
Reinet Investments is ná 'n jaar weer deel van die JSE se top-40-indeks.
Reinet, wat die familie van Johann Rupert se belange in onder meer die tabakreus British American Tobacco huisves, sal vanaf 23 Maart nr. 31 op die indeks wees wanneer die kwartaallikse aanpassings aan die JSE se indekse van krag word.
Reinet het in Maart 2019 uit die indeks geval.
Nog 'n hertoetreder tot die top-40-indeks dié kwartaal is Northam Platinum, wat die 32ste plek sal inneem.
Die twee maatskappye wat uitval, is die klerekleinhandelaar TFG en die kosprodusent Tiger Brands.
TFG, wat Foschini, Donna, @home en Totalsports insluit, val tot nr. 46 op die ranglys.
Tiger, wat Enterprise, Jungle Oats, Beacon, Crosse & Blackwell en Purity onder sy handelsname het, val tot nr. 49.
Die top-40-indeks verteenwoordig die 40 grootste maatskappye op die JSE volgens markwaarde, mits genoeg van hul aandele plaaslike verhandel word. Die datum vir die bepaling van markwaarde vir die kwartaal was 24 Februarie.
Saam verteenwoordig die 40 maatskappye meer as 80% van die JSE se markwaarde.
Meer oor die wenners en verloorders
- Reinet se aandeelprys het die afgelope jaar met meer as 44% gestyg, van R222,84 'n jaar gelede tot Woensdag se sluiting van R321,51. Die maatskappy het op 24 Februarie teen R334,49 verhandel. Die maatskappy het nou 'n markwaarde van nagenoeg R63 miljard. Die herinsluiting van Reinet beteken drie maatskappye met Rupert-bande is in die top-40: Richemont, Remgro en Reinet.
- Northam Platinum, wat platinum in Noordwes ontgin, het die afgelope jaar voordeel uit die skerp styging in die prys van platinumgroepmetale getrek. Sy aandeelprys het meer as verdubbel (102%), van R58,48 'n jaar gelede tot Woensdag se sluiting van R117,85. Die maatskappy het op 24 Februarie teen R135,50 verhandel. Die maatskappy het nou 'n markwaarde van nagenoeg R60 miljard.
- TFG se aandeelprys het die afgelope jaar met byna 22% gedaal, van R170,99 'n jaar gelede tot Woensdag se sluiting van R134,10. Die maatskappy het op 24 Februarie teen R127,07 verhandel. Die maatskappy het nou 'n markwaarde van nagenoeg R32 miljard. Die groep se aandeelprys ly soos die meeste kleinhandelaar s'n omdat verkope traag is in die trae ekonomie, wat pas as 'n resessie geïdentifiseer is.
- Tiger Brands word die afgelope paar jaar bloots gery deur probleme, maar sy uitsluiting uit die top-40-indeks vanjaar kan toegeskryf word aan die listeriose-uitbreking van 2017-'18, wat die lewe van meer as 200 mense geëis het. Tiger se Enterprise-fabriek in Polokwane is as die bron van die bakterie geïdentifiseer. Tiger se aandeelprys het die afgelope jaar met sowat 36% gedaal, van R245,68 'n jaar gelede tot Woensdag se sluiting van R163,18. Die maatskappy het op 24 Februarie teen R158 verhandel. Die maatskappy het nou 'n markwaarde van nagenoeg R31 miljard.




















