
Werknemers wat nie hart en siel by die uitvoering van pligte betrokke is nie, kan hulself én hul werkgewers skade berokken.
Onlangse navorsing toon dat aktiewe onbetrokkenheid die Amerikaanse ekonomie tot $550 miljard per jaar kos.
Mense bring minstens 45 uit die 168 uur in 'n week by die werk deur. Die verwagting is dat dit sinvolle ure sal wees, dat werknemers hul doelwitte sal bereik en positiewe emosies by die werk sal ervaar.
Navorsing deur Gallup, 'n internasionale konsultasiemaatskappy vir prestasiebestuur, toon egter dat slegs 13% van werknemers in 142 lande "betrokke" is by hul werk, terwyl 87% "nie betrokke" of "aktief onbetrokke" is.
Dit beteken wêreldwyd is slegs 13% van die arbeidsmag emosioneel daaraan toegewy om elke dag vir hul organisasie waarde te skep. Die res distansieer hulle emosioneel van hul werkplek, met 'n kleiner kans om produktief te wees.
Die verhouding tussen die getal aktief onbetrokke teenoor betrokke werknemers staan op byna twee tot een.
Dit beteken op internasionale vlak is mense se werk vir hulle meer dikwels 'n bron van frustrasie as van vervulling.
"Dit beteken ook talle werkplekke wêreldwyd is minder produktief en minder veilig as wat hulle kan wees, met 'n kleiner kans dat hulle broodnodige nuwe werkgeleenthede kan skep," is die bevinding in die 2013-verslag Gallup State of the Global Workplace.
In syfers
- Gallup raam dat aktiewe onbetrokkenheid in Amerika die land sowat $450 miljard tot $550 miljard per jaar kos.
- In Duitsland wissel dit van €112 miljard tot €138 miljard ($151 miljard tot $186 miljard) per jaar.
- In Brittanje kos aktief onbetrokke werknemers die land tussen £52 miljard en £70 miljard ($83 miljard en $112 miljard) per jaar.
Die prentjie in Suid-Afrika
In Suid-Afrika vertoon die prentjie nog slegter. Slegs 9% van die arbeidsmag is betrokke, 46% is nie betrokke nie en 45% is aktief onbetrokke.
Oos-Asië het die laagste persentasie betrokke werknemers ter wêreld, op 6%. Die bevindings vir die streek berus hoofsaaklik op resultate vir China, waar slegs 6% van werknemers betrokke is by hul werk.
Kerstin Jatho, lewensafrigter in positiewe sielkunde by 4Seeds, sê werknemers kies hoe hulle hul werk benader.
"Mense kies om betrokke te wees deur hart, siel en verstand werk toe te bring.
"Dikwels bring mense net hul verstand en hande werk toe," sê sy.
"Om jou hart werk toe te bring, moet jy werklik in die waardes en kultuur van die organisasie glo. Jou werk moet jou opgewonde maak. Om trots te wees op jou maatskappy help dat jy kies om betrokke te wees."

Mynbou-probleme
Die Gallup-peiling sonder veral die mynboubedryf in Suid-Afrika uit. Dié bedryf, 'n belangrike bron van indiensneming in die land, gaan dikwels onder gewelddadige en destabiliserende arbeidsonrus gebuk.
Jatho sê in talle bedryfsektore heers wantroue tussen die arbeidsmag en die maatskappy. Die mynboubedryf is besonder problematies vanweë al die rolspelers en die soort werk wat ter sprake is.
Afleggings vind dikwels plaas. Die werksomgewing is gevaarlik. Die afgryse in die slagting by Marikana, toe die Suid-Afrikaanse Polisiediens op 'n skare stakende mynwerkers gevuur en 34 gedood en nog 78 gewond is, is nie vergete nie.
"Die bedryf is inderdaad by 'n punt waar 'n pleistertjie hier en daar nie langer gebruik kan word om 'n gebroke liggaam te genees nie. Die situasie bring geen vreugde nie. Daar is nie eenvoudige antwoorde nie, maar dit gaan oor die moed om iets aan die saak te doen."
Betekenisvolle werk
Sy sê mense benodig buigsaamheid, ruimte vir kreatiwiteit en die vermoë om met kollegas saam te werk. Mense hou daarvan om uitdagings te hê en hulle wil voel hul werk is betekenisvol. Hulle wil weet wie trek voordeel uit wat hulle doen.
Ons het almal 'n doel, al is dit net om iemand anders te help om iets te bereik.
— Kerstin Jatho
Sy sê die hoofdoel van organisasies was baie jare lank om wins te maak. Dit het nie regtig verander nie, maar mense het wel verander. Dit is nie langer genoeg om bloot 'n salaris te verdien en by dieselfde maatskappy te werk totdat jy aftree nie.
Jatho sê dit is taamlik maklik om 'n betrokke werker van die onbetrokke ene te onderskei. Sy vertel die verhaal van skoonmaakpersoneel by 'n hospitaal wat gereeld die prente teen die mure van elke saal omgeruil het.
Toe een van die verpleegsters hulle vra waarom hulle dit doen, was hul antwoord dat dit sekerlik vervelig moet wees om dae lank in die bed te lê en elke dag dieselfde prente te sien.
"Ons het almal 'n doel, al is dit net om iemand anders te help om iets te bereik," sê Jatho.
Dit is 'n mistasting om te glo almal kan volkome betrokke voel by hul werkplek.
As die getal onbetrokke mense egter gehelp kan word om effens meer betrokke te raak, kan jy jou indink watter verskil dit kan maak.
Onbetrokkenheid is duur
"Onthou, onbetrokke werknemers is duur. Jy betaal 'n salaris van 100%, maar kry nie 'n uitset van 100% nie," sê Jatho.
Betrokke werknemers is die waarskynlikste stukrag vir die soort innovering, groei en omset wat hul maatskappye desperaat benodig, het Gallup se navorsing bevind.
Hulle dink nuwe produkte en dienste uit, genereer nuwe idees, kry nuwe kliënte en help uiteindelik om die ekonomie aan te spoor deur meer goeie werksgeleenthede te help voortbring.
Waaksame leierskap
Jatho sê leiers moet raaksien wanneer hulle 'n werker "verloor" en dan 'n gesprek met die persoon hê: "'n Openhartige gesprek met die werknemer gaan nie oor waarom die persoon nie presteer nie, of om hom met dissiplinêre optrede te dreig nie.
"Dit sal net groter onbetrokkenheid in die hand werk."
Sy sê base moet bepaal waar die persoon verlore geraak het en wat gedoen kan word om hom terug te bring. Is die persoon steeds op die regte plek in die maatskappy? Of is dit beter om weë te skei?

"Leiers skram dikwels van eerlike gesprekke weg en hoop die situasie sal vanself regkom; wat nie gebeur nie," verduidelik sy.
Luidens Gallup se navorsing is bestuurders vir hul werknemers se vlak van betrokkenheid verantwoordelik.
Organisasies behoort bestuurders af te rig om 'n aktiewe rol te speel in betrokkenheidsprogramme vir hul werknemers, bestuurders tot verantwoording te roep, te kyk watter vordering hulle maak en te verseker dat hulle deurlopend daarop fokus om hul ondergeskiktes emosioneel betrokke te hou.
Dié artikel is 'n uittreksel uit 'n artikel in die 10 Augustus-uitgawe van Finweek, wat vanaf 4 Augustus op die rakke is. Ook in hierdie uitgawe:
- Wat Suid-Afrika se bure die land jaarliks kos
- Simon Brown deel 12 aandelemenings















