Alle aanlyn platforms van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is buite werking weens 'n hofuitspraak teen sy aanlyn diensverskaffer.
'n Tussentydse interdik is Vrydag deur die hooggeregshof in Pretoria teen die diensverskaffer uitgereik wat die maatskappy met onmiddellike ingang verbied om aanlyn dienste te verskaf.
Aanlyn dienste op al die WVF se platforms word deur die ontwrigting geraak, insluitend uFiling, ongestruktureerde aanvullingsdiensdata (USSD), Virtual Office sowel as die WVF se Covid-19-Ters-stelsel.
Nomakhosazana Meth, minister van werkskepping en arbeid, het die uitspraak in 'n verklaring verwelkom en kliënte en rolspelers van die WVF verseker dat die kapasiteit by die WVF se dienspunte opgeskerp en openingstye verleng sal word om te verseker alle aansoeke en vertoë word betyds verwerk.

"Ons verwag die ontwrigting sal aanleiding gee tot verhoogde volumes van kliënte by ons dienspunte. Ons wil dus opreg verskoning vra aan ons kliënte en belanghebbendes vir die vertragings en enige ongerief wat spruit uit die ontwrigting met die WVF se aanlyn platforms."
Meth is voornemens om saam met die administrasie en entiteite van die departement te werk om tot die kern te kom oor wat tot die situasie gelei het sodat dit nie weer gebeur nie.
"Ons doen 'n oproep om geduld en samewerking deur alle lede van die publiek en belanghebbendes in dié tyd. 'n Aankondiging sal weldra aan die publiek gekommunikeer word oor die hervatting van die aanlyn dienste," sê sy.












