’n Peiling onder langasems wat Sondag aan die Kaapstad-marathon sou deelgeneem het, toon dat twee derdes van hulle – ongeag die organiseerders se veiligheidsvrese – bereid was om die pad aan te durf sou hulle die keuse gehad het.
Dié wedloop is volgens die organiseerders afgestel omdat ’n stormsterkwind oornag skade aan infrastruktuur by die begin- en eindpunt, asook langs die roete aangerig het. Gevolglik sou dit die veiligheid van deelnemers, toeskouers en beamptes in die gedrang gebring het as voortgegaan is met die marathon.
Toe die aankondiging gedoen is dat die wedloop nie meer sou plaasvind nie, was baie van die verwagte 24 000 deelnemers reeds naby die wegspringpunt.
Binne 10 uur ná die kansellasie van die Kaapstad-marathon het die navorsingsfirma Yazi, ’n tegnologie-onderneming wat in die Moederstad gesetel is en spesialiseer in WhatsApp-gebaseerde peilings, ’n opname onder die deelnemers gedoen.
Teen Maandagoggend het 518 deelnemers hul perspektiewe gegee oor Sondag se gebeure.
Die mees verrassende bevinding is dat 67% van die respondente aangedui het hulle sou steeds gehardloop het as hulle ’n keuse gehad het.

“Ek dink hulle kon die veiligheidsaspekte aan hardlopers verduidelik en ons ’n opsie gegee het,” het een deelnemer volgens Yazi se verslag geskryf.
Nog ’n deelnemer het gesê: “Hulle kon minstens die wedloop se wegspringtyd tot later in die dag herskeduleer het.”
Die bevindings dui daarop dat deelnemers die veiligheidskwessies verstaan en aanvaar het, maar nie daarmee tevrede was dat hulle nie by die besluitnemingsproses betrek is nie.
‘Vertraging sou beter as kansellasie gewees het’
Toe respondente gevra is hoe die organiseerders die situasie beter kon hanteer het, het 40% gesê die wedloop moes met ’n uur tot twee uur vertraag gewees het eerder as om dit heeltemal te kanselleer.
“Die wind het om 07:00 bedaar. So as daar ’n vertraging aan die begin was, kon ons steeds gehardloop het,” het een deelnemer opgemerk.
’n Beduidende 36% van die respondente het onvoldoende beplanning vir die weer en infrastruktuurvoorbereiding as kernkwessies uitgelig.
“Oktober is een van die winderigste maande in Kaapstad en dit was roekeloos om die marathon se banier, wat in werklikheid ’n reuse-seil is, op te rig,” skryf ’n deelnemer, met verwysing na die bemarkingstrukture wat deur die wind omgewaai is.
’n Ander respondent het botweg gesê: “Kaapstad is ’n winderige stad, almal weet dit. Die probleem kon vermy geword het. Vandag was nie die winderigste dag in die geskiedenis van Kaapstad nie en die organiseerders kon beter beplan het.”
Verskeie deelnemers het die situasie vergelyk met die Kaapstad-fietstoer, wat gereeld in uitdagende windtoestande plaasvind.
“Die Kaapstad-fietstoer het al in baie slegter toestande plaasgevind – ons sou oorleef het,” skryf nog ’n deelnemer.
Byna 20% van die respondente het die organiseerders se kommunikasie met deelnemers as ’n groot mislukking beskou.
“Die aanvanklike aankondiging oor die kansellasie het vae “veiligheidsredes” aangehaal sonder om die windtoestande te spesifiseer, wat baie laat bespiegel het oor terrorisme of ander bedreigings,” skryf ’n deelnemer.
‘49% sal in 2026 terugkeer’
Deelnemers verduidelik dat proaktiewe kommunikasie die vorige dag reeds nodig was. “Hulle moes ’n boodskap gestuur het wat sê dat daar ’n kans is dat hulle die wedloop sou moes kanselleer en dat ’n finale besluit om 05:00 (die volgende oggend) geneem sou word. Hulle moes verduidelik het wat presies die veiligheidskwessies was. Ons het almal gedink dit was ’n bom.”
Ten spyte van die teleurstelling, toon die navorsing dat 49% van die deelnemers beplan om “beslis” in 2026 terug te keer, met ’n bykomende 20% wat “miskien” aangedui het.
Die res van die respondente was onseker of het gesê hulle sou nie weer volgende jaar deelneem nie.
Deelnemers van Johannesburg en Pretoria, wat ver moes reis en baie moes opdok om in Kaapstad tuis te gaan, was minder entoesiasties oor die idee om volgende jaar weer te kom probeer. Slegs 31% van die respondente van Pretoria sal terugkeer, terwyl 39% van die Goudstad aangedui het hulle sal weer so maak. Altesame 61% van die respondente wat in Kaapstad woon, het gesê hulle sal in 2026 deelneem.
Respondente is ook gevra oor die tipe kompensasie wat hulle sou wou hê. Daar is soos volg geantwoord:
• 37% wil voorkeurtoegang vir 2026 hê;
• 23% wil ’n volle terugbetaling vir hul inskryfgeld hê;
• 13% wil reiskostevergoeding hê;
• 7% wil ’n gedeeltelike terugbetaling hê.
Daar is egter ook ’n handjievol respondente (6%) wat net ’n deursigtige verduideliking wou hê, terwyl 6% niks van die organiseerders terugverwag het nie.
Een deelnemer het ’n virtuele wedloop voorgestel. “Ek wil ’n virtuele wedloop hê – deelnemers kan hul eie wedloop hardloop en opneem en indien binne die wedlooptyd, kan hulle hul 2025-medalje kry.”
3878












