Dis onsin dat die beleggers in Sharemax alles verloor het, sê Dominique Haese, uitvoerende hoof van Nova Property Group, die maatskappy wat al Sharemax se eiendomme geërf het.
"Die bates is daar. Dit is tasbaar. Jy kan daar instap."
Haese het die afgelope week in 'n onderhoud met Rapport wal gegooi teen bewerings dat Nova nie sy verpligtings teenoor Sharemax se skuldbriefhouers nakom nie.
Die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) voer aan dat die direksie van Nova nie in die beste belang van die Sharemax-beleggers optree nie.
Nova verkoop eiendom om sy bedrywighede te finansier en slegs 'n geringe gedeelte van die opbrengs vind sy weg na skuldbriefhouers, het Cuma Zwane, ondersoeker by die CIPC, die afgelope week aan Rapport gesê.
Die CIPC het die afgelope tyd drie voldoeningskennisgewings aan Nova uitgereik wat die groep uitdruklik verbied om van sy eiendom ontslae te raak.
Nova het ook versuim om in Januarie binne die voorgeskrewe tienjaartydperk skuldbriefhouers se geld terug te betaal.
Die Nova-direksie voer aan hy het die diskresie om die tydperk te verleng, maar Zwane meen die direksie is nie geregtig om dit te doen nie. Hy sê 'n hof moet nou besluit wie is reg.
Haese sê die tienjaartydperk was nooit in yster gegiet nie.
"Die oorspronklike terugbetalingskema (aan skuldbriefhouers) was bloot 'n geprojekteerde tydperk, want Nova moes sekere finansiering kry om skuldbriefhouers te betaal."
Jy kan nie nou sommer net hierdie eiendom verkoop nie, want ons wil waarde ontsluit vir beleggers.
Haese sê daar is verskillende terugbetalingskemas wat gegrond is op die soort eiendom in Nova se portefeulje, soos eiendom wat inkomste genereer (winkelsentrums en sentrums waar geriefswinkels is) en byvoorbeeld residensiële grond.
"So, ons het verskillende soorte finansiering nodig vir dinge om te gebeur.
"Neem byvoorbeeld The Villa. Daar is steeds RX-miljard nodig om dit te voltooi. En daarvoor is finansiering nodig.
"Jy kan nie nou sommer net hierdie eiendom verkoop nie, want ons wil waarde ontsluit vir beleggers."
(The Villa, op die hoek van Delmas- en De Villebois Mareuil-weg in Pretoria-Oos, is 'n olifant op die solder wat al vir langer as tien jaar onvoltooid is.)
Gevra of sy dink waardeontsluiting is billik terwyl beleggers desperaat is om geld terug in hul sakke te hê, het Haese geantwoord: "Ja, ek besef dit, maar mense moet ook verstaan ons het finansiering nodig om waarde te ontsluit. En elke keer wanneer daar moontlike finansiering is - en ek praat van groot geld; R200 miljoen, R500 miljoen - dan is daar iets in die media en dit word onttrek."
Meer as 18 000 beleggers het destyds sowat R4,6 miljard in Sharemax belê.
Volgens Nova se berekenings het 3 074 uit die 10 585 skuldbriefhouers wat onder een van die terugbetalingskemas val reeds hul volle kapitaal teruggekry.
"Dit is omdat ons ses van ons eiendomme verkoop het - die meeste daarvan teen die maksimum waarde."
Volgens Haese was daar in Februarie 2021 ongeveer R1,4 miljard teen billike markwaarde (fair market values) verskuldig aan skuldbriefhouers oor drie van die terugbetalingskema heen: die sogenaamde groeiplan-skema, die Zambezi Mall-skema en die Villa Mall-skema.
Zwane meen egter daar is nog ongeveer R2 miljard aan skuldbriefhouers uitstaande. Hy is ook skepties oor of die eiendomme in die onderskeie terugbetalingskemas werklik soveel werd is as wat Nova aanvoer.
Nova het die afgelope drie jaar reeds gekwalifiseerde ouditmenings gekry.
"Die ouditeurs was nie oortuig van die waardasies wat Nova aan hul beleggingseiendomme geheg het nie. Hulle verskil met Nova oor die waardes," sê Zwane.
Hy noem die winkelsentrums The Villa en Zambezi as voorbeelde. "Hierdie eiendomme bring geen geld in nie. So, die waarde vanuit 'n rekeningkundige oogpunt is totaal en al oordryf."
Zwane sê die CIPC het in 'n verslag uitgestippel wat Nova oor die laaste tien jaar gedoen het. "Die geld wat hulle geleen het, die geld wat in die onderneming ingestoot is en ook die verhouding van finansiering wat die bedryf-sy van die onderneming geabsorbeer het teenoor die geld wat aan skuldbriefhouers terugbetaal is."
Hy was geskok toe hy agterkom hoe gering die persentasies was wat uiteindelik aan skuldbriefhouers gegaan het.
"Die bedrae (wat aan skuldbriefhouers gegaan het) is ver verwyder van wat moes gebeur ingevolge die terugbetalingskema."
Hy sê ook Nova het geen reg om self te besluit hy wil die terugbetalingstydperk verleng nie. "Tensy die ontvangers (skuldbriefhouers) goedkeuring gee."
Die CIPC kon nie langer anderpad kyk nie en daar moet nou eens en vir altyd uitsluitsel kom oor die Sharemax-sage ook, sê hy. "Die feit bly staan: Die Sharemax-direksie het destyds die Bankwet oortree. Dis 'n strafregtelike oortreding.
"Waarom is geen klagte teen die direksie ingedien nie? Dié mense is dalk nou direkteurs by ander maatskappye, terwyl daar die moontlikheid is dat hulle dalk strafregtelik aangekla moes word."
Nova se regspan het die afgelope week 'n brief aan die CIPC gestuur en geëis dat die kennisgewing onttrek of verander word. Die saak sal nou voor die Maatskappytribunaal dien.



















