Die Clicks-groep is 'n kleinhandel-gesondheidsorggroep wat sedert 1996 op die JSE genoteer is.

Luidens sy jongste finansiële resultate vir die 20 weke wat op 12 Januarie 2020 geëindig het, het sy groepomset met 9,9% toegeneem en gesondheids- en skoonheidsverkope met 9%. Die prysverdiensteverhouding (pv) van die aandeel is 37 en die dividendopbrengs is 1,4%.
Die rentekoersverlaging verlede week kan die kleinhandelsektor help, maar die pv van 37 beteken dat beleggers net die beste van die bestuur verwag.
Die Williamspersentasiereeks-aanwyser bevestig die oorgekoopte situasie van die aandeel en ons kan aanvaar dat wanneer die -50-vlak op die aanwyser verander in 'n weerstand, kan die momentum na onder eskaleer.
Die aandeel is vasgevang in 'n konsolidasieband en onder lyn A (R259,35) is die teiken van die band R245,29, indien die formasie sou uitspeel.

Bo lyn B (R273,41) kan die formasie weer opwaarts breek en die momentum na bo eskaleer.
Die drie-dae- bewegende gemiddelde (groen lyn) is op die punt om na onder deur die agt-dae- bewegende gemiddelde (rooi lyn) te breek en as dit gebeur, sal die sentiment van die aandeel op kort termyn na negatief verander.
- Spekulante: Verkoop of neem 'n kortposisie in onder lyn A (R259,35) maar gebruik R285,70 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Die moontlike teikens na onder is: R253,85; R249,63; R246,70; R243,70; R240; en R234,10.
- Medium- tot langtermynbeleggers: Die afgelope drie weke kon die aandeel nie daarin slaag om R273,99 in 'n steun te verander nie. Dié weerstand vorm 'n moontlike driedubbele hoogte wat onder R261,76 bevestig sal word. Die 40-weke- bewegende gemiddelde wag by R238,62. Onder hierdie vlak sal die sentiment jeens die aandeel op lang termyn na negatief verander.
- Frans en Christelle de Klerk is onafhanklike tegniese ontleders. Christelle is ook 'n geregistreerde makelaar. Kontak hulle by www.fransdeklerk.com of www.chris-tell.com. Twitternaam: TraderFrans




















