Beleggings

‘Veiligheid’ van die geldmark is riskant

Suid-Afrikaanse beleggers se aptyt vir wisselvallige bateklasse het feitlik heeltemal opgedroog ten gunste van veiliger, rente­draende beleggings.

Dawie Klopper van PSG Wealth Foto: VERSKAF DEUR PSG WEALTH
Dawie Klopper van PSG Wealth Foto: VERSKAF DEUR PSG WEALTH (foto verskaf)

Sunette Mulder, senior beleidsadviseur by die vereniging vir spaar en belegging in Suid-Afrika (Asisa), sê die meerderheid van netto invloeie na plaaslike bateklasse in 2020 is oorgedra na rentedraende beleggingsinstrumente. Rentedraende beleggings is gewoonlik geldmarkfondse en korttermyn-staatseffekte.

In die afgelope jaar het R183,6 miljard na hierdie instrumente gevloei.

Dis positief dat die beleggings- en spaarbedryf so 'n groot hoeveelheid invloeie gesien het ten spyte van onsekerheid te midde van die pandemie. In 2020 het 'n rekordbedrag van R213 miljard ingevloei na Suid-Afrikaanse bateklasse. Dit is die hoogste bedrag tot nog toe in die spaar- en beleggingsbedryf se 55 jaar lange geskiedenis.

Mulder sê die geld het gekom van individuele beleggers sowel as maatskappye en pensioenfondse. Slegs enkele beleggers het dit egter in 2020 gewaag om hul geld buite die "oënskynlike veiligheid" van rentedraende beleggings te belê.

Suid-Afrikaners is baie meer risiko-sku as hul internasionale eweknieë. Sowat 43% van alle internasionale beleggings is in aandeleportefeuljes belê. In Suid-Afrika is 17% in aandeleportefeuljes belê en 35% in rentedraende portefeuljes.

Rentedraende beleggings het wel in die 12 maande tot einde Desember beter as ander bateklasse vertoon. Maar beleggers wat bereid was om die wisselvalligheid van beleggings met 'n hoë blootstelling aan aandele te trotseer is beloon met goeie vertonings oor tien en 20 jaar, sê Mulder. Geldmarkfondse het oor tien jaar 'n gemiddelde opbrengs van 6,3% gelewer en 7,8% oor 20 jaar.

Daarteenoor het die multibatefondse met 'n hoë aandeleblootstelling 'n opbrengs van 8,1% oor tien jaar en 12,4% oor 20 jaar gelewer.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom by PSG Wealth, sê enige persoon wat 'n beleggingshorison van langer as drie jaar het, moet blootstelling aan aandelebeleggings hê. Dit geld binnelandse én buitelandse aandele.

"Beleggers wat konserwatief is en net in geldmarkfondse gaan ‘wegkruip' (waar die risiko oënskynlik laer is), loop as't ware oop oë in die risiko in."

Klopper wys daarop inflasie is steeds 'n "vyand", al is dit laer die afgelope tyd. "As iemand wat in 'n geldmark-tipe, rentedraende instrument belê nie oppas nie, kan opbrengste steeds onder die inflasiekoers wees."

In die huidige lae rentekoersomgewing hou opbrengste nie met inflasie tred nie en die koopkrag van mense se beleggings word weggekalwe.

Klopper sê oorsese beleggers het wegbeweeg van rentedraende beleggings oor die lae en selfs negatiewe rentekoerse (soos in Europa). "Hulle moes hulself afvra: ‘Wat is die alternatief?' Dit lyk of ons hier in Suid-Afrika nog nie by daardie punt is nie."

Hy gee toe dat aandelebeleggings die afgelope ses tot sewe jaar teleurstellende opbrengste gelewer het, "maar beleggers moet vorentoe kyk".

Volgens Klopper is daar nou goeie geleenthede vir aandelebeleggings. "As 'n mens begin kyk na die jongste syfers is daar positiewe ondertone en die vooruitsigte vir maatskappye begin beter lyk."

Mulder en Klopper waarsku dat vorige goeie vertonings (soos met rentedraende beleggings op korter termyn) nie 'n betroubare aanduiding is van prestasie op lang termyn nie.

"Tans is die konsensus om in die geldmark te belê, maar die konsensus is telkemale verkeerd," sê Klopper.

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM