‘Ek bedank! Nee, wag – ek bedank nié!’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
As jy bedank, selfs net verbaal, kan jou werkgewer dit as finaal beskou. Foto: Unsplash
As jy bedank, selfs net verbaal, kan jou werkgewer dit as finaal beskou. Foto: Unsplash

Wie het nie al in 'n oomblik van frustrasie met 'n werksituasie gedreig om te bedank en dalk selfs jou sak gegryp en by die deur uitgestap nie?

Meestal kom 'n mens gou tot bedaring en besef bedanking is nie nodig of moontlik nie - en die werk gaan aan.

Wees egter maar versigtig om die woorde "ek bedank" ligtelik te gebruik - 'n onlangse hofuitspraak het bevestig dat jy dit kan probeer terugtrek, maar jou werkgewer kan dalk net eerder jou bedanking aanvaar.

Selfs indien jou baas besluit om jou jou impulsiewe bedanking te vergewe, moet jy tegnies heraangestel word - wat beteken jou salaris en ander diensvoorwaardes kan heronderhandel word!

Kgodisho Phashe, arbeidsregkenner van Cliffe Dekker Hofmeyr, sê 'n bedanking kan nie eensydig teruggetrek word nie. As jy bedank het, beëindig dit jou werkverhouding.

"As jy in die hitte van die oomblik weens woede of enige ander rede bedank het, kan jy nie 20 minute later terugkom en sê jy het dit nie bedoel nie."

Jou werkgewer moet instem dat jy jou bedanking terugtrek, maar die regsimplikasie is dat jy dan heraangestel word en nie net in jou pos herstel word nie.

Dit is nie outomaties dat jy op dieselfde vergoeding en ander voorwaardes aangestel gaan word nie.

—  Kgodisho Phashe van Cliffe Dekker Hofmeyr

"Dit is dus nie outomaties dat jy op dieselfde vergoeding en ander voorwaardes aangestel gaan word nie."

Phashe sê Suid-Afrika se regspraak aanvaar verbale kontrakte, wat beteken selfs al is jou bedanking nooit op skrif gestel nie, is dit geldig as jy die woorde geuiter het.

Jou bedanking word ook nie ongeldig indien jy versuim om jou kennistyd uit te werk nie, volgens die hofuitspraak.

Dis wel nie 'n bedanking as jy net jou sak gryp en huis toe gaan ná 'n onderonsie nie.

"Die howe sal kyk of daar 'n ondubbelsinnige bedoeling was om te bedank," sê Phashe.

Dit beteken egter nie jou baas mag jou nie berispe of selfs dissiplinêr verhoor as jy by die werk uitgestorm het en jou pos verlaat het nie.

Nog 'n belangrike punt wat in die hofsaak bepaal is, is dat jy net heraangestel kan word deur iemand wat die nodige gesag het om dit te doen. Jy kan nie jou bedanking indien en dan vir 'n kollega of junior bestuurder vra of jy dit kan terugtrek nie.

Die terugtrek van jou bedanking kan slegs aanvaar word deur iemand wat die gesag het om dit te doen. Wie dít is, sal van werkplek tot werkplek wissel - dit kan 'n senior bestuurder of iemand in die mensehulpbronafdeling wees.

Phashe sê daar is nie wetgewing wat bepaal wie aanstellings mag doen of bedankings (of die terugtrek van bedankings) kan aanvaar nie.

Wenke aan werknemers

  • Indien jy ernstig is om te bedank, gee kennis soos in jou dienskontrak vasgestel is. Vir die meeste werknemers beteken dit 'n kalendermaand kennis. Dus moet jy teen die eerste dag van 'n kalendermaand kennis gee en jou kennismaand uitwerk en nie net enige 30 dae nie. Dit kan ook drie of ses kalendermaande wees vir senior werknemers.
  • Indien jy oor enigiets ongelukkig is, oorweeg ander prosesse wat jy kan volg, soos grieweprosedures, voordat jy net bedank.

Wenke vir werkgewers

  • Klaar uit wie die magtiging het om bedankings (of die terugtrek daarvan) te aanvaar.
  • Lig werknemers in oor hoe hul diensvoorwaardes werk, insluitend bedanking.

Hang dissiplinêre verhoor oor jou kop?

Indien jy bedank omdat jy deur 'n dissiplinêre verhoor in die gesig gestaar word, vrywaar jou bedanking jou nie noodwendig daarvan nie.

Die dissiplinêre verhoor mag in jou kennismaand gehou word. Indien die proses reeds begin is, mag dit ook voltooi word selfs nadat jy jou kennismaand uitgewerk het. Dissiplinêre prosesse kan egter nie begin word nadat jy reeds by die maatskappy weg is nie.

Indien 'n misdaad gepleeg is en dit by die polisie aanhangig gemaak is, sal bedanking jou egter nie beskerm nie.

Oor die hofsaak

Die spesifieke hofsaak wat die vraag beantwoord het of jy 'n bedanking kan terugtrek, was Mohlwaadibona vs. Dr. J.S. Moroka-munisipaliteit, waaroor die arbeidshof in Maart uitspraak gelewer het.

Monareng Mohlwaadibona was 'n adjunk- finansiële amptenaar by die betrokke munisipaliteit in Mpumalanga. Hy is in 2019 aangestel.

Hy het op 1 April 2021 weens 'n beweerde agteruitgang in sy gesondheid bedank, maar nooit gesê wat hom makeer nie.

Hy het op 15 April sy bedanking teruggetrek, glo omdat sy toestand "wonderbaarlik" verbeter het. B.M. Mhlanga, administrateur van die munisipaliteit, het dit nie aanvaar nie. Die munisipaliteit is in 2020 deur die tesourie onder administrasie geplaas, wat die administrateur die mees senior gesag by die munisipaliteit gemaak het.

Mohlwaadibona het nietemin op 19 April vir werk opgedaag en aan Frans Monkoe, waarnemende munisipale bestuurder, gesê hy het sy bedanking teruggetrek. Dié het dit middel Mei aanvaar.

Regter Graham Moshoana het bevind Monkoe het nie die gesag gehad om die terugtrek van die bedanking te aanvaar of Mohlwaadibona in sy pos te herstel nie omdat hy ondergeskik aan Mhlanga was.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

CTA