Selfs te midde van groot werksverliese en moeilike ekonomiese omstandighede bedank 16% meer werkers nou uit hul poste as voordat Covid-19 uitgebreek het.
René Richter, besturende direkteur van die Old Mutual-filiaal Remchannel, sê dit is vir baie maatskappye 'n stryd om talent te lok én te behou.
"Maatskappye verloor dikwels uit die oog dat dit baie duur is om sleutel- uitvoerende poste te vul wanneer so 'n persoon bedank. Gestel 'n uitvoerende hoof wat R2 miljoen 'n jaar verdien het, bedank en dit neem 12 weke om die pos te vul - en dis optimisties; dit vat gewoonlik twee keer so lank. Die geld wat dit die maatskappy in omset kos, is dikwels byna net soveel."
Met die skerp styging in bedankings kan dit 'n aardige uitwerking op maatskappye se winsmarges hê wanneer daar so 'n groot arbeidsomset is, sê sy.
"Die talentoorlog is 'n werklikheid. 'n Mens sou verwag dat minder mense sou bedank in 'n omgewing van hoë werkloosheid en 'n moeilike ekonomie, maar die teenoorgestelde het gebeur."
Richter het die afgelope week deelgeneem aan 'n paneelbespreking van Old Mutual Corporate oor werknemerwelstand, die toekoms van die werkplek en die invloed van emosionele uitbranding en as werkers nie verlof neem nie op maatskappye se omset.
'n Mens sou verwag dat minder mense sou bedank in 'n omgewing van hoë werkloosheid en 'n moeilike ekonomie, maar die teenoorgestelde het gebeur.
— René Richter van Old Mutual
In 'n onlangse peiling deur Outsized, 'n platform vir vryskutwerkers en onafhanklike konsultante, is bevind 30% van die toekomstige arbeidsmag - veral gegradueerdes met spesiale vaardighede - beplan om onafhanklike kontrakwerk te doen eerder as om aan een maatskappy gebind te wees.
Johann van Niekerk, besturende direkteur van Outsized in Suid-Afrika, sê wanneer maatskappye hul stemme gaan dik maak en daarop aandring dat hul werkers terugkeer kantoor toe, sal baie nie daaraan gehoor gee nie, want hulle besef hulle kan meer geld verdien en 'n groter verskeidenheid werk doen as hulle onafhanklike kontrakteurs is.
LEES OOK: Terugkeer kantoor toe gaan dalk baie mense laat bedank
Veral mense met vaardighede in gebiede soos aktuariële en data-wetenskap, sakebestuur en digitale bemarking kan so 'n besluit neem.
In Outsized se peiling onder 200 gegradueerdes met minstens vyf jaar werkondervinding is bevind 81,5% dink aan vryskutwerk vir 'n beter balans tussen hul werk- en private lewe, meer buigsaamheid en beter vergoedingsmoontlikhede.
Richter sê dis juis die behoefte aan buigsaamheid en 'n meer gebalanseerde bestaan wat maak dat baie werkers 'n ander professionele heenkome soek. Voorlopige navorsing toon werkers haas hulle nie terug kantoor toe nie.
"Mense wil nie meer in 'n boks gesit word nie. Dit maak dat hulle hul loopbaanvooruitsigte herevalueer en so verloor maatskappye talent."
LEES OOK: Só lyk 2022 se verhogings dalk
Intussen begin al hoe meer maatskappye oorskakel na 'n gemengde werkswyse van kantoorwerk en tuiswerk.
Nedbank het vier maande gelede aangekondig hy het 'n hibriede werkswyse ingestel. Deloitte het die afgelope week in 'n verklaring gesê sy werkers sal toegelaat word om hul werkstyd te verdeel tussen 'n Deloitte-tak en dié van 'n kliënt (afhangend van die soort pos) of 'n werkplek oor 'n afstand van hul keuse.
Uitbranding
Intussen waarsku versekeraars en mediese fondse van 'n pandemie van geestesongesteldheid wat aan die posvat is onder Suid-Afrikaners. FMI, 'n lewensversekeraar, het in 'n onlangse verslag oor versekeringsuitbetalings gesê eise vir inkomstebeskerming was die naashoogste van alle uitbetalings en dié soort eise was onder meer weens die voorkoms van angs, depressie en emosionele uitbranding.
In baie gevalle is mense se emosionele uitbranding te wyte aan lang werkure en die feit dat hulle nie verlof neem nie.
Richter sê maatskappye wat dit nog nie gedoen het nie, behoort dit te oorweeg om 'n beleid in te stel wat werkers sal verplig om verlof te neem as dit tot 'n sekere getal dae ophoop óf dit te verbeur. So 'n beleid help om emosionele uitbranding te help bekamp, maar is ook voordelig vir maatskappye wat hul balansstate moet beskerm.
In navorsing wat Remchannel in 2013 onder mynhuise gedoen het, is bevind dit kos die firmas R8,5 miljard wanneer hulle verlof moet uitbetaal.
Dieselfde navorsing is verlede jaar gedoen en dit het met R2,4 miljard toegeneem. "Vanuit 'n likiditeitsoogpunt is dit baie nadelig, veral nou wanneer maatskappye daarop ingestel is om te oorleef en werksverliese te beperk," aldus Richter.
Vicky Tlhabanelo, mensehulpbronnehoof by Royal Bafokeng wat ook aan die paneelbespreking deelgeneem het, sê dit is lynbestuurders se verantwoordelikheid om toe te sien dat hul spanlede gereeld verlof neem.



















