Die Levy-broers Brett en Mark is deeglik vergoed vir Blu Label Unlimited (BLU) se suksesvolle 2025-boekjaar.
Luidens die maatskappy se jongste jaarverslag, wat vandeesweek uitgereik is, het die twee medestigters en mede- uitvoerende hoofde gesamentlik R74,8 miljoen verdien.
BLU is een van Suid-Afrika se vernaamste verskaffers van voorafbetaalde dienste, soos vir krag en selfoonlugtyd.
Die Levy-broers is in die afgelope boekjaar R37,4 miljoen elk betaal en het veral munt geslaan uit korttermyn-aansporings wat aan hulle gebied is.
’n Gewaarborgde betaling van R12,4 miljoen is deur R10 miljoen se voorwaardelike toewysings van aandele en R15 miljoen se aansporings aangevul.
Die oorhoofse gesamentlike vergoeding van R74,8 miljoen is bykans 80% hoër op ’n jaargrondslag.
LEES OOK | Cell C op JSE: Dít is waarom agteros nou wil noteer
Die jaarverslag toon BLU se deursettingsvermoë sedert hy in 2017 ’n belang van 45% in ’n struikelende Cell C bekom het, het vrugte afgewerp.
Nadat BLU twee jaar later afskrywings van R2,5 miljard weens sy belang moes absorbeer, is Jorge Mendes uiteindelik in 2023 as Cell C se uitvoerende hoof aangestel om die selfoonoperateur reg te ruk.
In die 2025-boekjaar was Cell C winsgewend en boonop blyk sy notering op die JSE ’n blote formaliteit te wees.
Die netwerkoperateur se gesonder finansies het ook beteken BLU kon vorige afskrywings verhaal, en die groep se wesensverdienste per aandeel het met 260% gestyg.
Selfs as die hupstoot van Cell C se uitslae uitgesluit word, het BLU se kernverdienste in die 2025-boekjaar met 128% gestyg.
BLU se markwaarde beloop nou R11,5 miljard op die JSE, ’n toename van 145% op ’n jaargrondslag.







