sedert 2013 troef. Dié skok het valuta- en aandelemarkte onkant gevang.

Die positiewe opbrengste wat die vyf lande opgelewer het, behoort beleggers gerus te stel dat die Federale Reserweraad (Fed) sy bate-aankope kan verminder en rentekoerse kan begin verhoog sonder dat wêreldwye wisselvalligheid die hoogte inskiet.

As die 2021-prestasie in groter besonderhede ontleed word, blyk dit die toppresteerders se effekte was goedkoper as verlede jaar, maar die opbrengskoers was hoog genoeg om vir dié daling te vergoed.

Algeheel het die effekte van ontluikende lande 1,3% goedkoper geword, volgens 'n afsonderlike Bloomberg-indeks.

Dis nog baie beter as tydens die sogenaamde "taper tantrum" van 2013, toe die Fed se sein dat hy bate-aankope gaan afskaal, tot 'n daling van 3,8% vir die jaar gelei het, met 'n 11%-val tussen die hoogtepunt in Mei en die laagtepunt in Augustus.

Opbrengskoerse en die verskil in rentekoerse tussen lande sal in 2022 'n groot rol in beleggingsbesluite speel te midde van stygende rentekoerse, meen Shafali Sachdev van BNP Paribas in Singapoer. - Bloomberg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM