Die jaar 2020 kan nie gou genoeg tot 'n einde kom nie - dit raak nou irriterend uitgerek!

As ek op 2020 terugkyk, wil ek die jaar met twee woorde beskryf: as 'n versneller en 'n vergrootglas.
Die koronavirus en die verskeie vlakke van inperkings het veranderinge, wat reeds begin het, bloot versnel. Neem byvoorbeeld tegnologie. Ons was almal bewus van digitale vergaderings, maar skielik hier in die middel van 2020 het almal op Zoom en Teams begin gesels.
Nie ouderdom of rekenaargeletterdheid het bepaal wie hierna sou oorskakel nie. Ons het dit almal vinnig aangeleer en is vandag heel vaardig met hierdie tegnologie.
Wat die vergrootglas betref: Foutlyne is duidelik uitgewys. As voorbeeld, dink aan die groot aantal mense wat skielik aan die skande van bedel onderwerp is en die endemiese korrupsie wat met die uitdeel van noodfondse oral uitgekruip het!

Van dag een af was die Covid-19-pandemie 'n biologiese probleem wat deur die mediese wetenskap opgelos moes word - en dis juis waarom ek al hoe meer opgewonde raak oor 2021.
As die uiters konserwatiewe en rasionele dr. Anthony Fauci in die VSA meen dat die Amerikaanse gemeenskap vanaf die derde kwartaal van 2021 tot normaal gaan terugkeer, skep ek moed.
Ek hoop die inenting verloop soos die gestoei om ventilators in die hande te kry: In die eerste paar weke van die Covid-19-piek was daar groot tekorte en 'n geskarrel om genoeg ventilators in die hande te kry; 'n maand (of drie) later het die wêreld se produksiebane ventilators begin uitspoeg dat daar vandag in stoorkamers wêreldwyd oorskotte rondlê.
Ek hoop die vervaardiging van inentings gaan dieselfde pad loop - eers 'n tekort en 'n geskarrel om dit in die hande te kry, daarna word berge en berge vervaardig met die gevolg dat daar uiteindelik genoeg entstowwe by genoeg mense uitkom!
Getrou aan Suid-Afrika, verwag ek 'n goed geoliede sluikhandel-waardeketting wat binnekort as eerste verspreidingskanaal gaan dien. Jy gaan dalk 'n paar rand betaal en moet net baie seker maak van die gehalte van die produk, maar met geld sal jy die inspuitings in die hande kan kry.

En as jy my nie glo nie, vra maar vir enige roker (met 'n paar rand) of hy of sy 'n enkele dag gesukkel het om rookgoed in die hande te kry.
Die finansiële markte verduidelik die jaar en die emosionele geskommel baie mooi. Kyk veral na die aanloop tot die inperkingsaankondiging laat in Maart 2020 en die verloop van die markte in die nege maande daarna.
Die groot les uit 2020 wat vir my uitstaan?
Op die aand van 27 Maart, die dag waarop die eerste drastiese inperkings ingetree het, is Suid-Afrika finaal na rommelstatus afgegradeer. Die nuus kon nie slegter wees nie!
Dit was toevallig ook die spreekwoordelike klok wat die herstel in die waarde van die rand, die JSE en kapitaalmarkkoerse aangekondig het. Die beste beleggingsgeleentheid in Suid Afrika in 2020 was juis in die dae toe die nuus die slegste was!

Kyk mooi: Toe die nuus op die swakste was laat in Maart 2020, was die markte op die onderste draaipunt. Die kernpunt is om te verstaan dat markte vooruitkyk en dat dit baie meer sinvol is om op beginsels en 'n langtermynstrategie te fokus as om heeldag as grondslag vir langtermynbeleggingsbesluite na die nuus te kyk!
Ek wens almal 'n baie geseënde Kersfees en voorspoedige 2021 toe - wees asseblief baie versigtig en respekteer die ouer mense in hierdie familietye; jy gaan nie Covid-19 kry nie, Covid-19 gaan jou kry!
- Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital.

















