Up Money, 'n "stokvel" wat volgens owerhede eintlik niks meer was nie as 'n piramideskema, is met R1 miljoen beboet.

Die Nasionale Verbruikersterminaal het 'n administratiewe boete aan die beweerde bedrogskema opgelê vir die oortreding van die Wet op Verbruikersbeskerming.
Netwerk24 het voorheen berig Up Money se beweerde swendelary het met die aanvang van die Covid-19-pandemie as 'n "stokvel" begin sake doen. Mense moes betaal om aan te sluit en is met kruideniersware beloon vir lede wat hulle gewerf het.
Die skema het binne twee maande R42,7 miljoen van "beleggers" ontvang. Nagenoeg 230 000 mense is ingeloop, volgens adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging.
Van beleggers se geld is aangewend om onder meer drie luukse voertuie ter waarde van R12,5 miljoen te koop: 'n Audi TT, 'n Hummer H3 en Jaguar XKR-koepee.
'n Strafregtelike saak teen die stigters van die groep is nog nie afgehandel nie.
'n Piramideskema is enige praktyk waar mense vergoed word as hulle ander lede werf, eerder as uit die verkoop van produkte of dienste. Up Money se "sakemodel" het getoon dis nie regtig 'n stokvel nie, volgens die Nasionale Verbruikerskommissie.
Nomalungelo Gina, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, het die tribunaal se vonnis verwelkom en gesê dit stuur 'n sterk boodskap aan Suid-Afrikaners om nie deur piramideskemas verlei te word nie, selfs al is hulle onder geldelike druk.
Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris, sê: "Piramideskemas spring op 'n daaglikse grondslag op, veral op sosialemediaplatforms, en verbruikers verloor keer op keer hul swaarverdiende geld.
"Ons wil net aan verbruikers herhaal dat almal wat betrokke was - die direkteure, werwers en almal wat aangesluit het - die wet oortree het."
Up Money moet die boete binne 20 dae betaal.
'n Stokvel-onderneming moet as sodanig geregistreer word, en die onderneming moet ook as 'n finansiëlediensteverskaffer by die Reserwebank geregistreer word.
Die hooggeregshof in Johannesburg het voorheen 'n bevel aan die beslagleggingseenheid toegestaan om die bankrekeninge te bevries waarheen die geld gevloei het. Daar is R18 miljoen gevind en daar is ook op die voertuie beslag gelê.
Die bankrekeninge behoort aan die ondernemings Up Money en Uniitco, wat na bewering aan Jade Matsemela en Sipho Martin Mdlhuli verbind word. Hulle is onderskeidelik die direkteur en 'n voormalige direkteur van die ondernemings.
Die drie motors is direk met geld uit Uniitco se bankrekening gekoop.
Die swendelaars het hoofsaaklik sosiale media gebruik om nuwe lede te werf. Nuwe deelnemers moes R180 betaal om aan te sluit en dan het hulle 'n pak vleis gekry. Die nuwe lede moes dan weer vyf ander mense werf om deel te neem.
Die oorspronklike lid sou sy nuwe lede help om nog vyf mense te werf en kon dan van vlak 1 na vlak 2 beweeg. Die voordele wat dan ontvang is, is 'n pak vleis, kruideniersware en R500.
Op vlak 3 is al die voordele van vlak 2 plus R3 000 ontvang.
Klagte van bedrog en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad kan teen die organiseerders ingestel word.
Ondanks die bevinding was Up Money se webwerf steeds oop, maar op die Facebook-blad staan dat dit permanent gesluit is. Die laaste plasing was op 22 Augustus 2020, dus nadat ondersoeke na die organisasie begin is.


















