Gesoek: Ons het poste!

Vervaardiging, konstruksie en die staatsdiens het nou minder werknemers as in die eerste kwartaal van die jaar. Foto: Getty Images
Vervaardiging, konstruksie en die staatsdiens het nou minder werknemers as in die eerste kwartaal van die jaar. Foto: Getty Images

Byna dubbel soveel poste is in die eerste drie maande van vanjaar in Suid-Afrika geadverteer as in 2020 kort voordat die pandemie uitgebreek het.

Een rede daarvoor is dat baie Suid-Afrikaners wat hul werk verloor het hul eie ondernemings begin het en nou mense wil aanstel soos hulle groei, sê Sasha Knott, uitvoerende hoof van Job Crystal, 'n aanlyn werwingsagentskap.

"Daar is baie poste in Suid-Afrika wat daagliks op die internet geadverteer word, maar maatskappye wat nuwe rekrute aanstel, is baie spesifiek oor die soort kandidate wat hulle soek."

'n Voorbeeld van presies hóé uitsoekerig adverteerders kan wees, is 'n advertensie vir 'n kliëntedienspos op Bizcommunity. Die eerste vereiste is jy móét 'n kat hê én mal wees oor die diere. "Hierdie pos is vir iemand wat passievol is oor kliëntediens én katte," lui die advertensie.

Suksesvolle kandidate kan tussen R10 000 en R12 000 per maand by die Britse katkosvervaardiger verdien.

Knott sê in Suid-Afrika is die meeste internetsoektogte vir poste vir dié van inbelsentrum-agente.

Die soektogte kom dikwels van jong gegradueerdes, matrikulante en selfs dié sonder matriek.

"Veral gegradueerdes moet hul verwagtings dikwels inkort. Hulle dink hulle sal met 'n sakekwalifikasie in 'n bestuurspos instap, maar dan kry hulle net werk as 'n intern in 'n inbelsentrum."

In ander dele van die wêreld lyk internet-werksoektogte anders.

Die aanlyn werwingsagentskap Seoforhire sê in Brittanje was die vierde gewildste pos wat gegoogle is vir dié van 'n tronk-amptenaar, met meer as 90 000 soektogte.

Die mees gesoekte pos onder Britte was vir 'n onderwys-assistent (287 400).

In Europa is die gewildste soektog vir vertalersposte - veral deur Spanjaarde. 'n Vertaler kan 'n jaarlikse salaris van ongeveer €19 715 (sowat R327 000) verdien.

Met werkloosheid in Suid-Afrika op 'n rekordvlak van byna 35% is daar wel een sektor waar gekwalifiseerde aansoekers die kitaar slaan - in die IT-bedryf.

"Programmeerders het die hef in die hand en hulle kan byvoorbeeld eise stel oor presies waar hulle wil werk. Ons het ongelooflike kundigheid in Suid-Afrika aan die tegnologiefront, maar oorsese maatskappye raap hierdie werkers op. Hulle vang vis in ons water, want ons mense het ongelooflike talent," sê Knott.

Liesl Peyper

SPELETJIES VANDAG

CTA