
Verlede week het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) se tugkomitee Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, se lidmaatskap van die instituut beëindig. Dit beteken hy mag nie meer as 'n geoktrooieerde rekenmeester (GR) werk nie.
Saica het hom skuldig bevind aan growwe nalatigheid, oneerlikheid en gebrekkige verantwoordbaarheid, asook aan ernstige oortredings van die Saica-gedragskode.
Dié stappe teen Singh is 'n voorbeeld van hoe Saica as waghond werk om vertroue in die beroep van geoktrooieerde rekenmeester te bou en te verseker dat al sy lede, ongeag die rol wat hulle vervul, hulle opnuut daartoe verbind om in die openbare belang op te tree. In dié strewe laat Saica geen steen onaangeroer om op te tree teen enige GR wat sy reëls oortree nie, sê Robert Zwane, senior bestuurder van nasionale projekte.
Zwane sê die instituut benadruk dit aan sy lede in die openbare én die private sektor dat hulle hul in 'n vertrouensposisie bevind.
Die beroep het sy oorsprong daarin om beleggers en Jan Alleman teen beginsellose boekhouding te beskerm en vandaar die hoë standaarde en streng gedragskode.
Zwane sê die meeste Saica-lede neem hul verantwoordelikheid ernstig op en verdien die publiek se vertroue deur hul professionele en etiese optrede. Ongelukkig, sê hy, het verskeie skandale die laaste paar jaar - oor swak korporatiewe bestuur waarin GR's versuim het om beweerde staatskaping aan die kaak te stel - hewige kritiek teen die bedryf ontlok.
Hy sê sulke Saica-lede kompromitteer die land se openbare en staatsinstellings en die breë ekonomie.
Die instituut het ná dié skandale groot veranderinge ingestel soos die hersiening van onder meer sy grondwet. 'n Nuwe voorsitter en direksie is aangestel en sluit die eerste keer onafhanklike rekenmeesters in wat nie GR's is nie.
Zwane sê die integriteit van die finansiële markte en die veiligheid van Suid-Afrikaners se spaargeld en beleggings hang af van goeie korporatiewe beheer en vertroue in resultate wat geoudit is. Waar verantwoordbaarheid ontbreek ly beleggers skade en dit skend vertroue in die integriteit van maatskappyresultate.

"Ampsoortredings en gebrekkige korporatiewe bestuur is onaanvaarbaar," sê hy.
Die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) ondersoek alle beweerde ampsoortredings waarby firmas betrokke was en Saica ondersoek individue wat moontlik oortree het.
Buiten tugstappe kan strafregtelike klagte teen GR's ingedien word.
Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van Saica, het in 'n verklaring gesê met dié stap bevestig die instituut sy verbintenis daartoe om lede verantwoordbaar te hou en om in die openbare belang op te tree.
Volgens Zwane moet alle belanghebbendes bedag wees op moontlike misdrywe. Beleggers, firmas se personeel en gemeenskappe moet die bestuur en direksies se optrede fyn dophou. Daarby moet fondsbestuurders en ontleders die regte vrae vra en die syfers fynkam en direksies - wat toesig hou oor 'n maatskappy se bestuur om belangegroepe te beskerm - moet noukeurig in hul werk wees.
"Om misdadige gedrag te keer moet al dié elemente in die toesig-ekosisteem beter saamwerk."
Hoewel Saica sonder vrees of vooroordeel optree, neem sy ondersoeke lank omdat die instituut met bewese feite moet werk.
Zwane sê Saica sal altyd sy rol vervul om etiese en professionele gedrag in die openbare en die private sektor te bevorder, maar verantwoordbaarheid en interne beheer in die staatsdiens kan nie verbeter word as staatsamptenare in finansiële departemente nie die nodige vaardighede het om die interne beheermaatreëls toe te pas nie.
Hy sê proaktiewe oplossings is nodig om sy lede in die openbare sektor met die gepaste vaardighede toe te rus en dit kan in vaardigheidsontwikkelingsprogramme hanteer word.
Integriteit eerste
Die fundamentele beginsels van die Saica-kode is:
- integriteit;
- objektiwiteit;
- professionele vaardigheid en die nodige sorg;
- vertroulikheid; en
- professionele gedrag.
Saica sal sy lede voortdurend onderwerp aan strawwe opleidingsprosesse - volgens internasionale standaarde - en lewenslange opleiding sodat hulle kan aanpas by die veranderende wêreld.




















