Beroepe

Maak ’n MBA nog vir jou deure oop?

Daar was tye dat 'n MBA-kwalifikasie agter jou naam vir jou deure oopgemaak het na 'n toppos in die korporatiewe wêreld. Of mense het die meestersgraad in sakeadministrasie bloot aangepak as 'n intellektuele en persoonlike uitdaging, soos om die Comrades te wil hardloop.

Die kampus van die Gordon Institute of Business Science in Pretoria.
Die kampus van die Gordon Institute of Business Science in Pretoria.

Sedert die Universiteit van Kaapstad (UK) 50 jaar gelede sy eerste MBA aangebied het, is daar al baie gevra of die MBA-graad nog dieselfde "open sesame"-kragte het.

Met die Henley Business School in Brittanje wat onlangs sy voltydse MBA-program vir die 2019-'20- akademiese jaar gekanselleer het weens 'n gebrek aan belangstelling, herbesin ander sakeskole ook oor hoe toepaslik en blywend dit nog is. Volgens Henley verkies mense nou eerder korter of gespesialiseerde kursusse wat meer kostedoeltreffend is as die duurder MBA.

Henley is die eerste Britse akademiese instelling wat sy voltydse MBA-program skrap.

Volgens Kosheek Sewchurran, tussentydse direkteur van die UK se Nagraadse Sakeskool is daar ook in Amerika 'n groeiende tendens waar aansoeke vir MBA-kursusse verlede jaar met 7% gedaal het. Dit was die vyfde agtereenvolgende jaar van dalende aansoeke.

Segran Nair, direkteur van oop akademiese programme by die UK-sakeskool, erken daar is by die UK ook 'n afname in voltydse MBA-studente. Die tendens is 'n groeiende vraag na meer gespesialiseerde kursusse soos die MCom in ontwikkelingsfinansiering en die MPhil in inklusiewe innovering wat meer aansoeke kry as wat hulle kan huisves.

Martin Butler, hoof van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) se MBA-program, sê inskrywings by hul program groei nog die afgelope drie jaar teenoor die meeste ander sakeskole se stagnasie of afname in studentegetalle. Hy skryf dit toe aan spesialisrigtings wat binne die MBA-program aangebied word.

Hoewel die MBA steeds die grootste van die 13 nagraadse studieprogramme by die USB is, sê Butler dit neem af in relatiewe belangrikheid namate die ander programme goed vaar.

Voltydse MBA-programme vir mense wat reeds werkervaring het sukkel wêreldwyd. Die USB se gemengde MBA-program lok wel meer aansoeke as wat hy kan hanteer.

Die toekoms van bestuursopleiding is dalk virtueel en aanlyn met pakkette waar jy jou eie MBA-kursus soos Lego-blokkies saamstel in samewerking met internasionale virtuele spanne.

—  Martin Butler

Butler glo die beroepswêreld besef al hoe meer dat alle MBA-kursusse nie dieselfde is nie. Sommige MBA's is nie internasionaal geakkrediteer nie, terwyl sommige instellings 'n nagraadse diploma en 'n MBA binne twee jaar probeer inprop.

"Die vraag of die MBA gaan oorleef, word al die afgelope 25 jaar gevra. Die toekoms van bestuursopleiding is dalk virtueel en aanlyn met pakkette waar jy jou eie MBA-kursus soos Lego-blokkies saamstel in samewerking met internasionale virtuele spanne. So ons hou internasionale tendense dop om ons programme aan te pas om aan studente en die mark se vraag te voldoen."

Volgens Butler pas hulle die struktuur van hul kursusse op formele vlak elke vyf tot ses jaar aan. Die programme self word elke jaar tot twee jaar aangepas in reaksie op markvraag, studenteterugvoering en internasionale tendense, en op modulêre vlak kan inhoud en prosesse letterlik daagliks, weekliks en maandeliks aangepas word.

Prof. Louise Whittaker, uitvoerende direkteur van akademiese programme by Tukkies se Gordon Institute of Business (Gibs), sê hulle sien steeds volgehoue vraag na hul MBA-kursusse, veral die deeltydse en modulêre formate.

"Ons is deeglik bewus van die geleentheidskoste en risiko om in 'n brose ekonomie jou werk op te gee om voltyds te studeer," sê Whittaker oor waarom Gibs sy voltydse MBA-kursus nou aangepas het van 'n vyf-dag-per-week-kursus na 'n intensiewe modulêre kursus. Studente loop nou tien tot 12 dae op 'n keer klas, met die res van die tyd wat vir take, spanwerk en eksamenvoorbereiding toegeken word.

Gibs volg ook die internasionale tendens om binne die MBA te spesialiseer. 'n Voorbeeld hiervan is die fokus op vervaardiging wat met die Toyota Wessels Instituut vir Vervaardigingstudies in KwaZulu-Natal as vennote begin is. In Februarie het 22 studente dié program begin, sê Whittaker.

Gibs het ook twee nuwe meestersprogramme geskep vir mense wat 'n meer gespesialiseerde en navorsingsgerigte alternatief tot die MBA soek. Dit is 'n MPhil in internasionale sake en 'n MPhil in korporatiewe strategie.

MBA-studentegetalle by van SA se sakeskole

Gibs: Daar is net meer as 300 studente in die deeltydse en modulêre programme en sowat 30 in die voltydse program;

USB: Daar is 181 studente in die deeltydse programme en 33 in die voltydse program.

UK: Daar is 161 studente in totaal

(Noordwes-Universiteit se sakeskool is ook genader vir inligting, maar dit is nog nie teen druktyd ontvang nie.)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM