
Die grootbase van Suid-Afrikaanse maatskappye verdien gemiddeld byna 180 keer méér as die gemiddelde Suid-Afrikaner, volgens Bloomberg se jongste vergoedingsindeks.
Dit maak Suid-Afrika die land met die vierde grootste verskil in inkomste tussen topbestuurders en gewone mense.
Bloomberg se indeks vergelyk die gemiddelde salaris van genoteerde firmas se uitvoerende hoofde met die bruto binnelandse produk (BBP) per capita in dollar weergegee, maar aangepas vir koopkragpariteit.
Volgens die indeks verdien die gemiddelde uitvoerende hoof $2,2 miljoen per jaar en is die BBP per capita $12 270 per jaar.
Suid-Afrika en China is die enigste ontwikkelende lande onder die tien lande met die hoogste inkomsteongelykheid.
Die tien lande met die grootste verskil tussen uitvoerende hoofde en die gemiddelde inwoner is:
- VSA: 265 x
- Indië: 229 x
- Brittanje: 201 x
- Suid-Afrika: 180 x
- Nederland: 171 x
- Switserland: 152 x
- Kanada: 149 x
- Spanje: 143 x
- Duitsland: 136 x
- China: 127 x
In 'n alternatiewe maatstaf van uitvoerende hoofde se vergoeding, waar dit gemeet word teen die markwaarde van die grootste aandelebeurs in die betrokke land, lê Suid-Afrika op nr. 18 uit die 22 lande wat gemeet is, met 'n indekspunt van 62. Die VSA, met 'n indekspunt van 401, is ook boaan dié lys.
Die uitvoerende hoofde van genoteerde Amerikaanse maatskappye verdien gemiddeld $14,25 miljoen per jaar.



















