Prominente universiteite oor die land heen se studenterade (SR’e) span nou saam om “die toenemende krisis rakende studenteverblyf” en “die katastrofiese mislukking” van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se perk op studenteverblyfkoste aan te pak.
Die SR’e van die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit Stellenbosch het Maandag ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle hul misnoeë met die verblyfkwessies uiteensit.
“Studenteverblyf en klasgeld gaan hand aan hand. Hulle is fundamenteel vir akademiese sukses en kan nie voortdurend as ’n wapen gebruik word om studente uit te buit nie,” lui die verklaring.
Hulle meen die departement van hoër onderwys en opleiding en die Mededingingskommissie moet dringend ingryp en universiteitsbehuising moet gesubsidieer word eerder as om as winsgewende meganisme deur instellings gebruik te word.
Hulle eis onder meer in die verklaring dat die NSFAS sy verblyfkosteperk onmiddellik moet skrap, aangesien hulle meen dit nie soos verwag verskaffers van verblyf dwing om hul pryse te verlaag nie, maar studente oorlaat “om te ly onder die stygende verblyfpryse.
“Die NSFAS-verblyfkostebeperking los nie die kwessie van studenteverblyfkoste op nie,” sê die SR’e.
“Die krisis van buitensporige behuisingskoste raak alle studente, nie net dié wat deur die NSFAS gefinansier word nie, wat beteken dat ’n verblyfkostebeperking nie die oorkoepelende oplossing vir ’n sistemiese probleem kan wees nie.”
Teen Dinsdag het nog ses universiteite se studenterade hul stemme by die aanvanklike vier gevoeg, met die Fort Hare-Universiteit, die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie, die Walter Sisulu-Universiteit, die Universiteit van Venda, die Sol Plaatje-Universiteit en die Nelson Mandela-Universiteit wat sê hulle ondersteun ook die standpunte.
“Die bekommernisse wat in die oorspronklike verklaring geopper is, is nie uniek aan die vier instellings nie. Hulle weerspieël die geleefde werklikheid van studente oor Suid-Afrika se openbare universiteite heen,” lui hul jongste verklaring.
“Die voortgesette instel van die verblyfkosteperk, tesame met die afwesigheid van voldoende regulering van verblyfpryse, het ’n onvolhoubare omgewing geskep wat arm en werkersklasstudente oneweredig raak.”
Tebogo Letsie, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding, het Woensdag in reaksie op die verklaring gesê die SR’e moet hul visier op hul universiteite en die verblyfverskaffers rig eerder as op die NSFAS se verblyfkosteperk.
Hy meen dat die studenteleiers moet ondersoek gaan instel of verblyfkoste billik, deursigtig en in studente se belang is.
LEES OOK | Studenteleiers kry pak ná kritiek oor NSFAS-verblyfperk
Yusuf Cassim, nuwe adjunkminister van hoër onderwys en opleiding wat self in sy studentedae ’n SR-lid was, het egter voorheen aan Netwerk24 gesê hy glo die hele NSFAS-stelsel moet hersien word en uitbetalings gedesentraliseer word en moet eerder direk deur instellings gehanteer word om “tussengangers en vennote uit te skakel wat baie van die finansiering uit die stelsel suig en die waters vertroebel ten opsigte van doeltreffende bestuur”.

In ’n onlangse radio-onderhoud het hy sy menings herhaal en gesê die huidige hersiening van die NSFAS-wet bied ’n geleentheid om te heroorweeg hoe studentefinansiering bestuur word.
Netwerk24 het die NSFAS om kommentaar oor dié kwessie genader, maar het by publiseringstyd nog geen terugvoering ontvang nie. – karla.vandermerwe@media24.com



















