"Everyone has a plan until they get punched in the face." - Mike Tyson

Dié stelling verdien konteks. Tyson was in 'n onderhoud oor sy strategie voor 'n geveg. Die gesprek het gehandel oor hoe hy die geveg sou benader in die konteks van die sterkpunte van sy teenstander.
En uit nêrens, heeltemal onverwags, het hy nie gepraat oor sy strategie nie, maar hoe hy sy opponent s'n sal teëstaan.
Ek dink dit is regverdig om die stelling te maak dat ons in 2020 in die spreekwoordelike gesig geslaan is.
Maar, ons is in 2008-'09 óók in die gesig geslaan met die wêreldwye finansiële krisis en daaropvolgende resessie.
En in 1999-2000 met die dot.com-ineenstorting van tegnologiemaatskappye se aandele.
Die moontlikheid dat 'n spesifieke rare gebeurtenis gaan gebeur, is relatief laag. Maar die moontlikheid dat daar enige tyd 'n rare gebeurtenis sal plaasvind, uit die ontelbare moontlike rare gebeurtenisse, is glad nie so laag nie.
Hoe voorspel ons wanneer die gebeurtenisse weer na vore gaan kom? Wat kan ons daaraan doen in terme van ons beleggings en hoe ons spaar?
Daar is, soos alles in die lewe, 'n hele paar opsies.
Ons kan ons geld onder die matras bêre, waar die primêre mens verantwoordelik vir die veiligheid daarvan onsself is. Maar, helaas, dit kan gesteel word en te danke aan inflasie sal die koopkrag daarvan mettertyd waarde verloor.
Ons kan al ons geld spaar in ons bankrekening. Lae risiko, vir seker, maar weens lae rentekoerse en belasting op rente-inkomste, is daar weer 'n groot moontlikheid dat die uitkoms 'n verlaging in koopkrag van jou kapitaal is.
Ek glo daar is 'n derde opsie, en dit is om vrede te maak dat ons nie die toekoms kan voorspel nie, maar dat ons wel daarop kan voorberei.
Ek glo daar is 'n derde opsie, en dit is om vrede te maak dat ons nie die toekoms kan voorspel nie, maar dat ons wel daarop kan voorberei.
Morgan Housel, beleggingsadviseur en skrywer van onder meer The Psychology of Money, het dit goed gestel toe hy voorgestel het ons spaar soos 'n pessimis en belê soos 'n optimis.
Spaar asof jy môre weer in die gesig geslaan gaan word. Spaar, in 'n konserwatiewe belegging, sodat as daar weer 'n pandemie of ander krisis na vore kom, jy vir 'n tydperk van ses maande jou uitgawes kan dek indien die onvoorspelbare gebeur en jy nie 'n inkomste het nie.

Spaar ingeval die ergste, die ondenkbare gebeur.
Daarna, beweeg oor na 'n optimis. Belê in die verwagting dat die mensdom en die ekonomie sal groei, dat vooruitgang op die horison is en dat innovasie die wêreld oor tyd 'n beter plek sal maak.
Oor 'n tydperk van 50 jaar gemeet vanaf Julie 1977 was die opbrengs op die JSE se indeks van alle aandele nog nooit negatief oor 'n rollende 10-jaar-periode nie. Nog nooit nie.
In teendeel, die swakste wat jy sou doen oor dié tydperk was saamgestelde groei van 6% per jaar.
Die Amerikaanse S&P 500-indeks het oor 'n 90-jaar-periode beginnende in 1928, positiewe opbrengste gewys 93%, van die tyd met 'n gemiddelde opbrengs van om en by 10% per jaar in dollarwaarde.
Die tydperk sluit 'n wêreldoorlog asook die Groot Depressie in.
Charlie Munger, Warren Buffet se regterhand, het op 'n keer gesê die eerste reël van samestelling van opbrengste is om dit nooit onnodig te onderbreek nie.
As ons dus seker kan maak, deur te spaar soos 'n pessimis, dat ons enige korttermynterugslag kan teenstaan, kan ons die toekoms ingaan en belê soos 'n absolute optimis.
- Hannes Viljoen is die uitvoerende hoof en beleggingshoof van Kudala Wealth. Hy is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner en geoktrooieerde finansiële ontleder. Kontak hom by hannes@kudalawealth.co.za.


















