
Tot 15% van Netwerk24 se lesers werk by ondernemings wat Vrydag hul deure gesluit het te midde van die optogte teen pres. Jacob Zuma.
Uit 'n klein peiling blyk dat altesame 39% van werknemers gewone (dus betaalde) verlof kon vra om die betogings by te woon.
Dié mense kan egter onderverdeel word, met 13% van die totale aantal deelnemers aan die peiling wat aandui verlof is nie toegestaan aan almal wat daarvoor aansoek gedoen het nie. Dit beteken nagenoeg 13% van die ondernemings hou hul deure oop en het 'n minimum getal personeellede wat die fort moet hou.
Die toestaan van betaalde verlof is altyd die prerogatief van die werkgewer, wat bedryfsvereistes in ag moet neem. Dit mag uiteraard nie onbillik geweier word indien bedryfsvereistes dit moontlik maak nie.
'n Hele 28% van Netwerk24-lesers sê hulle sou onbetaalde verlof moes neem indien hulle wou gaan betoog.
Nog 19% sê hul maatskappy se verlofbeleid vir die betogings val nie in enige van die bogenoemde kategorieë nie.
Die peiling is Donderdagaand gedoen en net 47 mense het deelgeneem, wat dit nie noodwendig 'n verteenwoordigende peiling maak nie.
Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) het Donderdag gewaarsku dat mense wat wil betoog nie sonder toestemming van die werk af moet wegbly nie. Hulle sal dissiplinêr vervolg kan word en sal waarskynlik ook 'n dag se vergoeding verloor.
Mense wat uit vrees van die werk af wegbly, mag ook betaalde verlof geweier word.


















